Handelinge 2:22-36

Handelinge 2:22-36 AFR20

“Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus van Nasaret was 'n man wat deur God aan julle bekend gemaak is deur kragtige dade en die wonders en tekens wat God deur Hom in julle midde verrig het, soos julle self ook weet. Julle het hierdie man, wat deur die vaste plan en voorkennis van God uitgelewer is, deur die hand van wettelose mense gekruisig en doodgemaak. God het Hom egter laat opstaan en van die lyding van die dood bevry, omdat dit onmoontlik was dat Hy deur die dood vasgehou word. Dawid sê immers oor Hom: “ ‘Ek het die Here altyddeur voor my gesien, want Hy is aan my regterkant, sodat ek nie wankel nie. Daarom juig my hart en jubel my tong; ja, ook my liggaam sal in hoop voortleef, want U sal my siel nie aan Hades oorlaat, en u Heilige nie ontbinding laat beleef nie. U het vir my die paaie na die lewe bekend gemaak – deur u teenwoordigheid sal U my met blydskap vervul.’ “Broers, wat die stamvader Dawid betref, kan ek vir julle met sekerheid sê dat hy gesterf het en begrawe is, en sy graf is tot vandag toe by ons. Omdat hy 'n profeet was, en geweet het dat ‘God met 'n eed aan hom beloof het om iemand van sy nasate op sy troon te plaas,’ het hy, in vooruitskouing oor die opstanding van die Christus, gesê: “ ‘Hy is nóg aan Hades oorgelaat, nóg het sy liggaam ontbinding beleef.’ “God het hierdie Jesus laat opstaan – daarvan is ons almal getuies. Nadat Hy tot aan die regterhand van God verhoog is en die belofte van die Heilige Gees van die Vader ontvang het, het Hy die Gees uitgestort, en dit is wat julle sien en hoor. Dawid het immers nie na die hemele opgevaar nie, maar sê self: “ ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand, totdat Ek jou vyande 'n voetbank vir jou voete gemaak het.’ “Laat die hele huis van Israel dan vir seker weet dat God Hom Here en Christus gemaak het – hierdie Jesus wat julle gekruisig het.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid