HANDELINGE 2:22-36

HANDELINGE 2:22-36 Bybel vir almal (ABA)

“Israeliete, julle moet goed luister na wat ek sê: Julle weet dat God vir Jesus van Nasaret groot dinge en wonderwerke en tekens laat doen het toe Jesus by julle was. So het God gewys dat Hy self vir Jesus gestuur het. God het lank gelede besluit en geweet dat Hy hierdie Man sal gee vir die mense wat nie die wette van God ken nie, sodat hulle met Hom kan doen wat hulle wil. Hierdie mense het vir Jesus geneem en hulle het Hom vir julle gegee, en toe het julle Hom gekruisig en vermoor. Maar God het toe vir Jesus vrygemaak van die pyne van die dood, Hy het vir Jesus weer laat lewe. Want die dood kon nie vir Jesus vashou nie. Dawid het dinge gesê oor homself, maar hy het dit ook oor Jesus gesê. Dawid het gesê: “ Ek het die Here altyd voor my gesien, want Hy is hier regs langs my sodat ek nie val nie. Daarom was my hart bly en was my tong baie bly. Ja, ek hoop en ek is seker dat my liggaam sal lewe. Want U sal nie vir my na die doderyk laat gaan nie. Ek is aan U gewy, U sal my nie laat sterf nie. U het vir my geleer hoe om te lewe, ek sal altyd bly wees wanneer U by my is. “Vriende, julle almal weet dat ek reg is as ek vir julle sê dat ons voorvader Dawid gesterwe het en begrawe is, en dat sy graf vandag nog by ons is. Maar Dawid was 'n profeet, en hy het geweet dat God vir hom belowe het dat een van sy nageslag eendag op sy troon sal sit. Dawid het gesien wat later sal gebeur en daarom het hy gesê dat Christus weer sal lewe. Dawid het gesê: “ God het Hom nie na die doderyk laat gaan nie, en sy liggaam het nie gesterf nie. “God het vir Hóm, vir Jesus, weer laat lewe, en ons is almal getuies daarvan. God het vir Jesus opgeneem in die hemel en Hy het gesê dat Jesus op die belangrikste plek langs Hom moet sit. Toe het die Vader vir Jesus die Heilige Gees gegee, die Vader het dit belowe. En Jesus het die Heilige Gees vir ons gegee. Dit is wat julle nou sien en hoor. Want Dawid het nie na die hemel gegaan nie. Dawid sê self: “ Die Here het vir my Here gesê: ‘Jy moet hier langs My sit, op die belangrikste plek, want Ek sal jou vyande verneder, en Ek sal hulle voor jou laat lê sodat jy jou voete op hulle kan sit.’ “Die hele Israel moet nou weet, en dit is seker: Julle het vir Jesus gekruisig, maar God het gesê dieselfde Jesus moet die Here en die Christus wees.”

HANDELINGE 2:22-36 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus, die Nasaréner, 'n man deur God vir julle aangewys met kragte en wonders en tekens wat God deur Hom onder julle gedoen het, soos julle ook self weet — Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring; Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word. Want Dawid sê van Hom: Ek het die Here altyddeur voor My gesien, want Hy is aan my regterhand, dat Ek nie sou wankel nie. Daarom is my hart bly en my tong juig, ja, ook sal my vlees nog rus in hoop. Want U sal my siel nie aan die doderyk oorlaat of u Heilige oorgee om verderwing te sien nie. U het My die weë van die lewe bekend gemaak, U sal My vervul met vreugde by u aangesig. Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe. Omdat hy dan 'n profeet was en geweet het dat God vir hom met 'n eed gesweer het dat hy uit die vrug van sy lendene, wat die vlees betref, die Christus sou verwek om op sy troon te sit, het hy, omdat hy dit vooruit gesien het, gespreek van die opstanding van Christus, dat sy siel nie in die doderyk verlaat is en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie. Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is. Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dít uitgestort, wat julle nou sien en hoor. Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie, maar hy self sê: Die Here het gespreek tot my Here: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het 'n voetbank van u voete. Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het.

HANDELINGE 2:22-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Israeliete, luister na hierdie woorde! God het Jesus van Nasaret aan julle bekend gestel deur die kragtige dade, die wonders en die tekens wat God Hom by julle laat doen het. Daarvan weet julle self. God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak. Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan. Dit was immers vir die dood onmoontlik om Hom gevange te hou. Van Hom sê Dawid: “Ek het die Here altyd voor oë. Hy is aan my regterhand; ek sal nie wankel nie. Daarom is my hart bly en my tong jubel, ja meer, ek het die verwagting dat my liggaam sal lewe, want U sal my nie aan die doderyk oorlaat nie; U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie. U het my die paaie van die lewe geleer; u teenwoordigheid sal my met vreugde vul. “Broers, wat ons voorvader Dawid betref, moet ek dit vir julle duidelik stel: Hy het gesterwe en is begrawe, en sy graf is nou nog hier by ons. Maar hy was 'n profeet en hy het geweet dat God met 'n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge op sy troon sou sit. Daarom het hy die opstanding van die Christus vooruit gesien en gesê: “Hy is nie aan die doderyk oorgelaat nie, en sy liggaam het nie vergaan nie. “God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies. Hy is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort. Dit is wat julle nou sien en hoor. Dawid het nie na die hemel toe opgevaar nie, en tog sê hy: “Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het. “Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!”

HANDELINGE 2:22-36 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus van Nasaret was 'n man wat deur God aan julle bekend gemaak is deur kragtige dade en die wonders en tekens wat God deur Hom in julle midde verrig het, soos julle self ook weet. Julle het hierdie man, wat deur die vaste plan en voorkennis van God uitgelewer is, deur die hand van wettelose mense gekruisig en doodgemaak. God het Hom egter laat opstaan en van die lyding van die dood bevry, omdat dit onmoontlik was dat Hy deur die dood vasgehou word. Dawid sê immers oor Hom: “ ‘Ek het die Here altyddeur voor my gesien, want Hy is aan my regterkant, sodat ek nie wankel nie. Daarom juig my hart en jubel my tong; ja, ook my liggaam sal in hoop voortleef, want U sal my siel nie aan Hades oorlaat, en u Heilige nie ontbinding laat beleef nie. U het vir my die paaie na die lewe bekend gemaak – deur u teenwoordigheid sal U my met blydskap vervul.’ “Broers, wat die stamvader Dawid betref, kan ek vir julle met sekerheid sê dat hy gesterf het en begrawe is, en sy graf is tot vandag toe by ons. Omdat hy 'n profeet was, en geweet het dat ‘God met 'n eed aan hom beloof het om iemand van sy nasate op sy troon te plaas,’ het hy, in vooruitskouing oor die opstanding van die Christus, gesê: “ ‘Hy is nóg aan Hades oorgelaat, nóg het sy liggaam ontbinding beleef.’ “God het hierdie Jesus laat opstaan – daarvan is ons almal getuies. Nadat Hy tot aan die regterhand van God verhoog is en die belofte van die Heilige Gees van die Vader ontvang het, het Hy die Gees uitgestort, en dit is wat julle sien en hoor. Dawid het immers nie na die hemele opgevaar nie, maar sê self: “ ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand, totdat Ek jou vyande 'n voetbank vir jou voete gemaak het.’ “Laat die hele huis van Israel dan vir seker weet dat God Hom Here en Christus gemaak het – hierdie Jesus wat julle gekruisig het.”

HANDELINGE 2:22-36 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Manne van Israel, hoor hierdie woorde; Jesus van Nasaret, 'n man wat deur God onder julle goedgekeur is deur wonders en wonders en tekens wat God deur Hom in julle midde gedoen het, soos julle self ook weet: Hom, verlos deur die besliste raad en voorkennis van God, het julle geneem en deur goddelose hande gekruisig en gedood; wat God opgewek het deurdat Hy die pyne van die dood losgemaak het, omdat dit nie moontlik was dat Hy daaraan vasgehou sou word nie. Want Dawid spreek van hom: Ek het die Here altyd voor my aangesig gesien, want Hy is aan my regterhand, sodat ek nie sou wankel nie. Daarom was my hart bly, en my tong was bly; ook sal my vlees rus in hoop: Omdat U my siel nie in die hel sal laat nie, en U Heilige nie sal toelaat om verderwing te sien nie. U het my die weë van die lewe bekend gemaak; jy sal my vol vreugde maak met jou aangesig. Manne en broeders, laat ek vryelik met julle spreek van die aartsvader Dawid, dat hy dood sowel as begrawe is, en sy graf is tot vandag toe by ons. Daarom, omdat hy 'n profeet was en geweet het dat God vir hom met 'n eed gesweer het dat hy van die vrug van sy lendene na die vlees Christus sou oprig om op sy troon te sit; Toe hy dit tevore sien, het hy gespreek van die opstanding van Christus, dat sy siel nie in die hel oorgebly het nie, en dat sy vlees ook nie verderwing gesien het nie. Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is. Daarom, omdat Hy deur die regterhand van God verhoog is en die belofte van die Heilige Gees van die Vader ontvang het, het Hy dit uitgestort wat julle nou sien en hoor. Want Dawid het nie na die hemele opgevaar nie, maar hy sê self: Die HERE het tot my Here gesê: Sit aan my regterhand, Totdat Ek jou vyande jou voetbank maak. Laat die hele huis van Israel dan verseker weet dat God daardie selfde Jesus wat julle gekruisig het, Here sowel as Christus gemaak het.

HANDELINGE 2:22-36 Die Boodskap (DB)

“Vriende, julle moet mooi luister na wat ek nou vir julle wil sê. Jesus van Nasaret is die Man wat deur God aangestel is om groot wonderwerke en tekens onder julle te doen. Hy is ’n rukkie gelede hier in Jerusalem deur ’n spul goddelose mense gevang, presies net soos God dit beplan het. Daarna het julle almal Hom laat doodmaak.Maar God het Hom weer lewendig gemaak. Hy het al die bande van die dood van Jesus afgegooi en Hom lewendig daar laat uitstap. Hoor wat Dawid oor Jesus geskryf het: ‘Die Here is elke tree van die pad by my. Daarom kan ek niks oorkom nie. My lewe loop oor van vreugde. Ek vertel vir almal hoe goed die Here is. Nie eens die dood kan my meer bangmaak nie, want U sal nooit toelaat dat die kloue van die dood my vir altyd vashou nie. U sal nooit u eie kind, u oogappel, daar in die doderyk laat vergaan nie. U stap heeltyd saam met my op die pad wat na die lewe toe lei. Ek jubel daaroor.’ “Vriende, julle weet net so goed soos ek dat Dawid lankal dood en begrawe is. Sy graf is hier by ons in Jerusalem. Dawid was egter ’n boodskapper van God. Daarom het hy geweet dat God ’n belofte aan hom gemaak het dat iemand uit sy nageslag altyd oor sy koninkryk sou heers. Hy het geweet dat die Messias uit die dood sou opstaan. Dawid het gesien dat die doderyk met al sy gevare God se Gestuurde nooit gevange sou hou nie. “Jesus het hierdie woorde van Dawid waar laat word. Dit het gebeur toe God Hom lewendig gemaak het. Ons weet dit, want ons het Jesus met ons eie oë gesien nadat Hy weer lewendig geword het. Daarna het God die heel belangrikste plek in die hemel aan Hom gegee. Toe Jesus daar aankom, het Hy die Heilige Gees by sy Vader ontvang soos God aan Hom beloof het. Daarna het Jesus die Heilige Gees na ons toe gestuur. Dit kan julle nou met julle eie oë sien en met julle eie ore hoor. “Maar nog iets oor Dawid. Ons weet hy het nie self lewendig hemel toe gegaan nie. Dawid vertel egter in een van sy psalms hoe God met die Messias praat. God het vir Hom gesê: ‘Sit hier langs My. Dit is die heel belangrikste plek in die hemel. Sit hier totdat Ek al jou vyande onder jou voete vertrap het.’ “Almal in Israel moet vandag een ding besef: hierdie Jesus wat julle aan die kruis vasgespyker het, is nou deur God as die Here en die Messias aangestel. Hy heers nou oor almal in die hemel en op die aarde. Net Hy kan ons red.”

HANDELINGE 2:22-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Luister na wat ek gaan sê, geagte mede-Israeliete! Soos julle self weet, het God in die openbaar by julle bevestig dat Jesus van Nasaret die Here is. Dit is bevestig deur kragtige dade, wonders en tekens wat God Hom by julle laat doen het. Maar julle het opgetree soos God dit vooruit bepaal het. Met die hulp van nie-Jode het julle Hom aan die kruis gespyker en vermoor. God het Hom egter van die smarte van die dood gered en Hom opgewek, want die dood kon Hom nie in sy greep hou nie. “Koning Dawid het die volgende van Hom gesê: ‘Ek het die Here altyd by my gesien. Niks en niemand sal my laat wankel nie, want Hy is hier reg by my. Dis hoekom my hart bly is, en my tong jubel! Ja, nog meer: omdat ek hoop het, leef ek rustig. Ek weet U sal my gees nie in Hades agterlaat nie of toelaat dat u Heilige in die graf vergaan nie. U het my die paaie geleer wat na die lewe lei, U sal my bly maak met u teenwoordigheid.’ “Geagte volksgenote, verstaan goed! Dawid het in dié woorde wat ek aangehaal het, nie van homself gepraat nie. Ons weet mos: hy hét gesterf en is begrawe, en sy graf is tot vandag toe nog hier by ons. “Hy het dus as profeet opgetree, en hy het geweet dat God met ’n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge as Messias op sy troon sou sit. Dawid het in die toekoms gesien en oor die opstanding van die Messias gepraat: Hy sal nie in Hades agtergelaat word nie, sy liggaam sal nie in die graf vergaan nie. “Hierdie woorde van Dawid handel oor Jesus: God het Hom opgewek. Ons is almal getuies hiervan. Hy is derhalwe verhoog tot die regterhand van God, en nadat Hy die belofte van die Heilige Gees van die Vader ontvang het, het Hy dit uitgestort soos julle nou sien en hoor. Dawid is nie die een wat na die hemel toe opgevaar het nie, en tog sê hy: ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande heeltemal aan jou onderwerp het.’ “Die hele Israel moet dus vir seker weet: God het hierdie Jesus wat júlle gekruisig het, Here en Christus gemaak!”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid