Handelinge 2

2
Uitstorting van die Heilige Gees
1Toe die dag van die Pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Onverwags het daar uit die hemel 'n geluid soos dié van 'n kragtige stormwind opgeklink, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. 3Tonge, asof van vuur, het aan hulle verskyn, verdeel en op elkeen van hulle neergedaal. 4En almal is vervul met die Heilige Gees, en het in ander tale begin praat, soos die Gees aan hulle gegee het om hardop uit te spreek.
5Destyds het daar vroom Jode uit elke nasie onder die hemel in Jerusalem gewoon. 6Toe daardie geluid opklink, het die menigte saamgedrom, en was verward, omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word. 7Verstom en verbaas het hulle gevra: “Kyk, is almal wat daar praat, dan nie Galileërs nie? 8Hoe hoor elkeen van ons hulle dan praat in die taal waarmee ons grootgeword het? 9Ons – Parte en Meders en Elamiete, inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en Asië, 10Frigië en Pamfilië, Egipte en streke van Libië in die omgewing van Sirene, en Romeine wat hier vertoef, 11Jode en proseliete, mense van Kreta en Arabiere – ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God praat.” 12Almal was verstom en verward, en het mekaar gevra: “Wat beteken dit tog?” 13Ander weer het spottend gesê: “Hulle is vol soetwyn.”
Petrus se toespraak
14Daarop staan •Petrus op, verhef sy stem en spreek hulle toe: “Jode, en julle almal wat in Jerusalem woon – dit moet julle weet, luister goed na my woorde: 15Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie; dit is immers nog net die derde uur van die dag. 16Wat hier gebeur, is deur die profeet Joël aangekondig:
17“ ‘En dit sal in die laaste dae gebeur,’ sê God:
‘Ek sal my Gees op alle mense uitstort –
julle seuns en julle dogters sal profeteer,
en julle jongmense sal visioene sien,
en julle ou mense sal drome droom.
18Ja, ook oor my slawe en slavinne
sal Ek in daardie dae my Gees uitstort,
en hulle sal profeteer.
19En Ek sal bo in die hemel wonders bewerk
en tekens onder op die aarde:
bloed en vuur en rookwolke.
20 Die son sal verander in duisternis
en die maan in bloed,
voordat die groot en glorieryke dag van die Here kom.
21 Dan sal elkeen wat die Naam
van die Here aanroep, verlos word.’
22“Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus van Nasaret was 'n man wat deur God aan julle bekend gemaak is deur kragtige dade en die wonders en tekens wat God deur Hom in julle midde verrig het, soos julle self ook weet. 23Julle het hierdie man, wat deur die vaste plan en voorkennis van God uitgelewer is, deur die hand van wettelose mense gekruisig en doodgemaak. 24God het Hom egter laat opstaan en van die lyding van die dood bevry, omdat dit onmoontlik was dat Hy deur die dood vasgehou word. 25Dawid sê immers oor Hom:
“ ‘Ek het die Here altyddeur voor my gesien,
want Hy is aan my regterkant,
sodat ek nie wankel nie.
26Daarom juig my hart
en jubel my tong;
ja, ook my liggaam sal in hoop voortleef,
27want U sal my siel nie aan Hades oorlaat,
en u Heilige nie ontbinding laat beleef nie.
28U het vir my die paaie
na die lewe bekend gemaak –
deur u teenwoordigheid
sal U my met blydskap vervul.’
29“Broers, wat die stamvader Dawid betref, kan ek vir julle met sekerheid sê dat hy gesterf het en begrawe is, en sy graf is tot vandag toe by ons. 30Omdat hy 'n profeet was, en geweet het dat ‘God met 'n eed aan hom beloof het om iemand van sy nasate op sy troon te plaas,’ 31het hy, in vooruitskouing oor die opstanding van die Christus, gesê:
“ ‘Hy is nóg aan Hades oorgelaat,
nóg het sy liggaam ontbinding beleef.’
32“God het hierdie Jesus laat opstaan – daarvan is ons almal getuies. 33Nadat Hy tot aan die regterhand van God verhoog is en die belofte van die Heilige Gees van die Vader ontvang het, het Hy die Gees uitgestort, en dit is wat julle sien en hoor. 34Dawid het immers nie na die hemele opgevaar nie, maar sê self:
“ ‘Die Here het vir my Here gesê:
Sit aan my regterhand,
35totdat Ek jou vyande
'n voetbank vir jou voete
gemaak het.’
36 “Laat die hele huis van Israel dan vir seker weet dat God Hom Here en Christus gemaak het – hierdie Jesus wat julle gekruisig het.”
37Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir •Petrus en die ander •apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?” 38Petrus antwoord hulle: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. 39Want die belofte is bedoel vir julle, en ook vir julle kinders, en vir almal daar ver, almal wat die Here ons God na Hom toe roep. ” 40Met nog baie ander woorde het hy getuig en hulle aangespoor: “Laat julle uit hierdie korrupte geslag red.” 41 Diegene wat sy boodskap aangeneem het, is gedoop, en op daardie dag is ongeveer drieduisend mense toegevoeg.
Eerste gemeente
42Hulle het bly volhard in die leer van die •apostels, die verbondenheid met mekaar, die breek van die brood, en gebede. 43Almal is met ontsag vervul en baie wonders en tekens het deur die apostels plaasgevind. 44 Al die gelowiges was bymekaar en het alles gemeenskaplik besit. 45 Hulle het hulle eiendom en besittings verkoop en aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 46Hulle het eensgesind volhard om die tempelterrein daagliks te besoek, aan huis die brood te breek en hulle maaltye met uitbundige blydskap en met opregte harte te geniet. 47Hulle het God bly prys, en die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het daagliks verlostes by hulle getal gevoeg.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid