JOHANNES 21:18-25

JOHANNES 21:18-25 NLV

Ek verseker jou, toe jy nog jonger was, het jy self jou klere vasgegordel en het jy rondgegaan waar jy ook al wou; wanneer jy egter oud is, sal jy jou hande uitstrek en iemand anders sal jou klere vasgordel en jou bring waar jy nie graag sal wil wees nie.” Dit het Jesus gesê om te sinspeel op die soort dood waarmee Petrus God sou verheerlik. Nadat Hy dit gesê het, sê Jesus vir Petrus: “Volg My as my dissipel!” Toe Petrus omdraai, sien hy dat die lieflingdissipel Jesus volg. Dit is hy wat by die paasete tot baie na aan Jesus se bors oorgeleun en gevra het: “Here, wie is die een wat U gaan uitlewer?” Toe Petrus hom sien, vra hy vir Jesus: “Wat van hom, Here?” Jesus reageer daarop: “As Ek wil hê dat hy moet bly leef totdat Ek terugkeer, wat het dit met jou te doen? Volg jý My!” Hierdie gerug het toe onder die gelowiges rondgegaan dat daardie dissipel nie sal sterf nie. Jesus het egter nie vir Petrus gesê dat daardie dissipel nie sal sterf nie, maar eintlik net: “As Ek wou hê dat hy moet bly leef totdat Ek terugkeer, wat gaan dit jou aan?” Hierdie dissipel is die een wat oor al hierdie dinge getuig en dit neergeskryf het, en ons is oortuig dat sy getuienis betroubaar is. Daar bestaan nog baie ander dinge wat Jesus gedoen het. As hulle egter een vir een opgeskryf moes word, dink ek sou die wêreld nie plek hê vir al die boeke wat geskryf word nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid