YouVersion Logo
Search Icon

DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoopSample

DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoop

DAY 35 OF 40

‘n Toekoms geanker in hoop

Wanneer ons na die toekoms kyk, is daar 'n diep, hoopvolle verwagting. Ons glo dat ons die uitdagings van die lewe sal oorkom en streef daarna om die leemtes in ons lewens met die belofte van ‘n beter môre te versoen.

Tog is die realiteit dikwels dat die dinge waarop ons ons hoop bou – drome, doelwitte, en verwagtinge – vinnig kan vervaag, soos sand wat deur die wind weggewaai word.

In Ragab se lewe sien ons egter 'n ander waarheid: sy het haar hoop op God gevestig en die beloftes van die verspieders met volle vertroue geglo. Dit het nie net haar fisieke lewe gered nie, maar haar ook geestelik met die God van Israel versoen.

Haar keuse om God te vertrou, het die verloop van haar toekoms verander. Die toekoms bly egter vir ons almal gevul met onsekerheid en soms voel dit soos 'n leë en onsekere ruimte – 'n plek tussen ons huidige realiteit en dit waarna ons hoop om te leef.

Die kruis en die opstanding bied vir ons 'n vaste anker in hierdie leë ruimtes. Jesus se dood aan die kruis het nie net die las van ons sonde gedra nie, maar ook die leegheid van menslike verwagtings beëindig. Al lyk die kruis soos 'n simbool van dood en verlies, is dit in werklikheid die begin van iets groter: die opstanding. Jesus se opstanding is die ewige waarheid waarop ons hoop gevestig is.

In Christus het ons ‘n vaste toekoms geanker in genade – nie in ons eie vermoëns, prestasies of planne nie, maar in dit wat Hy deur sy kruisdood en opstanding vir ons volbring het. Petrus se woorde bevestig hierdie waarheid:

“Nou het ons regtig hoop omdat Jesus Christus uit die dood opgestaan het” (1Petrus1:3 NLV). Ons hoef nie in vrees of onsekerheid oor die toekoms te leef nie, want ons weet ons hoop is vas in God se beloftes.

As jy na jou toekoms vol onsekerheid kyk, onthou dat dit wat voorlê, geanker is in die genade van God — genade wat deur die kruis en die opstanding aan jou geskenk is. Dit is ‘n genade wat jou verlede vergewe, jou hede dra en jou toekoms verseker. Wanneer jy oor jou eie vermoëns twyfel, herinner jouself aan die krag van die kruis en die oorwinning van die opstanding.

Mag die hoop wat uit die opstanding vloei, jou elke dag versterk, selfs wanneer die pad wat voor jou uitstrek onseker lyk. Die kruis en opstanding van Jesus is die fondament waarop jy jou toekoms kan bou; ten volle gevul met genade, hoop en vaste vertroue in Hom.

Gebed

Here Jesus, dankie vir die kruis wat die pad na genade oopgemaak het. Dankie vir die opstanding wat ons sekerheid gee van ‘n toekoms wat in u liefde geanker is. Help ons om nie in vrees of onsekerheid oor die toekoms te leef nie, maar om met vertroue in u genade vorentoe te beweeg.

Ons vertrou dat ons toekoms in u hande is en dat U ons sal lei en dra. Skep in ons ‘n gees van geloof en verwagting, omdat ons toekoms volledig aan U oorgegee is. Dankie dat U vir ons sorg, nie net vir vandag nie, maar ook vir die ewige toekoms wat ons in U sal hê. Amen.

Scripture

About this Plan

DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoop

Stap saam op 'n reis van 40 dae, waar die rooi draad van genade jou lei van Ragab se venster in Jerigo tot by die kruis op Golgota. Hierdie 40-dae plan onthul hoe God se genade geen grense het nie, en hoe geloof en gehoorsaamheid 'n hele nuwe bestemming kan skep.

More