YouVersion Logo
Search Icon

Die Here Is My HerderSample

Die Here Is My Herder

DAY 2 OF 7

Verkeerde wapenrusting

Net soos soldate swaar wapenrusting aangetrek het voordat hulle ’n geveg binnegegaan het, dra weermaglede en polisie vandag ook beskermende drag. Dit beskerm hulle nie slegs fisies nie. Dit gee hulle ook moed en selfvertroue. Dit maak die diep vrees in hulle minder.

Vrees laat ons ook dikwels na ons “wapenrusting” gryp. Wanneer ons vir ’n werksonderhoud gaan, sorg ons dat ons weerbaar is. Ons bewapen onsself met ’n getuigskrif. Ons berei voor vir moontlike vrae tydens die onderhoud. Ons vergewis ons van feite betreffende die firma of instelling. Is die besigheid finansieel gesond? Wat is die langtermyn-moontlikhede? Net voor ons instap vir die onderhoud, stuur ons ’n skietgebedjie op en vra dat alles goed sal afloop en dat ons suksesvol sal wees.

Op ander terreine van ons lewe gee ons dikwels ook meer aandag aan meetbare, fisiese sekerhede om onsself voor te berei vir ’n nuwe onbekende fase of ’n moeilike situasie. Dikwels probeer ons ons eie vrees so bekamp.

Dis reg en goed en noodsaaklik om seker te maak dat ons goed voorbereid is op die onbekende. Ons voorbereidings moet egter by God begin. Ons moet eers by Hom hoor wat Hy van ons drome en planne sê. Vir elke onbekende dag en situasie moet ons sý wapenrusting aantrek.

Dawid het gesorg dat hy die regte wapenrusting aantrek. Hy het ten volle op God vertrou. Daarna het hy sy klippies opgetel en een in sy slingervel gesit.

Hy het niks gevrees nie.

Dankie vir u volledige beskutting, Here. Amen