YouVersion Logo
Search Icon

Plan Info

Groei: Eerste treë saam met JesusSample

Groei: Eerste treë saam met Jesus

DAY 1 OF 20

IS GOD ‘N WERKLIKHEID? Ek wil jou vandag uitnooi om jou eerste treë te neem, na die groei van jou verhouding met ‘n werklike en lewende God. Jy vra dalk, net soos so baie ander mense: Hoe weet ek dat God ‘n werklikheid is? Laat my toe om my eie storie met jou te deel. Ek het op die ouderdom van 13 ‘n jeugkamp bygewoon. Al was ek reeds op daardie stadium ‘n gereelde kerkganger, het daar op hierdie kamp iets van die werklikheid van God se bestaan my regtig vir die eerste keer getref. Ek het ontdek hoe lief Hy my het, en ek het besef dat ek my lewe op daardie stadium eintlik sonder God leef. ‘n Groot begeerte het van daar af in my hart ontstaan om saam met Hom, en ook vir Hom, te leef. Het jy al so 'n belewenis gehad? In die 66 boeke van die Bybel is daar heelwat soortgelyke getuienisse van mense wat die werklikheid van God se bestaan ontdek het. Een van daardie karakters is iemand met die naam van Saulus. Ons lees sy storie in Handelinge 9 vers 1 tot 9: 1 MAAR Saulus, wat nog dreiging en moord geblaas het teen die dissipels van die Here, het na die hoëpriester gegaan 2 en van hom briewe gevra aan die sinagoges in Damaskus, sodat as hy mense sou vind wat van die Weg was, manne sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring. 3 En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik ’n lig van die hemel af; 4 en hy val op die grond en hoor ’n stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? 5 En hy sê: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop. 6 En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: Here, wat wil U hê moet ek doen? En die Here antwoord hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen. 7 En die manne wat saam met hom op pad was, het sprakeloos gestaan terwyl hulle wel die stem hoor, maar niemand sien nie. Kyk bietjie na hierdie getuienis uit die Bybel. Hoe is dit moontlik dat so 'n groot vervolger van die volgelinge van Jesus sou omdraai, om die grootste verkondiger van Jesus te word? Al wat ek kan aflei is dat hierdie Saulus ‘n lewensveranderende ontmoeting met ‘n werklike God gehad het. Dis duidelik in sy skrywe, dat hy nie verder sonder Jesus wou lewe nie. Daar is egter nog meer bewyse van God se bestaan. Dis nie net die getuienisse van mense nie, maar ook die wonder van die natuur. Kyk na hoe fyn dinge aanmekaar gesit is, die orde van alles, die skepping se wonders, die ekosisteme, en selfs die balans van alles in die heelal. Dink aan die feit dat ons planeet die enigste een is met lewe op. Daar is selfs nog meer verwondering oor die biologie van ons liggame se samestelling. Elke sel in jou liggaam is ‘n bewys dat dinge nie sommer net êrens per ongeluk op hulle eie begin het nie. Dit was deeglik beplan en uitgevoer deur ons Skepper! God het dit aanmekaar gesit om aan ons te wys dat Hy werklik die Skepper van alles is. Ek is oortuig dat hierdie Skepper ‘n uitnodiging aan elkeen van ons rig, om ons lewens saam met Hom te leef. Hy begeer dat ons in ‘n betekenisvolle en opwindende verhouding met Hom sal staan. Ek gaan jou elke dag nooi om een verklaring te maak en om dit ‘n paar keer elke dag te herhaal. Verklaring: "God, U is ‘n werklikheid, leer en wys my asseblief meer omtrent U bestaan." Aksiestap vir vandag: Maak vir jou ‘n lys van moontlike bewyse van God se bestaan. Oorweeg mense se verhale wat in God glo en kyk na elemente in die skepping wat dit duidelik kan maak.
Day 2

About this Plan

Groei: Eerste treë saam met Jesus

Is jy 'n nuwe Christen? Ons glo dat ‘n verhouding met God die hoof tema van al God se interaksies met die mensdom is. Hierdie is ‘n 20-dae ontdekkingsreis waarop ons jou wil neem. En dit kom uit ons passie vir mense wat ...

More

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy