YouVersion Logo
Search Icon

SAGARIA 7

7
Die navraag oor vasdae, die antwoord
1In die vierde regeringsjaar van koning Darius het die woord van die Here tot Sagaria gekom. Dit was op die vierde Kislef, die negende maand.
2Die mense van Bet-El het vir Sar-Eser en vir Regem-Melek met sy manne gestuur om die Here te raadpleeg. 3Hulle moes vir die priesters by die huis van die Here die Almagtige en vir die profete vra: “Moet ons nog in die vyfde maand huil en vas soos ons nou al jare lank doen?”
4Die woord van die Here die Almagtige het toe tot my gekom: 5Sê vir almal in die land en vir die priesters: Julle vas en treur nou al sewentig jaar lank in die vyfde en in die sewende maand, maar vas julle tot my eer? 6En as julle eet en drink, doen julle dit vir julleself.
7Daar is mos ook nog die woorde wat Ek, die Here, deur die vroeëre profete laat aankondig het in die tyd toe Jerusalem nog bewoon en veilig was en toe die stede rondom Jerusalem en ook die Suidland en die Laeveld bewoon was. 8Dié woord van die Here het ook tot Sagaria gekom: 9So het die Here die Almagtige gesê: Laat reg geskied aan almal, bewys liefde en barmhartigheid aan mekaar; 10moenie die weduwee en die weeskind, die vreemdeling en die arme verdruk nie; moenie bose planne teen mekaar bedink nie.
11Maar die volk het geweier om daarop ag te slaan, hulle was moedswillig, hulle het hulle doof gehou, 12hulle het hulle soos die hardste klip gehou en wou nie luister na die wet en na die boodskap wat die Here die Almagtige deur sy Gees, deur die vroeëre profete, gestuur het nie. Daarom was die toorn van die Here die Almagtige so groot. 13Hy het geroep, maar hulle het nie geluister nie, en toe het die Here die Almagtige gesê: Ek sal ook nie luister as hulle roep nie, 14Ek sal hulle met 'n stormwind verstrooi onder al die nasies vir wie hulle tot nou toe onbekend was, en agter hulle sal die land so verwoes wees dat niemand meer daar deurtrek nie. Hulle het van 'n pragtige land 'n verwoeste wêreld gemaak.

Currently Selected:

SAGARIA 7: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy