YouVersion Logo
Search Icon

SAGARIA 9

9
Die Here sal die buurvolke straf
1'n Uitspraak van die Here.
Die woord van die Here is ook in Gadrak, en Hy het ook in Damaskus sy woonplek. Die Here sien alle mense, nie net al die stamme van Israel nie. 2Hy sien ook vir Hamat, wat aan Damaskus grens, en vir Tirus en Sidon, al het hulle hoeveel wysheid.
3Tirus het vir homself 'n vesting gebou en so baie silwer en goud vergader as wat daar stof is en modder in die strate. 4Nou gaan die Here alles vat wat die stad het, Hy gaan die mag breek wat die stad op see het, en die stad self sal afgebrand word.
5Askelon sal dit sien en skrik, Gasa sal dit sien en baie bang word, Ekron ook, want alles waarop hy vertrou het, sal daarmee heen wees. Gasa sal sonder koning wees, Askelon sonder inwoners, 6en in Asdod sal net mense woon wat gebore is uit ontoelaatbare geslagsgemeenskap .
So sal Ek die trots van die Filistyne breek, sê die Here. 7Ek sal die bloederige vleis wat hulle eet, uit hulle mond ruk, Ek sal die afskuwelike afgodsoffers tussen hulle tande uitruk.
Wat van die Filistyne oorbly, sal aan ons God behoort. Hulle sal een van die groepe in die stam Juda word; dit sal met Ekron gaan soos met die Jebusiete.
8Ek sal my huis beskerm teen enige leër wat daar verbykom, sê die Here, geen onderdrukkers sal hulle meer oorval nie. Ek sorg nou self vir hulle.
Die koning sal kom
9Jubel, Sion! Juig, Jerusalem!
Jou koning sal na jou toe kom.
Hy is regverdig en hy is 'n oorwinnaar,
hy is nederig en hy ry op 'n donkie,
op die hingsvul van 'n donkie.
10Ek sal die strydwaens in Efraim vernietig, die perde uit Jerusalem uitroei.
Die pyl en boog waarmee oorlog gemaak word, sal gebreek word.
Die koning sal vrede vir die nasies afkondig
en hy sal regeer van see tot see,
van die Eufraat af tot in die uithoeke van die aarde.
Die Here sal sy volk red
11Wat jou betref, my verbond met jou is met offerbloed beseël. Daarom sal Ek jou gevangenes laat red uit hulle gevangenskap.
12Kom terug na die vestingstad toe, gevangenes wat nou hoop het! Ek verseker jou vandag: Ek gee jou twee maal soveel as wat jy gehad het.
13Ek gebruik Juda as my boog, Efraim as my pyl, jou inwoners, Sion, as my swaard teen jou inwoners, Griekeland. Ek hanteer my volk soos 'n vegter sy swaard hanteer.
14Die Here sal bokant sy volk verskyn, sy pyl sal soos weerlig uitskiet. Die Here God sal die ramshoring blaas, Hy sal kom in die storms uit die suide. 15Die Here die Almagtige sal sy volk beskerm. Die klippe uit sy slingervel sal dood en verwoesting saai, hulle sal vol bloed word, hulle sal gons soos wyn bruis, hulle sal so vol bloed word soos die kom wat by offers gebruik word, soos die hoeke van die altaar.
16Die Here hulle God sal daardie dag sy volk, sy kudde, red. Hulle sal in sy land vonkel soos die edelstene in 'n kroon.
17Hoe voorspoedig, hoe mooi sal die land nie wees nie! Die koring en die wyn sal maak dat die jongmans en die meisies gesond en sterk sal wees.

Currently Selected:

SAGARIA 9: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy