YouVersion Logo
Search Icon

SAGARIA 11

11
1Maak oop jou poorte, Libanon, dat 'n vuur jou seders kan verteer! 2Huil, sipres, want 'n seder het geval, die grootste bome is verwoes! Huil, groot bome in Basan, want die ondeurdringbare bos het geval! 3Luister hoe huil die herders omdat hulle beste weiveld verwoes is! Luister hoe brul die leeus omdat die pragtige bos langs die Jordaan verwoes is!
Die herders
4So het die Here my God gesê: Gaan wees 'n herder vir die slagskape. 5Hulle eienaars self slag hulle sonder skuldgevoel, of verkoop hulle en sê: “Prys die Here, ek word ryk!” Ook die skape se herders gee vir hulle niks om nie.
6Ek gee ook nie meer om vir die inwoners van die land nie, sê die Here, Ek gee hulle oor in mekaar se mag en in die mag van hulle koning. Die land sal uitmekaar geslaan word, maar Ek sal niemand red nie.
7Ek het toe 'n herder geword in diens van dié wat met die slagskape handel dryf. Ek het twee kieries gevat, die een Vriendelikheid genoem en die ander Vereniging, en ek het vir die skape 'n herder geword.
8Binne een maand het ek van drie herders ontslae geraak. Maar ek het ongeduldig geraak met die skape, en hulle het ook vir my moeg geraak. 9Ek het gesê: “Ek gaan julle nie meer oppas nie. Laat dié wat wil doodgaan, doodgaan. Laat dié wat wil wegraak, wegraak. En laat dié wat oorbly, mekaar opvreet.”
10Ek het my kierie Vriendelikheid gevat en dit stukkend geslaan om so die ooreenkoms wat ek met al die volke gehad het, te verbreek. 11Die ooreenkoms het dieselfde dag opgehou om te bestaan en die kleinveehandelaars wat my dopgehou het, het geweet dat die Here dit so beveel het. 12Ek het vir hulle gesê: “As julle wil, gee my my loon; as julle nie wil nie, laat staan dit.” Hulle het toe my loon afgeweeg, dertig stukke silwer.
13Die Here het vir my gesê: Gooi dit vir die pottebakker!
En dit was nogal die kosbare loon wat hulle gemeen het ek werd is! Maar ek het die dertig stukke gevat en dit in die huis van die Here vir die pottebakker gegooi. 14Ek slaan toe ook my ander kierie, Vereniging, stukkend om so die broederskap tussen Juda en Israel te verbreek.
15Toe sê die Here vir my: Vat weer vir jou herdersgereedskap, maar nou dié van een wat alles verkeerd doen. 16Ek gaan nou 'n herder in die land aanstel wat niks omgee vir dié wat wegraak nie, nie die lammers soek nie, nie dié wat seergekry het, dokter nie en die gesondes nie kos gee nie, maar wat die vleis van die vetstes eet en die ander se kloue afruk.
17Ellende wag vir die herder wat alles verkeerd doen en die skape in die steek laat! Mag die swaard sy arm en sy regteroog tref! Mag sy arm heeltemal verdor, mag sy regteroog heeltemal blind word!

Currently Selected:

SAGARIA 11: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy