YouVersion Logo
Search Icon

ROMEINE 10

10
1Broers, my hartewens en my gebed tot God vir my volk is dat hulle gered word, 2want ek kan van hulle getuig dat hulle vol ywer vir God is, maar sonder die regte insig. 3Hulle het hulle nie gesteur aan die manier waarop God mense vryspreek nie. Hulle wil niks van God se manier van vryspraak weet nie; hulle probeer dit op hulle eie manier kry. 4Christus is tog die einde van die wet, sodat elkeen wat glo, vrygespreek kan word.
Die verlossing is vir elkeen wat glo
5Moses skryf naamlik van die vryspraak op grond van wetsonderhouding dat die mens wat doen wat die wet beveel, daardeur sal lewe. 6Maar van die vryspraak deur die geloof sê hy: “Moenie by jouself sê: ‘Wie sal na die hemel toe opklim?’ nie,” dit is, om Christus af te bring, 7“of: ‘Wie sal na die onderaardse diepte toe afdaal?’ nie,” dit is, om Christus uit die dood terug te bring. 8Nee, die Skrif sê:
“Naby jou is die woord,
in jou mond en in jou hart.”
En hierdie woord is die boodskap van die geloof, en dit is wat ons verkondig:
9As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. 10Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. 11Die Skrif sê tog:
“Niemand wat in Hom glo,
sal teleurgestel word nie.”
12“Niemand nie!” Dit maak dus geen verskil of 'n mens 'n Jood of 'n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik, 13want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.
14Maar hoe kan 'n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? 15En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.”
16Die Israeliete het egter nie almal aan die goeie boodskap gehoor gegee nie. Jesaja sê immers: “Here, wie het die prediking geglo wat ons gehoor het?” 17Die geloof kom dus deur die prediking wat 'n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus.
18Maar 'n mens sou kon vra: Het die Israeliete dan nie die prediking gehoor nie?
Alte seker het hulle gehoor! Die Skrif sê:
“Hulle prediking het oor die hele wêreld weerklink,
hulle woorde tot by die uithoeke van die aarde.”
19Of 'n ander vraag: Het Israel dit dan nie verstaan nie? In die eerste plek wys ek op wat God deur Moses sê:
“Ek gaan julle jaloers maak op mense wat nie 'n volk is nie,
en julle kwaad maak oor 'n volk wat nie julle kennis het nie.”
20En Jesaja gaan selfs verder. Daar sê God:
“Ek het My laat vind deur mense wat My nie gesoek het nie,
Ek het verskyn aan mense wat nie na My gevra het nie.”
21Maar van Israel sê Hy:
“Dag vir dag het Ek my hande
uitgesteek na 'n ongehoorsame en weerspannige volk.”

Currently Selected:

ROMEINE 10: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy