YouVersion Logo
Search Icon

PSALMS 139

139
U omsluit my van alle kante
1Vir die koorleier. Van Dawid. 'n Psalm.
Here, U sien dwarsdeur my,
U ken my.
2Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit,
U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.
3Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit,
U is met al my paaie goed bekend.
4Daar is nog nie 'n woord op my tong nie
of U, Here, weet wat dit gaan wees.
5U omsluit my van alle kante,
U neem my in besit.
6Dié wete oorweldig my,
dit is te hoog vir my begrip.
7Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug?
Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?
8Klim ek op na die hemel, is U daar,
gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.
9Vlieg ek na die ooste,
of gaan woon ek in die verre weste,
10ook daar lei u hand my,
hou u regterhand my vas.
11Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek,
of die lig rondom my om in nag te verander,
12maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie
en die nag so lig soos die dag,
duisternis so goed soos lig.
13U het my gevorm,
my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.
14Ek wil U loof,
want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep.
Wat U gedoen het,
vervul my met verwondering.
Dit weet ek seker:
15geen been van my was vir U verborge
toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie,
toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot.
16U het my al gesien toe ek nog ongebore was,
al my lewensdae was in u boek opgeskrywe
nog voordat ek gebore is.
17Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God,
hoe magtig hulle almal!
18As ek hulle sou wou opnoem –
hulle is meer as wat daar sand is,
en as ek daarmee klaar is,
sou ek nog steeds met U te doen hê.
19As U tog maar die goddelose uit die weg wou ruim, o God!
Gaan weg van my af, julle moordenaars!
20Dit is hulle wat bose planne teen U smee,
wat so vals teen U optree.
21Moet ek u haters dan nie haat nie, Here,
moet ek nie 'n weersin hê in mense wat teen U in opstand is nie?
22Ek haat hulle met 'n uiterste haat,
want hulle is ook my vyande.
23Deurgrond my, o God, deurgrond my hart,
ondersoek my, sien tog my onrus raak.
24Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie
en lei my op die beproefde pad!

Currently Selected:

PSALMS 139: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy