YouVersion Logo
Search Icon

LUKAS 20

20
Die vraag oor Jesus se gesag
(Matt. 21:23-27; Mark. 11:27-33)
1Op een van daardie dae, toe Jesus by die tempel besig was om die volk te leer en aan hulle die evangelie te verkondig, het die priesterhoofde en die skrifgeleerdes saam met die familiehoofde nader gestaan 2en Hom gevra: “Sê vir ons, met watter gesag doen u hierdie dinge? Wie is dit wat u hierdie gesag gegee het?”
3Hy antwoord hulle: “Ek gaan julle ook iets vra, en julle moet My dan sê: 4Die doop van Johannes – kom dit van God of van mense af?”
5Hulle redeneer toe onder mekaar: “As ons sê: ‘Van God af,’ sal hy sê: ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ 6En as ons sê: ‘Van mense af,’ sal die hele volk ons stenig, want hulle is daarvan oortuig dat Johannes 'n profeet is.”
7Toe antwoord hulle dat hulle nie weet waar dit vandaan kom nie.
8Daarop sê Jesus vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”
Die gelykenis van die boere en die wingerd
(Matt. 21:33-46; Mark. 12:1-12)
9Verder het Jesus aan die volk hierdie gelykenis vertel: “Daar was 'n man wat 'n wingerd aangeplant en dit aan boere verhuur het. Daarna was hy 'n hele ruk weg van die huis af. 10Toe dit tyd was daarvoor, stuur hy 'n slaaf na die boere toe om sy deel van die wingerd se opbrengs te gaan haal. Maar die boere het die slaaf geslaan en met leë hande weggejaag. 11Die eienaar het weer geprobeer en 'n ander slaaf gestuur. Maar hulle het hierdie een ook geslaan en uitgeskel en met leë hande weggejaag. 12Die eienaar het nog 'n keer geprobeer en 'n derde slaaf gestuur. Hulle het hom geslaan dat die bloed loop, en hom uit die wingerd uitgegooi.
13“Toe sê die eienaar van die wingerd: ‘Wat moet ek nou doen? Ek sal my geliefde seun stuur. Miskien sal hulle hom ontsien.’ 14Maar toe die boere hom sien, het hulle onder mekaar geredeneer: ‘Dit is die erfgenaam dié. Kom ons slaan hom dood, dan is die erfenis ons s'n.’ 15Toe gooi hulle hom uit die wingerd uit en slaan hom dood. Wat sal die eienaar van die wingerd dan met hulle doen? 16Hy sal kom en daardie boere om die lewe bring en die wingerd vir ander mense gee.”
Dié wat dit gehoor het, sê toe: “Nee, dit moenie gebeur nie!”
17Maar Jesus het hulle aangekyk en gesê: “Wat beteken hierdie Skrifwoord dan:
“ ‘Die klip wat deur die bouers afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword’ ?
18Elkeen wat op hierdie klip val, sal verpletter word;
elkeen op wie hy val, sal hy vermorsel.”
19Die skrifgeleerdes en die priesterhoofde het besef dat Jesus met hierdie gelykenis op hulle gesinspeel het. Daarom wou hulle Hom sommer daar en dan gevange neem, maar hulle was bang vir die volk.
Die vraag oor die betaal van belasting
(Matt. 22:15-22; Mark. 12:13-17)
20Hulle het hulle kans afgewag. Toe stuur hulle geheime agente wat hulle as opreg voorgedoen het, om Jesus op een of ander uitspraak te probeer vastrek sodat hulle Hom aan die owerheidsgesag van die goewerneur kon uitlewer. 21Hulle vra Hom toe: “Meneer, ons weet dat u in u prediking en onderrig regsinnig is. U let nie op die aansien van persone nie. U is getrou aan die waarheid, en so maak u die wil van God bekend. 22Is dit reg dat ons aan die keiser belasting betaal, of is dit nie?”
23Maar Jesus het deur hulle slimstreek gesien en vir hulle gesê: 24“Wys vir My 'n muntstuk. Wie se kop en naam is daarop?”
Hulle antwoord: “Die keiser s'n.”
25Toe sê Hy vir hulle: “Nou ja, gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”
26Hulle kon dit nie regkry om Hom voor die volk vas te trek op iets wat Hy gesê het nie. En verwonderd oor sy antwoord, het hulle maar stilgebly.
Die vraag oor die opstanding uit die dood
(Matt. 22:23-33; Mark. 12:18-27)
27'n Aantal Sadduseërs – dit is die mense wat ontken dat daar 'n opstanding uit die dood is – kom toe nader en vra vir Jesus: 28“Meneer, Moses het vir ons voorgeskryf: As iemand 'n getroude broer het wat kinderloos sterwe, moet hy met sy broer se weduwee trou en vir sy broer kinders verwek. 29Nou was daar sewe broers. Die oudste het getrou en kinderloos gesterwe. 30Ook die tweede 31en die derde het met die weduwee getrou en kinderloos gesterwe, en so het dit met al sewe gegaan. 32Daarna het die vrou ook gesterwe. 33Die vrou nou, wie se vrou word sy met die opstanding? Al sewe het haar mos as vrou gehad.”
34Jesus sê vir hulle: “In hierdie wêreld trou die mense met mekaar, 35maar dié wat waardig geag is om deel te hê aan die toekomstige wêreld en aan die opstanding uit die dood, trou daar nie meer nie. 36Hulle kan ook nie meer sterwe nie; hulle is soos die engele. Hulle is kinders van God, omdat hulle uit die dood opgestaan het. 37Dat die dooies opgewek word, het Moses ook aangedui waar hy in die gedeelte oor die doringbos praat van ‘die Here, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob’ . 38Hy is nie 'n God van dooies nie maar van lewendes, want by Hom leef hulle almal.”
39Toe sê sommige van die skrifgeleerdes: “Meneer, u het goed geantwoord.”
40Hulle het nie meer gewaag om Hom 'n enkele vraag te stel nie.
Die vraag oor die seun van Dawid
(Matt. 22:41-46; Mark. 12:35-37)
41Maar Jesus het vir hulle gevra: “Hoe kan hulle sê dat die Christus die seun van Dawid is? 42Dawid sê tog self in die boek van die Psalms:
“Die Here het vir my Here gesê:
Sit aan my regterhand
43totdat Ek jou vyande
aan jou onderwerp het.
44“Dawid noem Hom dus ‘Here’; hoe kan Hy dan sy seun wees?”
Jesus waarsku teen die skrifgeleerdes
(Matt. 23:1-36; Mark. 12:38-40; Luk. 11:37-54)
45Terwyl die hele volk na Jesus luister, sê Hy vir sy dissipels: 46“Pas op vir die skrifgeleerdes, wat graag met hulle deftige klere aan rondstap. Hulle hou van die begroetings op straat, die voorste banke in die sinagoges en die ereplekke by die maaltye. 47Dit is hulle wat die huise van die weduwees inpalm en vir die skyn lang gebede opsê. Hulle sal baie swaar gestraf word.”

Currently Selected:

LUKAS 20: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy