YouVersion Logo
Search Icon

JOB 28

28
Job: Om die Here te dien, dit is wysheid
1“Daar is 'n plek waar silwer uitgehaal word,
'n plek waar goud gesmelt word.
2Yster word uit die grond gehaal
en koper word uit erts gesmelt.
3Die mens maak 'n einde aan die donker,
hy soek erts in die diepste plekke, in die donkerste hoeke.
4Hy grawe 'n skag waar niemand woon nie,
op plekke waar niemand kom nie,
ver van mense af hang hy en swaai hy.
5Die aarde waaruit die voedsel kom,
word daar onder oopgebreek met vuur.
6Uit die klip van die aarde kom saffier,
ook korreltjies goud.
7Geen roofvoël ken daardie pad nie,
die oog van 'n valk kan dit nie sien nie,
8roofdiere loop nie daar nie,
die leeu gaan nie daarlangs nie.
9“Die mens bewerk die harde rots met sy hande,
hy keer die dieptes van die berge om,
10hy grawe gange deur die rots,
sy oog sien al die skatte,
11hy stop waterare toe
en bring verborge dinge aan die lig.
12Maar die wysheid, waar word dié gevind,
waar is die woonplek van die insig?
13Die mens ken nie die waarde daarvan nie,
en dit word nie in die land van die lewendes gevind nie.
14Die diep waters sê: ‘Dit is nie in my nie,’
die see sê: ‘By mý is dit nie!’
15Goud kan dit nie koop nie,
sy waarde kan nie in silwer afgeweeg word nie.
16Daarvoor kan nie betaal word met die goud van Ofir
of met kosbare oniks en saffier nie;
17goud en glas kom nie daarby in waarde nie,
vir voorwerpe van fyn goud kan 'n mens dit nie ruil nie.
18Koraal en kristal word nie eers gereken nie,
wysheid is baie meer werd as pêrels.
19Topaas uit Kus kom nie daarby in waarde nie,
selfs met suiwer goud kan jy nie daarvoor betaal nie.
20Die wysheid, waar kom dit vandaan?
Waar is die woonplek van die insig?
21Dit is verborge vir al wat lewe,
weggesteek selfs vir die voëls in die lug.
22Die onderwêreld en die dood sê:
‘Ons het maar net 'n gerug daaroor gehoor.’
23Net God weet hoe die pad daarheen loop,
net Hy ken die woonplek van die wysheid,
24want Hy sien die verste eindes van die aarde,
Hy aanskou alles onder die hemel.
25Toe Hy die krag van die wind bepaal het
en die waters uitgemeet het,
26toe Hy vir die reën reëls gemaak het
en 'n pad vir die weerlig aangewys het,
27toe het Hy die wysheid gesien en daarvan vertel,
toe het Hy dit vasgestel en deurvors.
28En Hy het vir die mens gesê:
Om die Here te dien, dit is wysheid,
om die kwaad te vermy, dit is insig.”

Currently Selected:

JOB 28: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy