YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 29

29
Straf vir Jerusalem en vir sy vyande
1Ellende wag vir Ariël, Ariël, die stad
wat deur Dawid beleër is.
Laat die jare maar op mekaar volg,
laat die feestye hulle verloop neem,
2Ek sal Ariël beleër
en daar sal ellende op ellende in hom wees,
hy sal vir My 'n vuurmaakplek wees.
3Ek sal jou van alle kante af beleër,
Ek sal wagposte inrig rondom jou
en beleëringswalle teen jou opgooi.
4Jy sal val, jy sal uit die grond uit praat,
jou woorde sal dof uit die stof uit opklink,
jou stem sal uit die grond uit kom
soos dié van 'n spook,
jy sal uit die stof uit mompel.
5Maar die hordes vyande wat jy het, sal word soos fyn stof,
dié wrede hordes sal soos kaf weggewaai word.
Skielik, in 'n oogwink,
6sal die Here die Almagtige Hom oor jou ontferm
met donderslae en aardbewings, met 'n magtige dreuning,
met storms en orkane, met verterende vuur.
7Dit sal met al dié nasies gaan soos in 'n slegte droom,
dié hordes wat teen Ariël oorlog maak,
almal wat hom en sy vestings aanval
en hom beleër:
8dit sal met hulle gaan soos wanneer iemand wat honger is
en droom hy eet, nog honger is as hy wakker word;
soos wanneer iemand wat dors is
en droom hy drink water, nog kragteloos is,
nog versmag van dors as hy wakker word.
So sal dit gaan met al dié nasies,
dié hordes wat oorlog maak teen Sionsberg.
Hulle hart is nie by My nie
9Nou staan julle verdwaas en verstom;
julle sien niks, julle oë is toe;
julle is dronk maar nie van wyn nie,
julle waggel sonder dat julle iets gedrink het,
10want die Here het julle in 'n diep slaap laat wegsak:
die profete moes julle oë wees
en die sieners julle koppe,
maar julle oë is nou toe
en daar is 'n doek oor julle koppe.
11Elke openbaring is nou vir julle
soos die woorde in 'n verseëlde boek:
jy gee dit vir iemand wat kan lees
en jy vra: “Lees dit asseblief vir my,”
en hy sê: “Ek kan nie, die boek is verseël.”
12Of jy gee die boek vir iemand wat nie kan lees nie
en jy vra: “Lees dit asseblief vir my,”
en hy sê: “Ek kan nie lees nie.”
13Die Here het gesê:
Hierdie volk is naby My met die mond,
hulle eer My met wat hulle sê,
maar hulle hart is ver van My af,
hulle dien My soos mense dit wil hê,
nie soos Ek wil nie.
14Daarom gaan Ek nog ongehoorder dinge doen met hierdie volk:
die een ongehoorde ding na die ander,
sodat die wysheid van sy wyse manne sal verdwyn,
die verstand van sy verstandige mense tot niet sal gaan.
15Ellende wag vir dié wat dink
hulle kan hulle planne diep wegsteek vir die Here,
hulle wat besig is om dinge in die donker te doen
en dink: wie sien ons? Wie weet van ons?
16Julle is agterstevoor met alles,
asof die pottebakker die klei is.
Die maaksel kan mos nie van sy maker sê:
“Hy het my nie gemaak nie”;
die kleipot kan mos nie van die pottebakker sê:
“Hy weet nie wat hy doen nie.”
Dié wat gedwaal het, sal insig kry
17Nog net 'n baie kort tydjie,
dan verander die Libanon in 'n vrugteboord
en word die vrugteboord so dig
dat dit vir 'n bos aangesien word.
18Daardie dag sal die dowes kan hoor
wat daar in die boek staan,
en sal die blindes weer kan sien
uit die donker, uit die duisternis uit.
19Die mense in nood sal weer bly wees oor die Here,
die arm mense sal juig oor die heilige God van Israel.
20Daar sal nie meer wreedaards wees nie;
dit sal klaar wees met die ligsinniges,
elkeen wat altyd gereed was om onreg te doen,
sal uitgeroei word,
21ook dié wat sommer mense tot oortreders verklaar het,
strikke gespan het vir dié wat reg wou laat geskied,
en onskuldige mense hulle reg ontneem het
deur vals getuienis.
22So sê die Here, Hy wat vir Abraham verlos het,
Hy sê oor Jakob:
Die nageslag van Jakob sal hulle nie meer hoef te skaam nie,
hulle sal nie meer bleek van verleentheid hoef te word nie,
23want wanneer hulle die kinders sien wat Ek aan hulle gee,
sal hulle my heilige Naam eer;
hulle sal die heilige God van Jakob eer,
hulle sal ontsag hê vir die God van Israel.
24Dan sal dié wat gedwaal het, insig kry,
en dié wat gedurig foutgevind het, sal hulle laat leer.

Currently Selected:

JESAJA 29: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy