YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 19

19
Teen Egipte
1'n Uitspraak van die Here teen Egipte:
Die Here ry op 'n vinnige wolk,
Hy gaan na Egipte toe.
Egipte se gode is bang vir Hom,
die Egiptenaars se harte verstyf van angs.
2Ek, die Here, sal die een Egiptenaar die vyand van die ander maak:
broer sal teen broer veg, vriend teen vriend,
stad teen stad, koninkryk teen koninkryk.
3Egipte se planne sal tot niet gaan,
Ek sal sy planne verydel.
Hulle sal gode gaan raadpleeg,
besweerders, mediums, spiritiste.
4Ek sal die Egiptenaars oorgee in die mag van 'n harde regeerder,
'n streng koning sal oor hulle heers,
sê die Here die Almagtige, die Koning.
5Die water van die Nyl sal wegdroog,
die rivier sal leeg word en opdroog.
6Die kanale sal stink,
Egipte se waterstrome sal sak en opdroog.
Die riete en biesies sal verdroog,
7die waterplante langs die Nyl by die Nylmond.
Alles wat langs die Nyl gesaai is, sal verdroog,
dit sal wegwaai en verdwyn.
8Die vissers sal kla en huil:
almal wat met 'n hoek visvang
en dié wat hulle nette in die rivier oopgooi, sal verdwyn.
9Dié wat vlas verwerk, sal nie hulle werk kan doen nie,
dié wat die vlas uitkam en weef, sal moed verloor.
10Egipte se wewers sal platgeslaan wees,
al sy loonarbeiders sal bekommerd wees.
11Die leiers van Soan is dwaas,
die slimste raadgewers van die farao gee slegte raad.
Hoe kan julle vir die farao sê:
“Ons is van die slim manne,
afstammelinge van die konings van vroeër”?
12Egipte, waar is jou wyse manne nou?
Laat hulle jou tog vertel sodat jy kan weet
wat die Here die Almagtige teen Egipte besluit het.
13Die leiers van Soan se planne het niks gehelp nie,
die leiers van Memfis het bedroë daarvan afgekom.
Die beste raadgewers van Egipte het hom op 'n dwaalspoor gebring.
14Die Here het hulle verwar;
wat Egipte ook al doen,
hulle het hom op 'n dwaalspoor gebring.
Soos 'n dronk mens waggel hy in sy braaksel rond.
15Niemand in Egipte kan hom meer red nie,
nie die leiers of die slawe nie,
nie dié met aansien of dié daarsonder nie.
16Daardie dag sal die Egiptenaars soos vrouens wees. Egipte sal bewe van angs wanneer hulle sien dat die Here die Almagtige sy hand teen hulle optel om hulle te straf. 17Juda sal vir Egipte 'n verskrikking wees; elkeen wat hom aan Juda herinner, sal hom bang maak. Hy sal bang wees vir wat die Here die Almagtige oor hom besluit het.
18Daardie dag sal die inwoners van vyf Egiptiese stede Hebreeus praat, en wanneer hulle 'n eed aflê, sal hulle dit in die Naam van die Here die Almagtige doen. Een van hulle sal Die Verwoeste Stad genoem word.
19Daardie dag sal daar binne-in Egipte 'n altaar en op sy grense 'n klippilaar wees wat aan die Here gewy is. 20Hulle sal dien as tekens en hulle sal getuig van die Here die Almagtige se teenwoordigheid in Egipte. As die Egiptenaars tot die Here roep omdat hulle verdruk word, sal Hy 'n redder vir hulle stuur. Hy sal hulle saak behartig en hulle red. 21Dan sal die Here Hom aan die Egiptenaars bekend maak, en op daardie dag sal hulle Hom leer ken. Hulle sal die Here met diereoffers en met graanoffers dien, en hulle sal hulle geloftes aan Hom nakom. 22Die Here sal die Egiptenaars straf, Hy sal straf en genees. Hulle sal hulle tot die Here bekeer, en Hy sal hulle goedgesind wees en hulle genees.
23Daardie dag sal daar 'n grootpad van Egipte af tot by Assirië loop. Die Assiriërs sal Egipte besoek, en die Egiptenaars Assirië, en hulle sal saam die Here dien.
24Daardie dag sal Israel die derde wees, en saam met Egipte en Assirië sal hulle vir die aarde tot 'n seën wees.
25Die Here die Almagtige sal hulle seën en sê:
Geseënd is my volk Egipte,
geseënd is Assirië wat deur My geskep is,
en geseënd is Israel, my eiendom.

Currently Selected:

JESAJA 19: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy