YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 13

13
Teen Babel
1'n Uitspraak teen Babel wat deur die Here aan Jesaja seun van Amos geopenbaar is:
2Hou 'n vaandel op bo-op 'n kaal heuwel,
ontbied die leërmag,
wink hulle nader met die hand:
hulle moet die poorte van die trotse stad binnedring!
3Ek, die Here, het soldate in diens geneem,
Ek het hulle ontbied om my oordeel te voltrek,
hulle wat hulle verheug oor my mag.
4Hoor die gedreun op die berge,
soos dié van 'n groot leërmag.
Hoor die rumoer van die koninkryke,
van nasies wat saamgespan het!
Die Here die Almagtige maak 'n leër gereed vir die oorlog.
5Hulle kom uit 'n ver land,
van die uithoeke van die aarde af;
die Here en die werktuie van sy oordeel
kom om die hele land te verwoes.
6Huil, want die dag van die Here is naby;
dit bring verwoesting,
dit kom van die Almagtige af.
7Almal se hande sal slap hang,
almal se harte sal verstyf van angs.
8Hulle sal skrikbevange raak,
krampe en pyne sal hulle oorval;
soos 'n vrou wat 'n kind in die wêreld bring,
sal hulle inmekaarkrimp.
Hulle sal mekaar beangs aankyk,
wit van die skrik.
9Die dag van die Here het nou gekom,
dit is 'n wrede dag,
'n dag van gramskap en gloeiende toorn,
'n dag waarop die land verwoes
en sy sondaars uitgeroei word.
10Die sterre en die sterrebeelde sal nie meer lig gee nie,
die son sal al donker wees wanneer hy opkom,
die maan sal ophou lig gee.
11Ek sal die land straf oor sy boosheid,
die goddeloses vir hulle sonde.
Ek sal 'n einde maak aan die hoogmoed van die vermeteles,
Ek sal dié wat hoogmoedig en verwaand is, verneder.
12Ek sal mense skaarser maak as suiwer goud,
skaarser as die goud uit Ofir.
13Ek sal die hemel skud,
die aarde sal uit sy plek uit geruk word,
Ek, die Here die Almagtige, doen dit in my gramskap
die dag wanneer my toorn ontvlam.
14Soos 'n ribbok wat opgejaag is,
soos 'n skaap wat nie opgepas word nie,
so sal die mense uit Babel padgee,
elkeen na sy eie volk toe,
so sal elkeen na sy eie land toe vlug.
15Wie gevang word, sal doodgesteek word,
wie ingehaal word, sal om die lewe gebring word.
16Hulle babatjies sal voor hulle oë papgeslaan word,
hulle huise sal geplunder
en hulle vrouens verkrag word.
17Kyk! Ek maak die Mediërs Babel se vyande,
hulle gee nie om vir silwer nie
en is nie erg oor goud nie!
18Hulle pyle sal die jongmanne deurboor;
met babatjies sal hulle geen meegevoel hê nie,
hulle sal kinders nie verskoon nie.
19Babel, die sieraad onder die koninkryke,
die pronkstuk en trots van die Galdeërs,
sal deur God verwoes word soos Sodom en Gomorra.
20Die stad sal nooit meer bewoon word nie,
niemand sal ooit weer daarin bly nie.
Geen Arabier sal sy tent daar opslaan nie,
geen wagter sal sy kudde daar laat rus nie.
21Net woestyndiere sal daar gaan lê;
die huise sal vol uile wees;
volstruise sal daar bly
en veldgode sal daar ronddans;
22hiënas sal in die paleise huil,
jakkalse in die huise waar feesgevier is.
Die stad se ondergang is hier,
sy dae is getel.

Currently Selected:

JESAJA 13: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy