GENESIS 43
AFR83
43
Benjamin gaan saam Egipte toe
1Maar dit was 'n kwaai hongersnood, 2en toe die kos begin opraak wat die broers uit Egipte gebring het, sê hulle pa vir hulle: “Julle moet maar weer vir ons 'n bietjie kos gaan koop.”
3Juda het hom geantwoord: “Daardie man het ons nadruklik gewaarsku en vir ons gesê: ‘Julle kom nie weer hier by my sonder julle broer nie!’ 4As Pa instem en ons broer saam met ons stuur, sal ons vir Pa gaan kos koop. 5Maar as Pa nie instem om hom saam te stuur nie, sal ons nie gaan nie, want daardie man het vir ons gesê ons kom nie weer by hom sonder ons broer nie.”
6Toe sê Israel: “Waarom het julle my hierdie onreg aangedoen en vir die man vertel julle het nog 'n broer!”
7Hulle het gesê: “Die man het ons uitgevra na ons familie. Hy het gevra: ‘Leef julle pa nog? Het julle nog 'n broer?’ Ons het net geantwoord op hierdie vrae van hom. Hoe moes ons weet hy sou sê: ‘Bring julle broer hiernatoe’?”
8Juda het vir sy pa Israel gesê: “Stuur tog maar die kind saam met my sodat ons dadelik kan vertrek. Dan kan ons aan die lewe bly. So nie sterf Pa saam met ons en ons kinders. 9Ek waarborg hy sal terugkom. Pa kan hom van my eis. As ek hom nie vir Pa terugbring en hom hier voor Pa kom laat staan nie, sal ek vir altyd by Pa in die skuld wees. 10En as ons nie so getalm het nie, kon ons nou al twee keer terug gewees het.”
11Toe sê hulle pa Israel vir hulle: “Nou ja, as dit dan so is, moet julle dit maar doen. Vat van die beste wat ons land het saam in julle graansakke as 'n geskenk vir die man: 'n bietjie balsem, 'n bietjie heuning, gom, hars, neute en amandels. 12Julle moet die geld verdubbel wat julle saamvat. En die geld wat julle bo in die graansakke teruggebring het, moet julle ook saamvat. Dalk was daar 'n misverstand. 13Vat julle broer en maak klaar en gaan terug na die man toe. 14God die Almagtige sal sorg dat die man julle goedgesind is en julle ander broer terugstuur en ook vir Benjamin. En ek, as ek dan my kinders moet verloor, moet ek hulle maar verloor.”
15Die manne het toe die geskenk gevat en hulle het die geld wat hulle saamgevat het, verdubbel. Hulle het vir Benjamin gevat en klaargemaak en Egipte toe gegaan. Hulle het by Josef gekom, 16en toe hy sien Benjamin is by hulle, sê hy vir sy hoofamptenaar: “Vat die manne na my huis toe. Laat slag en laat 'n ete voorberei, want hulle moet vanmiddag by my eet.”
17Hy het toe gedoen wat Josef gesê het. Hy het die manne na Josef se huis toe gevat, 18en hulle het bang geword omdat hulle na Josef se huis toe gebring is. Toe sê hulle: “Dit is oor die geld wat die vorige keer in ons graansakke teruggesit is. Ons word hierheen gebring om ons te oorval en te oorrompel en van ons slawe te maak en ons donkies te vat.”
19By die deur van die huis het hulle die hoofamptenaar genader 20en vir hom gesê: “Ekskuus, Meneer, ons was al 'n vorige keer hier om kos te koop. 21En toe ons hier weg is en die aand ons graansakke oopmaak, lê elkeen se geld bo in sy sak. Dit was presies die regte bedrag. Maar ons het dit nou weer saamgebring, 22en ook nog geld om weer kos te koop. Ons weet nie wie die geld in ons sakke teruggesit het nie.”
23Toe sê die amptenaar vir hulle: “Wees gerus! Moenie bekommerd wees nie. Julle geld het by my uitgekom, en dit is julle God, die God van julle voorvaders, wat 'n skat in julle sakke gesit het.”
Die amptenaar het toe vir Simeon na hulle toe gebring.
24Nadat die amptenaar hulle in Josef se huis ingebring het, het hy vir hulle water gegee, en hulle het hulle voete gewas. Hy het ook hulle donkies voer gegee. 25Die broers het hulle geskenk gereed gehou vir wanneer Josef die middag kom, want hulle het gehoor dat hulle daar gaan eet. 26Toe Josef inkom, bring hulle vir hom die geskenk wat hulle saamgebring het, na die huis toe. Toe buig hulle diep voor hom.
27Josef het hulle toe gevra hoe dit gaan. Hy het gevra: “Hoe gaan dit met julle pa wat so oud is en van wie julle my vertel het? Leef hy nog?”
28Hulle het geantwoord: “Dit gaan goed met u onderdaan, ons pa. Hy leef nog.”
Hulle het weer voor Josef gebuig en hom so geëer. 29Toe Josef sy broer, sy ma se seun Benjamin, raaksien, vra hy: “Is dit julle jongste broer van wie julle my vertel het?” En Josef sê vir hom: “My seun, God sal jou genadig wees.”
30Toe het Josef haastig padgegee om eenkant te gaan huil, want sy gemoed was vol oor sy broer. Josef is na sy kamer toe en hy het daar gaan huil. 31Daarna het hy sy gesig gewas en teruggegaan. Hy was weer homself en hy het gesê: “Bedien die ete.”
32Hulle het vir Josef afsonderlik bedien en so ook die broers en die Egiptenaars wat daar by hulle geëet het, want die Egiptenaars het 'n afsku daarvan om dieselfde kos as die Hebreërs te eet. 33Die broers het teenoor Josef gesit, volgens hulle ouderdom: van die oudste af tot die jongste. Hieroor het die manne mekaar verbaas aangekyk. 34Elkeen se kos is van Josef se tafel af aangegee, maar Benjamin s'n was vyf keer meer as dié van die ander. Hulle het wyn gedrink en saam met Josef dronk geword.

Verskaf met die komplimente van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. © Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Ondersteun ons en word ‘n saaier van hoop.

Learn More About Afrikaans 1983