YouVersion Logo
Search Icon

ESRA 1

1
Die proklamasie van Kores
(Vgl. 2 Kron. 36:22-23)
1In die eerste regeringsjaar van koning Kores van Persië is die belofte vervul wat die Here by monde van Jeremia uitgespreek het: die Here het koning Kores van Persië laat besluit om dwarsoor sy ryk 'n proklamasie te laat afkondig. Die proklamasie, wat ook skriftelik was, het soos volg gelui:
2“Koning Kores van Persië maak bekend: Die Here die God van die hemel het al die koninkryke van die aarde aan my gegee. Hy het my beveel om vir Hom 'n tempel in Jerusalem in Juda te bou. 3Enigiemand onder julle wat aan sy volk behoort – mag sy God by hom wees – mag na Jerusalem in Juda toe gaan en die tempel gaan bou vir die Here die God van Israel. Hy is God in Jerusalem. 4Elkeen wat van dié volk nog oor is, waar hy ook al tydelik gewoon het, moet deur die mense van sy omgewing voorsien word van die nodige silwer, goud, gebruiksgoed en vee, tesame met 'n vrywillige gawe vir die tempel van God in Jerusalem.”
Die voorbereiding vir die terugkoms
5Die familiehoofde van Juda en Benjamin, asook die priesters en die Leviete, elkeen in wie God die voorneme gegee het, het toe klaargemaak om die huis van die Here in Jerusalem te gaan bou. 6Al hulle bure het hulle hande gesterk deur silwerware en goud, gebruiksgoed, vee en allerlei kosbaarhede te gee, bo en behalwe al die vrywillige gawes. 7Koning Kores het ook die goed laat haal wat in die huis van die Here was en wat Nebukadnesar uit Jerusalem weggevat en in die tempel van sy god gesit het. 8Koning Kores van Persië het dit aan Mitredat, die sekretaris van die tesourie, laat oorhandig, en dié het 'n lys daarvan gemaak vir Sesbassar, hoof van die stam Juda. 9Die volgende stukke was op die lys: 30 goue bakke, 1 000 silwerbakke, en – toe dit weer getel is – nog 29 by, 1030 goue komme, 410 silwerkomme na hertelling, en 'n 1 000 ander stukke. 11Daar was altesame 5 400 stukke goud en silwer. Sesbassar het alles saamgevat toe hy die ballinge van Babel af na Jerusalem toe gebring het.

Currently Selected:

ESRA 1: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy