YouVersion Logo
Search Icon

ESEGIËL 33

33
Ek sal elke mens oordeel volgens sy doen en late
1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mens, praat met die mense van jou volk en sê vir hulle: Wanneer Ek oorlog oor 'n land bring, en die mense van die land vat een van hulle en stel hom as 'n wag aan, 3en hy sien die vyand aankom en blaas die ramshoring en waarsku sy mense, 4en hulle hoor die ramshoring maar slaan nie ag op die waarskuwing nie, dan is hulle verantwoordelik vir hulle eie dood. 5Hulle het die ramshoring gehoor maar nie op die waarskuwing ag geslaan nie, hulle is self verantwoordelik vir hulle dood. Dit is net dié wat op die waarskuwing ag slaan, wat hulle lewens red. 6Maar wanneer die wag die vyand sien aankom en nie die ramshoring blaas sodat die mense gewaarsku word nie, en die vyand kom en maak party van die land se mense dood, dan sterf dié mense wel deur hulle eie sonde, maar Ek sal van die wag rekenskap eis vir hulle dood.
7“Mens, Ek het jou die wag vir Israel gemaak. Wanneer jy by My die opdrag ontvang, moet jy hulle namens My waarsku. 8Wanneer Ek van die goddelose sê dat hy sal sterwe, en jy praat nie en waarsku hom nie oor sy doen en late nie, sal hy deur sy sonde sterf, maar Ek sal jou verantwoordelik hou vir sy dood. 9Wanneer jy die goddelose waarsku oor sy optrede om hom daarvan te laat afsien, en hy sien nie daarvan af nie, dan sterf hy deur sy sonde en het jy jou eie lewe behou.
10“Mens, jy moet vir Israel sê: Julle sê: ‘Ons opstandigheid, ons sonde rus swaar op ons, ons vergaan daaronder, hoe kan ons nog lewe?’
11“Sê vir hulle: So seker as Ek leef, sê die Here my God, Ek wil nie hê die sondaar moet deur sy sonde sterf nie, Ek wil hê hy moet van sy optrede afsien en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van julle bose optrede! Waarom wil julle sterf, Israel?
12“Mens, jy moet vir die mense van jou volk sê: Die goeie dade van 'n goeie mens sal hom nie red die dag as hy teen My in opstand kom nie, en die slegte dade van 'n goddelose sal nie teen hom tel die dag as hy hom van sy slegte dade bekeer nie. Die goeie mens sal nie deur sy goeie dade bly lewe die dag as hy sondig nie. 13Wanneer Ek vir 'n goeie mens sê hy sal die lewe behou, en hy vertrou op sy goeie dade en hy pleeg onreg, sal al sy goeie dade nie in sy guns tel nie; hy sal sterf omdat hy onreg gepleeg het. 14En wanneer Ek vir 'n goddelose sê hy sal sekerlik sterwe, en hy bekeer hom van sy sonde en hy laat reg geskied en doen reg, 15hy gee die goed terug wat hy as waarborg vir skuld gevat het, hy betaal terug wat hy geroof het, hy lewe volgens die voorskrifte wat lewe gee en hy pleeg nie onreg nie, sal hy lewe, hy sal nie sterwe nie. 16Al die sonde wat hy gedoen het, sal hom nie toegereken word nie; hy laat nou reg geskied en hy doen reg, en daarom sal hy in die lewe bly.
17“Die mense van jou volk sê: ‘Die Here tree nie reg op nie,’ maar dit is hulle wat nie reg optree nie. 18Wanneer 'n goeie mens sy goeie dade laat vaar en onreg pleeg, sterf hy oor die onreg. 19Wanneer 'n goddelose afsien van sy slegte dade en reg laat geskied en reg doen, bly hy daaroor in die lewe. 20Julle sê: ‘Die Here tree nie reg op nie,’ Israel? Ek sal elke mens onder julle oordeel volgens sy doen en late.”
Jerusalem is ingeneem
21Op die vyfde van die tiende maand, in die twaalfde jaar van ons ballingskap, het daar iemand by my aangekom wat uit Jerusalem ontsnap het en vir my gesê: “Die stad is ingeneem!” 22Die mag van die Here het my in besit geneem die aand voor die ontsnapte gekom het. Die Here het my in staat gestel om weer te praat voordat die man die oggend by my gekom het. Die Here het my in staat gestel om weer te praat, ek was nie meer stom nie.
Ek maak Israel 'n verlate, verwoeste plek
23Die woord van die Here het tot my gekom: 24“Mens, dié wat daar tussen die puinhope in Israel woon, sê: ‘Abraham was net een mens, en hy het die land as besitting ontvang. Ons is baie; dié land is aan ons gegee as 'n besitting!’ 25Sê vir hulle: So sê die Here my God: Julle het aan heidense offermaaltye deelgeneem, julle het by julle afgode hulp gesoek, julle het bloed vergiet, en julle wil die land as besitting hê? 26Julle staan met die swaard in die hand, julle doen afskuwelike dinge, julle onteer mekaar se vrouens, en julle wil die land as besitting hê?
27“Jy moet vir hulle sê: So sê die Here my God: So seker as Ek leef, wie daar tussen die puinhope is, sal afgemaai word met die swaard; wie in die veld is, sal kos word vir die roofdiere; wie in die berge en grotte skuil, sal aan pes doodgaan. 28Ek maak die land 'n verlate, verwoeste plek; Ek maak 'n einde aan die mag waarop hulle hulle beroem. Die berge van Israel sal verlate wees; niemand sal daar kom nie. 29Wanneer Ek die land 'n verlate, verwoeste plek maak oor al die afskuwelike dinge wat hulle gedoen het, sal hulle besef dat Ek die Here is.”
Hulle sal besef dat daar 'n profeet tussen hulle was
30“Mens, die mense van jou volk praat oor jou oral langs die mure en by die ingange van die huise. Hulle sê vir mekaar: ‘Kom hoor watter boodskap daar van die Here af gekom het’, 31hulle kom na jou toe asof dit 'n volksoptog is, hulle gaan sit voor jou, hierdie volk van My, en hulle hoor wat jy sê, maar hulle doen nie wat jy sê nie. Al wat hulle doen, is om aan die begeertes toe te gee waaroor hulle gedurig praat; hulle is net uit op wins vir hulleself. 32Jy is vir hulle maar net soos iemand wat met 'n mooi stem liedjies vol begeerte sing en die lier goed speel; hulle hoor wat jy sê, maar hulle doen niks van wat jy sê nie. 33Maar wanneer wat jy sê, uitkom, en uitkom sál dit, sal hulle besef dat daar 'n profeet tussen hulle was.”

Currently Selected:

ESEGIËL 33: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy