YouVersion Logo
Search Icon

ESEGIËL 12

12
Hulle sal in ballingskap gaan
1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mens, jy woon tussen 'n weerbarstige volk. Hulle het oë om te sien, maar hulle sien nie. Hulle het ore om te hoor, maar hulle hoor nie. Hulle is 'n weerbarstige volk. 3Jy, mens, moet die goed vat wat jy saam met jou in ballingskap sou wou neem en vandag nog weggaan van waar jy is na 'n ander plek toe asof jy in ballingskap weggaan. Hulle moet jou dit kan sien doen. Miskien sien hulle dit raak, maar hulle is 'n weerbarstige volk. 4Jy moet die goed wat jy in ballingskap sou wou saamvat, vandag uitbring waar hulle dit sien, en vanaand terwyl hulle jou sien, moet jy vertrek asof jy in ballingskap weggaan. 5Breek voor hulle oë 'n gat in die muur en gaan daardeur. 6Sit die goed voor hulle oë op jou skouers en vertrek in die donker. Maak jou gesig toe sodat jy nie die land sien nie. Ek maak jou 'n teken vir Israel.”
7Ek het gedoen wat my beveel is. Ek het die dag my goed wat ek in ballingskap sou wou saamvat, uitgebring en die aand het ek met my hande 'n gat deur die muur gebreek. Ek het in die donker vertrek terwyl ek my goed voor hulle oë op my skouers gedra het.
8Die môre het die woord van die Here tot my gekom: 9“Mens, die weerbarstige volk Israel het vir jou gevra wat maak jy. 10Sê vir hulle: So sê die Here my God: Hierdie uitspraak gaan oor die koning in Jerusalem en oor al die Israeliete wat in die stad is.
11“Jy moet sê: ‘Ek is vir julle 'n teken. Soos ek gedoen het, so sal met julle gedoen word.’
“Hulle sal gevangenes word en in ballingskap weggevoer word. 12Die koning wat tussen hulle is, sal sy goed in die donker op sy skouers sit en vertrek. Hy sal 'n gat deur die muur breek om deur te gaan en hy sal sy gesig toemaak sodat hy nie die land kan sien nie. 13Ek gooi my vangnet oor hom, hy sal gevang word in my net, en Ek sal hom na Babel, na Galdeërland toe bring, maar hy sal dit nie sien nie en sal daar sterf. 14Almal by hom wat hom help, al sy soldate wat hom help, sal Ek in al die windrigtings verstrooi en hulle met die swaard agtervolg. 15Wanneer Ek hulle uitmekaargejaag het onder die nasies in en hulle oor baie lande verstrooi het, sal hulle besef dat Ek die Here is. 16Maar Ek sal 'n paar van hulle laat oorbly ná die oorlog, die hongersnood en die pes sodat hulle van hulle afskuwelike dade kan vertel waar hulle onder die nasies kom en die nasies sal besef dat Ek die Here is.”
17Die woord van die Here het tot my gekom: 18“Mens, jy moet jou kos al bewende eet en jou water met ontsteltenis en met kommer drink. 19En jy moet vir die burgers van die land sê: So sê die Here my God vir die inwoners van Jerusalem, vir die land Israel: Hulle sal hulle kos met kommer eet en hulle water met huiwering drink, want die land sal gestroop word van alles wat daarin is omdat almal wat daar gewoon het, soveel geweld gepleeg het. 20Die stede wat bewoon is, sal puinhope word en die land sal verlate wees. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.”
Wat Ek gesê het, sal nou gebeur
21Die woord van die Here het tot my gekom: 22“Mens, wat se spreekwoord is dit wat julle oor die land Israel het? Julle sê: ‘Die tyd gaan verby en daar kom niks van al die gesigte nie.’ 23Sê vir hulle: So sê die Here my God: Ek maak 'n end aan dié spreekwoord. Hulle sal hom nie weer in Israel gebruik nie. Sê vir hulle: Die tyd kom vinnig nader en so ook die vervulling van elke gesig. 24Daar sal nie meer vertel word van gesigte wat nie daar was nie, en daar sal nie meer gladde waarsêerpraatjies onder Israel wees nie. 25Ek, die Here, sê wat Ek sê, en dit gebeur en word nie meer uitgestel nie. In julle tyd, weerbarstige volk, sê Ek dit, en Ek sal dit doen,” sê die Here my God.
26Die woord van die Here het tot my gekom: 27“Mens, die Israeliete sê: ‘Dié gesig wat hy sien, gaan oor lang tye, hy kondig dinge aan vir die verre toekoms.’ 28Sê vir hulle: So sê die Here my God: Niks van wat Ek gesê het, sal meer uitgestel word nie. Wat Ek gesê het, sal nou gebeur,” sê die Here my God.

Currently Selected:

ESEGIËL 12: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy