YouVersion Logo
Search Icon

EKSODUS 9:13-34

EKSODUS 9:13-34 AFR83

Daarna het die Here vir Moses gesê: “Staan môreoggend vroeg op en gaan na die farao toe en sê vir hom: So sê die Here die God van die Hebreërs: Laat my volk gaan om My te dien, anders gaan Ek jou hierdie keer met 'n groot ramp tref en ook jou amptenare en jou mense. Dan sal jy besef dat daar op die hele aarde niemand soos Ek is nie. Na regte moes Ek nou al my hand uitgesteek het en jou en jou mense met 'n pes van die aarde af uitgewis het. Daar is net een rede waarom Ek jou nog laat lewe, en dit is dat Ek jou my mag kan wys en my Naam daardeur oor die hele wêreld geroem kan word. Nog steeds hou jy jou groot teen my volk en laat jy hulle nie gaan nie. Môre hierdie tyd gaan Ek 'n verskriklike swaar haelstorm laat losbars soos daar nog nooit in die bestaan van Egipte was nie. Laat nou al jou vee en alles wat buite is, na veiligheid bring. Al die mense en diere wat buite is en nie onder dak gebring is nie, sal deur die hael doodgeslaan word.” Die amptenare van die farao wat bang geword het toe hulle hoor wat die Here gesê het, het haastig hulle slawe en vee onder dak gebring, maar dié wat hulle nie aan sy woorde gesteur het nie, het hulle slawe en vee buite laat bly. Toe het die Here vir Moses gesê: “Steek jou hand in die lug op dat daar hael oor die hele Egipte kan kom oor mens en dier, en oor al die plante van Egipte.” Toe Moses sy kierie in die lug opsteek, het die Here donderslae en hael gestuur, en die blitse het tot op die grond geslaan. Die Here het die haelstorm oor Egipte laat losbars. Die hael het geval; tussen die hael deur het die een blits op die ander gevolg, so erg soos dit nog nooit was vandat daar mense in Egipte woon nie. Die hael het die hele Egipte getref, alles wat buite was, mens en dier. Al die plante is deur die hael weggeslaan, selfs al die bome is in repe geslaan. Net in die Gosenstreek, waar die Israeliete was, was daar nie hael nie. Die farao laat roep toe vir Moses en Aäron en sê vir hulle: “Nou erken ek ek was verkeerd. Die Here het reg, ek en my mense is skuldig. Bid tog tot die Here. Die donderslae en hael is vir ons te erg. Ek sal julle laat gaan. Julle hoef nie langer te bly nie.” Toe het Moses vir hom gesê: “Sodra ek uit die stad is, sal ek my hande in gebed na die Here uitsteek. Dan sal die donderslae ophou, en daar sal nie meer hael wees nie, dat u kan besef dat hierdie land aan die Here behoort. Wat u en u amptenare betref, ek weet u het nog nie ontsag vir God, die Here, nie.” Die vlas- en die garsoes is vernietig omdat die gars in die aar en die vlas in die knop was, maar die koring en die sorghum is nie vernietig nie omdat dit later ryp word. Moses is van die farao af weg uit die stad uit, en hy het sy hande in gebed na die Here uitgesteek. Die donderslae en die hael het opgehou en die stortbuie het bedaar. Toe die farao sien die reën, hael en donderslae hou op, het hy maar weer verkeerd gedoen. Hy en sy amptenare was onversetlik.

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy