EKSODUS 9:13-34

EKSODUS 9:13-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daarna het die Here vir Moses gesê: “Staan môreoggend vroeg op en gaan na die farao toe en sê vir hom: So sê die Here die God van die Hebreërs: Laat my volk gaan om My te dien, anders gaan Ek jou hierdie keer met 'n groot ramp tref en ook jou amptenare en jou mense. Dan sal jy besef dat daar op die hele aarde niemand soos Ek is nie. Na regte moes Ek nou al my hand uitgesteek het en jou en jou mense met 'n pes van die aarde af uitgewis het. Daar is net een rede waarom Ek jou nog laat lewe, en dit is dat Ek jou my mag kan wys en my Naam daardeur oor die hele wêreld geroem kan word. Nog steeds hou jy jou groot teen my volk en laat jy hulle nie gaan nie. Môre hierdie tyd gaan Ek 'n verskriklike swaar haelstorm laat losbars soos daar nog nooit in die bestaan van Egipte was nie. Laat nou al jou vee en alles wat buite is, na veiligheid bring. Al die mense en diere wat buite is en nie onder dak gebring is nie, sal deur die hael doodgeslaan word.” Die amptenare van die farao wat bang geword het toe hulle hoor wat die Here gesê het, het haastig hulle slawe en vee onder dak gebring, maar dié wat hulle nie aan sy woorde gesteur het nie, het hulle slawe en vee buite laat bly. Toe het die Here vir Moses gesê: “Steek jou hand in die lug op dat daar hael oor die hele Egipte kan kom oor mens en dier, en oor al die plante van Egipte.” Toe Moses sy kierie in die lug opsteek, het die Here donderslae en hael gestuur, en die blitse het tot op die grond geslaan. Die Here het die haelstorm oor Egipte laat losbars. Die hael het geval; tussen die hael deur het die een blits op die ander gevolg, so erg soos dit nog nooit was vandat daar mense in Egipte woon nie. Die hael het die hele Egipte getref, alles wat buite was, mens en dier. Al die plante is deur die hael weggeslaan, selfs al die bome is in repe geslaan. Net in die Gosenstreek, waar die Israeliete was, was daar nie hael nie. Die farao laat roep toe vir Moses en Aäron en sê vir hulle: “Nou erken ek ek was verkeerd. Die Here het reg, ek en my mense is skuldig. Bid tog tot die Here. Die donderslae en hael is vir ons te erg. Ek sal julle laat gaan. Julle hoef nie langer te bly nie.” Toe het Moses vir hom gesê: “Sodra ek uit die stad is, sal ek my hande in gebed na die Here uitsteek. Dan sal die donderslae ophou, en daar sal nie meer hael wees nie, dat u kan besef dat hierdie land aan die Here behoort. Wat u en u amptenare betref, ek weet u het nog nie ontsag vir God, die Here, nie.” Die vlas- en die garsoes is vernietig omdat die gars in die aar en die vlas in die knop was, maar die koring en die sorghum is nie vernietig nie omdat dit later ryp word. Moses is van die farao af weg uit die stad uit, en hy het sy hande in gebed na die Here uitgesteek. Die donderslae en die hael het opgehou en die stortbuie het bedaar. Toe die farao sien die reën, hael en donderslae hou op, het hy maar weer verkeerd gedoen. Hy en sy amptenare was onversetlik.

EKSODUS 9:13-34 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het vir Moses gesê hy moet die volgende oggend vroeg na die farao toe gaan en vir hom sê dat die Here, die God van die Hebreërs, sê: “Jy moet my volk, die Israeliete, laat gaan sodat hulle My kan dien. As jy nie die Israeliete laat gaan nie, dan sal Ek nou jou en jou amptenare en jou volk nog baie swaarder straf. Dan sal jy weet daar is niemand op die hele aarde wat soos Ek is nie. Ek kan jou en jou volk nou so siek maak dat julle almal sal sterf. Maar Ek laat jou nog lewe. Ek doen dit sodat jy kan sien hoe sterk Ek is, en sodat almal op die aarde my Naam kan eer. Jy dink jy regeer oor my volk en jy wil hulle nie laat gaan nie. Ek sal môre baie hael stuur. Dit het nog nooit in Egipte so baie gehael nie, van die begin af tot vandag toe. Jy moet nou jou bokke en jou ander diere na 'n veilige plek neem, ook al jou goed wat buite in die veld is. Die hael sal val op al die mense en diere in die veld, op almal wat nie onder 'n dak is nie. Die hael sal hulle doodslaan.” Die farao se amptenare wat geluister het na wat die Here gesê het, het hulle slawe en diere na die huise en die stalle gebring. Maar ander amptenare het nie gedoen wat die Here gesê het nie. Hulle het hulle slawe en hulle diere buite laat bly. Die Here sê toe vir Moses: “Steek jou hand op in die lug, dan sal daar hael val oor die hele Egipte, oor al die mense en diere, oor al die plante in Egipte.” Moses het sy kierie opgesteek in die lug. Die Here het donderweer en hael gestuur, en die weerlig het op die aarde geslaan. Die Here het baie hael laat val op Egipte. Dit het baie gehael, en die weerlig het na al die kante toe geslaan. Daar was nog nooit so baie weerlig en hael in die hele Egipte nie, vandat daar mense woon. Die hael het alles in Egipte plat geslaan, alles wat in die veld was, ook al die mense en diere. Die hael het al die plante in die veld plat geslaan, en dit het al die bome in die veld stukkend geslaan. Maar in die land Gosen waar die Israeliete gewoon het, het dit nie gehael nie. Die farao het vir Moses en Aäron laat roep en hy het vir hulle gesê: “Ek besef nou ek het 'n fout gemaak. Die Here was reg, en ek en my volk is verkeerd. Julle moet tot die Here bid. Die vreeslike donderweer en die hael laat ons baie swaar kry. Julle mag nou weggaan. Ek sal julle nie langer hier hou nie.” Moses het vir die farao gesê: “Wanneer ek uit die stad gaan, dan sal ek my hande uitsteek na die Here toe en ek sal bid. Die donderweer sal ophou en daar sal nie meer hael wees nie. Dan sal jy weet dat die aarde aan die Here behoort. Maar ek weet jy en jou amptenare is nog nie bang vir die Here God nie.” Daar was nie meer vlas en gars oor ná die hael nie. Die gars was amper ryp, en die vlas het al klaar knoppe gemaak. Maar daar was nog koring en spelt, want dit word later ryp. Moses het weggegaan van die farao. Hy het uit die stad gegaan en hy het sy hande na die Here toe opgesteek en gebid. Die donderweer en die hael het opgehou, en die reën het nie meer op die aarde geval nie. Toe die farao sien dat die reën en die hael en die donderweer opgehou het, het hy weer verkeerd gedoen. Hy het nie geluister nie, hy en sy amptenare saam met hom.

EKSODUS 9:13-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

VERDER het die HERE aan Moses gesê: Maak jou môre vroeg klaar en stel jou voor Farao en sê vir hom: So spreek die HERE, die God van die Hebreërs: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien. Want hierdie keer sal Ek al my plae in jou hart stuur, en teen jou dienaars en jou volk, dat jy kan weet dat daar niemand op die hele aarde is soos Ek nie. Want anders sou Ek my hand uitgestrek en jou en jou volk met die pes getref het, en jy sou van die aarde verdelg gewees het; maar juis hierom het Ek jou nog laat bestaan, dat Ek jou my krag kan toon, en dat hulle my Naam op die hele aarde kan verkondig. Versit jy jou nog teen my volk, dat jy hulle nie wil laat trek nie? Kyk, Ek sal môre omtrent sulke tyd 'n baie swaar hael laat reën soos wat in Egipte nie gewees het van die dag af dat dit gegrond is tot nou toe nie. Stuur dan nou en laat jou vee en alles wat jy in die veld het, in veiligheid bring; al die mense en die diere wat in die veld gevind word, en wat nie binnekant gebring is nie — op hulle sal die hael val, sodat hulle sterwe. Hy wat die HERE se woord gevrees het onder die dienaars van Farao, het sy slawe en sy vee in die huise laat vlug; maar hy wat op die HERE se woord geen ag gegee het nie, het sy slawe en sy vee in die veld laat bly. Toe sê die HERE vir Moses: Steek jou hand na die hemel uit, en daar sal hael wees in die hele Egipteland, oor mense en diere en oor al die plante van die veld in Egipteland. En Moses het sy staf na die hemel uitgesteek, en die HERE het donder en hael gegee, en vuur het na die aarde uitgeskiet; en die HERE het hael op Egipteland laat reën. En daar was hael en onophoudelike vuur binne-in die hael, baie swaar, soos in die hele Egipteland nooit gewees het vandat dit aan 'n volk behoort het nie. En die hael het in die hele Egipteland geslaan alles wat in die veld was, mense sowel as diere. Ook het die hael al die plante van die veld geslaan en al die bome van die veld verbreek. Net in die land Gosen, waar die kinders van Israel was, was daar geen hael nie. Toe het Farao Moses en Aäron laat roep en vir hulle gesê: Ek het dié keer sonde gedoen. Die HERE is reg, maar ek en my volk het ongelyk. Bid tot die HERE, want daar is oorgenoeg donder van God en hael gewees; dan sal ek julle laat trek, en julle hoef nie langer te bly nie. Toe sê Moses vir hom: So gou as ek die stad uitgaan, sal ek my hande tot die HERE uitbrei: die donder sal ophou en die hael sal nie meer wees nie; sodat u kan weet dat die aarde aan die HERE behoort. Maar wat u en u dienaars betref — ek weet dat julle nog nie ontsag het vir die HERE God nie. En die vlas en die gars was weggeslaan, want die gars was in die aar en die vlas in die knop. Maar die koring en die spelt was nie weggeslaan nie, want hulle is later. So het Moses dan uit die stad gegaan van Farao af weg en sy hande tot die HERE uitgebrei. En die donder en hael het opgehou, en die reën het nie meer op die aarde gegiet nie. Toe Farao sien dat die reën en die hael en die donder ophou, het hy nog verder gesondig en sy hart verhard, hy en sy dienaars.

EKSODUS 9:13-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die HERE het vir Moses gesê: “Staan môreoggend vroeg op en meld jou aan by die farao. Sê vir hom, ‘So sê die HERE, die God van die Hebreërs: “Laat my volk gaan, sodat hulle My kan dien. Want hierdie keer gaan Ek jou met al my plae in die hart tref, ook jou amptenare en jou mense, sodat jy sal weet dat daar op die hele aarde niemand soos Ek is nie. Want Ek kon nou al my hand uitgesteek en jou en jou volk met pessiekte getref het. Jy sou van die aarde af verdwyn het. Maar aan die ander kant, om hierdie rede het Ek jou staande gehou, om jou my krag te toon, sodat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word. Jy verhef jouself nog steeds teen my volk, deur hulle nie te laat gaan nie. Kyk, môre teen hierdie tyd gaan Ek baie swaar hael laat neerreën, soos wat daar nog nooit in Egipte was nie, van die dag dat dit gevestig is tot nou toe. Stuur dan nou mense, en bring jou vee en alles in die veld wat aan jou behoort, na veiligheid. Elke mens en dier wat hom in die veld bevind en nie na veiligheid gebring is nie – op hulle sal die hael val en hulle sal sterf.” ’ ” Van die farao se amptenare wat ontsag gehad het vir die woord van die HERE, het hulle slawe en vee haastig na veiligheid gebring. Maar dié wat nie die woord van die HERE ter harte geneem het nie, het hulle slawe en vee in die veld agtergelaat. Die HERE het vir Moses gesê: “Strek jou hand uit na die hemel, sodat daar hael sal val in die hele Egipteland, op mens en dier en op al die plante in die veld in Egipteland.” Moses het toe sy staf na die hemel uitgesteek, en die HERE het donderslae en hael beskik, terwyl weerligstrale op die grond neerslaan. Die HERE het hael op Egipteland laat neerreën. Daar was hael, en tussen die hael deur het weerligstrale aanhoudend geblits. Dit was 'n baie swaar haelbui, soos wat daar nog nooit in Egipteland was vandat hulle 'n nasie geword het nie. Die hael het die hele Egipteland getref, alles wat in die veld was, mens en dier. Al die plante in die veld is deur die hael platgeslaan, elke boom in die veld is stukkend geslaan. Net in die Gosenstreek, waar die Israeliete was, het daar nie hael geval nie. Die farao het Moses en Aäron ontbied en vir hulle gesê: “Ek het hierdie keer gesondig. Die HERE het gelyk en ek en my volk is verkeerd. Pleit by die HERE, want daar is genoeg donderslae van God, en hael; ek sal julle laat gaan, julle hoef nie langer te bly nie.” Moses het vir hom gesê: “Sodra ek uit die stad is, sal ek my hande na die HERE uitstrek. Die donderslae sal ophou en daar sal nie meer hael wees nie, sodat u kan weet dat die aarde aan die HERE behoort. Maar wat u en u amptenare betref, ek weet dat u nog nie vir die HERE God ontsag het nie.” Die vlas en die gars was weggeslaan, omdat die gars reeds in die aar was, en die vlas in die knopstadium. Maar die koring en die spelt was nie weggeslaan nie, omdat dit eers later opkom. Moses het van die farao af uit die stad gegaan en sy hande na die HERE uitgestrek. Die donderslae en hael het opgehou en die reën het nie meer op die aarde neergegiet nie. Toe die farao sien dat die reën en die hael en die donderslae ophou, het hy weer gesondig. Hy was onversetlik, hy en sy amptenare.

EKSODUS 9:13-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe sê die HERE vir Moses: Staan die môre vroeg op en staan voor Farao en sê vir hom: So spreek die HERE, die God van die Hebreërs: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien. Want Ek sal in hierdie tyd al my plae op jou hart en op jou dienaars en op jou volk stuur; sodat jy kan weet dat daar niemand soos ek op die hele aarde is nie. Want nou sal Ek my hand uitsteek om jou en jou volk met pes te tref; en jy sal van die aarde uitgeroei word. En juis daarom het Ek jou opgewek, om in jou my krag te toon; en dat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word. Verhef U Uself nog teen my volk, dat U hulle nie sal laat trek nie? Kyk, Ek sal môre omtrent hierdie tyd dit 'n baie swaar hael laat reën, soos daar van die grondlegging daarvan af tot nou toe nog nie in Egipte was nie. Stuur dan nou en maak jou vee bymekaar en alles wat jy in die veld het; want op elke mens en dier wat in die veld gevind word en nie tuisgebring word nie, sal die hael op hulle neerdaal, en hulle sal sterwe. Hy wat die woord van die HERE gevrees het onder die dienaars van Farao, het sy dienaars en sy vee na die huise laat vlug. En hy wat nie ag geslaan het op die woord van die HERE nie, het sy dienaars en sy vee in die veld gelos. Toe sê die HERE vir Moses: Steek jou hand uit na die hemel, dat daar hael kan wees in die hele Egipteland, oor mense en diere en oor al die plante van die veld in die hele Egipteland. En Moses het sy staf na die hemel uitgesteek, en die HERE het donderweer en hael gestuur, en die vuur het op die aarde geloop; en die HERE het hael oor Egipteland laat reën. En daar was hael en vuur gemeng met die hael, baie swaar, soos daar nie so iemand in die hele Egipteland was vandat dit 'n nasie geword het nie. En die hael het in die hele Egipteland getref alles wat in die veld was, mense sowel as diere; en die hael het al die plante van die veld getref en al die bome van die veld verbreek. Net in die land Gosen, waar die kinders van Israel was, was daar geen hael nie. Toe het Farao gestuur en Moses en Aäron laat roep en vir hulle gesê: Ek het hierdie keer gesondig; die HERE is regverdig, en ek en my volk is goddeloos. Bid tot die HERE (want dit is genoeg) dat daar geen geweldige donderslae en hael meer sal wees nie; en Ek sal julle laat gaan, en julle sal nie meer bly nie. Toe sê Moses vir hom: Sodra ek uit die stad uitgaan, sal ek my hande na die HERE uitbrei; en die donder sal ophou, en daar sal geen hael meer wees nie; sodat jy kan weet dat die aarde aan die HERE behoort. Maar wat jou en jou dienaars betref, ek weet dat julle die HERE God nog nie sal vrees nie. En die vlas en die gars is geslaan, want die gars was in die aar, en die vlas was bol. Maar die koring en die rie is nie geslaan nie, want hulle was nie groot nie. Toe het Moses van Farao uit die stad uitgegaan en sy hande na die HERE uitgebrei, en die donderslae en die hael het opgehou, en die reën het nie op die aarde uitgegooi nie. En toe Farao sien dat die reën en die hael en die donderslae opgehou het, het hy nog meer gesondig en sy hart verhard, hy en sy dienaars.

EKSODUS 9:13-34 Die Boodskap (DB)

Die Here het toe vir Moses gesê: “Jy moet môreoggend vroeg opstaan en vra of jy met die farao kan praat. Sê dan vir hom: ‘Die Here, die God van die Hebreërs, het van jou geëis: jy moet my volk laat gaan om My te gaan aanbid. Hierdie keer gaan Ek ’n ramp stuur wat jou en die mense wat by jou koninklike paleis werk en jou hele volk baie persoonlik gaan raak. Jy sal nou baie deeglik besef dat daar niemand anders op die aarde is wat soos Ek is nie. Ek moes eintlik al lankal my krag gebruik het om jou en jou mense met ’n ramp van die aarde af weg te vee. Ek het jou egter gespaar sodat my Naam oor die hele wêreld bekend sal word wanneer jy sien hoe sterk Ek werklik is. Jy het mos aangehou om moedswillig met my volk te wees. Jy wou hulle nie laat gaan nie. Ek gaan môre hierdie tyd ’n vernietigende haelstorm oor Egipte laat losbars soos hierdie land in sy hele geskiedenis nog nie gesien het nie. Jy moet betyds jou mense beveel om al jou vee en alles wat buite is, dadelik onderdak te bring. Die hael sal al die mense en diere doodslaan wat nie beskerm word nie.’” Die mense wat vir die farao gewerk het en wat hulle gesteur het aan wat die Here gesê het, het vinnig hulle werkers en hulle vee onderdak gekry. Die ander wat die skouers opgehaal het vir die Here se woorde, het hulle werkers en hulle vee buite in die veld gelos. Die Here het toe vir Moses gesê om sy hand na die wolke toe uit te steek sodat daar hael kan val op al die mense en diere en plante oor die hele Egipte. Toe Moses sy kierie na die lug uitsteek, het die Here weerligslae en hael laat kom. Blitse het op die aarde geslaan. Die Here het ’n yslike haelstorm oor Egipte laat losbars. Daar was ’n storm met haelstene en onophoudelike weerlig oor die hele Egipte soos daar nog nooit tevore was nie. Die hael het oor die hele land geval. Dit het alles platgeslaan wat buite in die veld was: mens en dier en plant, alles. Die hael het selfs die bome in die veld weggeslaan. Die enigste plek waar dit glad nie gehael het nie, was in Gosen waar die Israeliete gewoon het. Die farao het Moses en Aäron toe dringend laat kom. Hy het vir hulle gesê: “Ek het ’n fout gemaak. Hierdie keer is die Here reg. Ek en my volk is verkeerd. Bid asseblief tot die Here. Hierdie verskriklike donderslae en hael is te veel vir ons. Ek sal julle laat trek. Julle hoef my nie weer te kom vra om te gaan nie.” “Goed,” sê Moses vir hom, “sodra ek uit die stad uit is, sal ek tot die Here bid dat die donderstorm moet bedaar en dat die hael moet ophou. U sal dan besef dat die Here in beheer van die land is. Ek besef egter baie duidelik dat u en u mense nog glad nie die nodige respek vir die Here God het nie.” Die hele vlas- en garsoes is weggeslaan. Die gars was al in die aar en die vlas het net mooi begin uitstoot. Die koring en die hawer is darem nie vernietig nie omdat dit eers later moes opkom. Moses is toe van die farao af weg. Hy het net buite die stad tot die Here gebid. Die donderstorm en hael het opgehou en dit het ophou reën. Toe die farao sien dat die storm oor is, het hy maar net voortgegaan met sy sonde. Hy en sy amptenare het aanhou weier.

EKSODUS 9:13-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe sê die HERE vir Moses: “Staan môre-oggend vroeg op en gaan sê vir die farao: ‘Die HERE, die God van die Hebreërs, sê: Laat my volk gaan sodat hulle My kan gaan aanbid. As jy hulle nie toelaat nie, gaan Ek ’n ramp stuur wat jou en jou amptenare en jou volk werklik gaan ruk. Jy sal dan verseker weet dat daar nie nog iemand soos Ek op die hele aarde is nie. Ek kon jou al lankal doodgemaak het. Ek kon jou en jou volk ook al lankal met rampe van die aarde af weggevee het. Ek het jou egter gespaar sodat jy kan sien hoe magtig Ek is en dat my Naam oor die hele aarde bekend sal word. Jy hou aan om jouself belangriker te ag as my volk en te weier om hulle te laat gaan. Ek gaan môre hierdie tyd die grootste haelstorm wat daar nog ooit gesien is oor Egipte stuur. Laat dadelik al jou vee en alles van jou wat buite in die veld is, terugkom. Enige mens of dier wat buite in die veld gevang word en nie onder dak is nie, sal nie die storm oorleef nie.’” Die amptenare van die farao wat hulle gesteur het aan wat die HERE gesê het, het dadelik hulle vee en werkers na veiligheid gebring. Dié wat hulle skouers opgetrek het vir wat die HERE gesê het, het hulle werkers en hulle vee net daar in die veld gelos. Die HERE sê toe vir Moses: “Steek jou hand op in die lug. Oor die hele Egipte sal daar hael val op mens en dier en oor al die plante oor die hele land.” Moses het toe sy stok in die lug opgesteek. Die HERE het toe donderweer en hael laat kom en weerlig oor die hele aarde laat uitslaan. Die HERE het ’n geweldige haelstorm oor die hele Egipte laat losbars. Daar was nog nooit in Egipte se geskiedenis so ’n groot haelstorm met soveel onophoudelike weerlig nie. Die haelstorm het deur die hele Egipte getrek. Dit het alles in die veld – mens, dier en plante – platgeslaan. Daar het nie ’n boom bly staan nie. Die enigste plek waar daar op daardie dag nie hael geval het nie, was in Gosen waar die Israeliete gebly het. Die farao het toe dringend vir Moses en Aäron laat roep. Hy het vir hulle gesê: “Ek het verkeerd gemaak. Hierdie keer is die HERE reg. Ek en my mense is verkeerd. Bid tog tot die HERE dat Hy hierdie verskriklike weerlig en hael laat ophou. Ek sal julle laat gaan. Julle hoef nie langer te bly nie.” “Goed so,” het Moses geantwoord. “Sodra ek uit die stad is, sal ek tot die HERE bid om die hael en weerlig te laat ophou. Jy sal dan weet dat die aarde aan die HERE behoort. Ek weet egter dat jy en jou amptenare nog glad nie in die HERE glo nie.” Die vlas- en garsoes was daarmee heen. Die gars was op daardie stadium vol in die aar en die vlas het begin knoppe maak. Die koring en die hawer was darem nog veilig, want dit het nog nie opgekom nie. Moses is toe van die farao af weg en uit die stad uit. Toe hy sy hande opsteek en begin bid, het die weerlig opgehou slaan. Die hael en reën het opgehou val. Toe die farao sien dat die weerlig ophou en die storm bedaar, het hy en sy amptenare maar weer begin oortree en geweier om te doen wat hulle belowe het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid