YouVersion Logo
Search Icon

EKSODUS 8:20-32

EKSODUS 8:20-32 AFR83

Daarna het die Here vir Moses gesê: “Staan môreoggend vroeg op en gaan wag vir die farao by die water. Hy sal juis op pad wees soontoe. Sê vir hom: So sê die Here: Laat my volk gaan om My te dien, want as jy my volk nie laat gaan nie, sal Ek steekvlieë op jou loslaat, op jou amptenare, op jou mense en in jou huise. In die huise van die Egiptenaars en ook op hulle lande sal dit swerm van die steekvlieë. Maar dié dag sal Ek 'n uitsondering maak van die Gosenstreek waar my volk woon. Dáár sal nie 'n enkele steekvlieg wees nie, dat jy kan besef dat Ek, die Here, in die land is. Ek neem mý volk in beskerming, joune nie. Net môre sal hierdie wonder gebeur.” Die Here het dit toe gedoen. Groot swerms steekvlieë het in die paleis van die farao in gekom, in die huise van sy amptenare en oor die hele Egipte. Die land is daardeur lam gelê. Toe roep die farao vir Moses en Aäron en sê: “Julle kan vir julle God gaan offer, maar hier in dié land!” Maar Moses antwoord: “Dit kan ons nie doen nie, want ons offers aan ons God, die Here, gee aanstoot aan die Egiptenaars. As ons nou hier voor hulle oë offers bring wat vir hulle aanstootlik is, sal hulle ons mos met klippe doodgooi! Ons wil maar net drie dagreise ver die woestyn in gaan om aan ons God, die Here, te offer soos Hy ons beveel het.” Hierna sê die farao: “Dan laat ek julle nou maar gaan om in die woestyn vir julle God, die Here, te offer. Moet net nie te ver weg gaan nie, en bid vir my.” Toe antwoord Moses: “Ek gaan nou weg van u af en sal die Here bid dat die steekvlieë môre van u af padgee en van u amptenare en u mense af. U Majesteit moet nou net nie weer u woord breek deur die volk nie te laat gaan om vir die Here te offer nie!” Moses het weggegaan van die farao af en tot die Here gebid. Die Here het toe gedoen wat Moses gevra het en die steekvlieë van die farao af laat padgee, en van sy amptenare en sy mense af. Daar het nie een oorgebly nie. En tog het die farao ook hierdie keer onversetlik gebly en die volk nie laat gaan nie.

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy