EKSODUS 8:20-32

EKSODUS 8:20-32 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het vir Moses gesê: “Gaan môre-oggend vroeg en wag vir die farao wanneer hy na die rivier kom. Sê vir hom die Here sê hy moet die Israeliete laat gaan sodat hulle Hom kan dien. As hy nie die Israeliete laat gaan nie, dan sal Ek steekvlieë stuur. Die steekvlieë sal op die farao, op sy amptenare, op sy mense en in hulle huise wees. Die huise van die Egiptenaars sal vol steekvlieë wees, ook die hele land. Maar dieselfde sal nie gebeur in die land Gosen waar my volk woon nie. Daar sal nie steekvlieë wees nie. Dan sal die farao weet dat Ek die Here is in hierdie land. Ek sal my volk beskerm, maar Ek sal nie die Egiptenaars beskerm nie. Dit sal môre gebeur en dit sal bewys dat Ek die Here is.” Die Here het dit toe gedoen. Daar het baie groot swerms steekvlieë gekom na die farao se huis, na sy amptenare se huise en na die hele Egipte. Al die mense in die land het baie swaar gekry omdat daar so baie steekvlieë was. Die farao het vir Moses en Aäron geroep en gesê: “Julle mag vir julle God offers gaan bring, maar julle moet dit in hierdie land doen.” Moses het gesê: “Nee, dit sal nie reg wees om in hierdie land offers te bring nie, want die Egiptenaars haat dit wanneer ons vir die Here offers bring. Wanneer hulle sien ons bring offers, dan sal hulle ons met klippe doodgooi. Ons wil in die woestyn ingaan, so ver soos 'n mens in drie dae kan loop, en ons wil daar vir ons God die Here offers bring, soos Hy vir ons gesê het.” Toe sê die farao: “Ek sal julle laat gaan sodat julle vir julle God die Here in die woestyn offers kan bring. Maar julle mag nie baie ver gaan nie en julle moet vir my bid.” Moses het gesê: “Ek gaan nou weg van jou en ek sal bid en vir die Here vra dat die steekvlieë môre moet weggaan van jou, weg van jou amptenare en van jou volk. Maar jy moenie weer anders besluit en sê ons mag nie gaan om vir die Here offers te bring nie.” Moses het weggegaan van die farao en hy het tot die Here gebid soos die farao gevra het. Die Here het gedoen wat Moses gevra het. Hy het die steekvlieë weggevat van die farao, en ook van sy amptenare en van sy volk. Daar het nie een steekvlieg oorgebly nie. Maar die farao was weer hardkoppig. Hy het nie die Israeliete laat gaan nie.

EKSODUS 8:20-32 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

VERDER het die HERE vir Moses gesê: Maak jou môre vroeg klaar en stel jou voor Farao — kyk, hy sal na die water toe uitgaan — en sê vir hom: So spreek die HERE: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien. Want as jy my volk nie laat trek nie, kyk, dan stuur Ek teen jou en teen jou dienaars en teen jou volk en teen jou huise die steekvlieë, sodat die huise van die Egiptenaars vol steekvlieë sal wees, en selfs die grond waar hulle op staan. Maar Ek sal op dié dag met die land Gosen, waarin my volk woon, 'n uitsondering maak, dat daar geen steekvlieë sal wees nie; sodat jy kan weet dat Ek die HERE is in die land. En Ek sal 'n verlossing stel tussen my volk en jou volk. Môre sal hierdie teken plaasvind. En die HERE het so gedoen: dik swerms steekvlieë het in die huis van Farao en in die huis van sy dienaars en in die hele Egipteland gekom; die land is deur die steekvlieë verwoes. Toe laat Farao Moses en Aäron roep en sê: Gaan heen, offer aan julle God in die land. Maar Moses antwoord: Dit is nie reg om so te doen nie; want wat ons aan die HERE onse God offer, is 'n gruwel vir die Egiptenaars. As ons iets wat 'n gruwel is vir die Egiptenaars, voor hulle oë offer, sal hulle ons dan nie stenig nie? Laat ons drie dagreise ver die woestyn intrek, dat ons aan die HERE onse God kan offer soos Hy ons sal beveel. Toe sê Farao: Ek sal julle laat trek, dat julle aan die HERE julle God kan offer in die woestyn; julle moet maar net nie te ver wegtrek nie. Bid vir my. En Moses antwoord: Kyk, ek gaan van u af weg en sal tot die HERE bid, dat die steekvlieë môre Farao, sy dienaars en sy volk mag verlaat. Laat Farao ons net nie langer bedrieg deur die volk nie te laat trek om aan die HERE te offer nie. Toe het Moses van Farao af weggegaan en tot die HERE gebid. En die HERE het gedoen volgens die woord van Moses: Hy het die steekvlieë van Farao, van sy dienaars en sy volk weggeneem. Daar het nie een oorgebly nie. Maar Farao het sy hart ook hierdie keer verhard en die volk nie laat trek nie.

EKSODUS 8:20-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daarna het die Here vir Moses gesê: “Staan môreoggend vroeg op en gaan wag vir die farao by die water. Hy sal juis op pad wees soontoe. Sê vir hom: So sê die Here: Laat my volk gaan om My te dien, want as jy my volk nie laat gaan nie, sal Ek steekvlieë op jou loslaat, op jou amptenare, op jou mense en in jou huise. In die huise van die Egiptenaars en ook op hulle lande sal dit swerm van die steekvlieë. Maar dié dag sal Ek 'n uitsondering maak van die Gosenstreek waar my volk woon. Dáár sal nie 'n enkele steekvlieg wees nie, dat jy kan besef dat Ek, die Here, in die land is. Ek neem mý volk in beskerming, joune nie. Net môre sal hierdie wonder gebeur.” Die Here het dit toe gedoen. Groot swerms steekvlieë het in die paleis van die farao in gekom, in die huise van sy amptenare en oor die hele Egipte. Die land is daardeur lam gelê. Toe roep die farao vir Moses en Aäron en sê: “Julle kan vir julle God gaan offer, maar hier in dié land!” Maar Moses antwoord: “Dit kan ons nie doen nie, want ons offers aan ons God, die Here, gee aanstoot aan die Egiptenaars. As ons nou hier voor hulle oë offers bring wat vir hulle aanstootlik is, sal hulle ons mos met klippe doodgooi! Ons wil maar net drie dagreise ver die woestyn in gaan om aan ons God, die Here, te offer soos Hy ons beveel het.” Hierna sê die farao: “Dan laat ek julle nou maar gaan om in die woestyn vir julle God, die Here, te offer. Moet net nie te ver weg gaan nie, en bid vir my.” Toe antwoord Moses: “Ek gaan nou weg van u af en sal die Here bid dat die steekvlieë môre van u af padgee en van u amptenare en u mense af. U Majesteit moet nou net nie weer u woord breek deur die volk nie te laat gaan om vir die Here te offer nie!” Moses het weggegaan van die farao af en tot die Here gebid. Die Here het toe gedoen wat Moses gevra het en die steekvlieë van die farao af laat padgee, en van sy amptenare en sy mense af. Daar het nie een oorgebly nie. En tog het die farao ook hierdie keer onversetlik gebly en die volk nie laat gaan nie.

EKSODUS 8:20-32 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die HERE het vir Moses gesê: “Staan môreoggend vroeg op en meld jou aan by die farao. Kyk, hy gaan uit na die water. Sê vir hom, ‘So sê die HERE: “Laat my volk gaan, sodat hulle My kan dien. Want as jy my volk nie laat gaan nie – kyk, Ek gaan op jou en jou amptenare en jou mense en in jou huise steekvlieë loslaat. Die huise van die Egiptenare sal vol steekvlieë wees, selfs op die grond waarop hulle staan. Maar op daardie dag sal Ek 'n uitsondering maak van die Gosenstreek, waar my volk 'n staanplek het. Daar sal nie steekvlieë wees nie, sodat jy kan weet dat Ek, die HERE, hier in die land is. Ek sal onderskeid maak tussen my volk en jou volk. Môre sal hierdie teken plaasvind.” ’ ” Die HERE het dit toe so gedoen. Digte swerms steekvlieë het die paleis van die farao en die huise van sy amptenare binnegedring. In die hele Egipteland het die land skade gely as gevolg van die steekvlieë. Die farao het Moses en Aäron ontbied en gesê: “Gaan, offer vir julle God in die land!” Maar Moses het geantwoord: “Dit is nie reg om dit so te doen nie, want dit is afstootlik vir die Egiptenare wanneer ons vir die HERE ons God offer. As ons dit wat afstootlik is vir die Egiptenare voor hulle oë offer, sal hulle ons nie dan stenig nie? Ons wil drie dagreise ver die woestyn ingaan om vir die HERE ons God te offer, soos Hy vir ons sê.” Daarop het die farao gesê: “Ek sal julle laat gaan, dat julle vir die HERE julle God in die woestyn kan offer. Julle mag net nie te ver weggaan nie. En pleit vir my! ” Moses het toe gesê: “Kyk, wanneer ek van u af weggaan, sal ek by die HERE pleit dat die steekvlieë môre van die farao, sy amptenare en van sy volk af padgee. Mag dit net nie so wees dat die farao weer die spot dryf deur die volk nie te laat gaan om vir die HERE te offer nie.” Moses het van die farao af weggegaan en by die HERE gepleit. Die HERE het toe volgens Moses se versoek opgetree: Die steekvlieë het van die farao, sy amptenare, en van sy volk af padgegee. Daar het nie een oorgebly nie. Maar die farao was ook hierdie keer onversetlik, en het die volk nie laat gaan nie.

EKSODUS 8:20-32 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe sê die HERE vir Moses: Staan die môre vroeg op en staan voor Farao; kyk, Hy kom uit na die water; en sê vir hom: So spreek die HERE: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien. Anders, as jy my volk nie laat trek nie, kyk, Ek stuur swerms vlieë teen jou en jou dienaars en jou volk en in jou huise; en die huise van die Egiptenaars sal vol swerms vlieë wees, en ook die grond waarop hulle is. En Ek sal in dié dag die land Gosen, waarin my volk woon, afsny, dat daar geen swerms vlieë sal wees nie; tot die einde kan jy weet dat Ek die HERE is in die middel van die aarde. En Ek sal 'n skeiding maak tussen my volk en jou volk; môre sal hierdie teken wees. En die HERE het so gedoen; en 'n swerm vlieë het in die huis van Farao en in die huise van sy dienaars en in die hele Egipteland gekom; Toe het Farao Moses en Aäron laat roep en gesê: Gaan, offer aan julle God in die land. Toe sê Moses: Dit is nie reg om so te doen nie; want ons sal die gruwel van die Egiptenaars aan die HERE onse God offer; kyk, sal ons die gruwel van die Egiptenaars voor hulle oë offer, en sal hulle ons nie stenig nie? Ons sal drie dagreise na die woestyn gaan en aan die HERE onse God offer, soos Hy ons beveel het. Toe sê Farao: Ek sal julle laat trek, dat julle in die woestyn aan die HERE julle God kan offer; maar julle mag nie baie ver weggaan nie; bid vir my. Toe sê Moses: Kyk, ek gaan van jou uit en ek sal die HERE smeek dat die swerms vlieë môre van Farao, van sy dienaars en van sy volk mag wyk; maar laat Farao nie meer bedrieglik handel nie die volk laat gaan om aan die HERE te offer. En Moses het van Farao af weggegaan en die HERE gebid. En die HERE het gedoen volgens die woord van Moses; en hy het die swerms vlieë van Farao, van sy dienaars en van sy volk verwyder; daar het nie een oorgebly nie. En Farao het ook in hierdie tyd sy hart verhard, en hy het die volk nie laat trek nie.

EKSODUS 8:20-32 Die Boodskap (DB)

Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet môreoggend vroeg opstaan en vir die farao gaan wag wanneer hy na die water toe kom. Jy moet weer vir hom sê dat die Here van hom eis: ‘Laat my volk toe om te gaan en My te aanbid. As jy nie my volk toelaat om te gaan nie, sal Ek swerms vlieë op jou en jou amptenare en jou volk en julle huise loslaat. In die huise van Egipte en oral in die land sal dit wemel van die vlieë. Ek sal egter ’n uitsondering maak van Gosen, waar my volk woon. Daar sal nie vlieë wees nie. Jy sal dan weet dat Ek, die Here, baas is oor hierdie land en daarmee kan maak soos Ek wil. Ek sal my mense anders behandel as jou mense. Hierdie ding sal môre gebeur.’” Die Here het toe gemaak soos Hy gesê het. Daar het groot swerms vlieë in die farao en sy mense se huise gekom en ook oor die hele land. Die hele land is in chaos gedompel deur die vlieëplaag. Die farao het Moses en Aäron toe laat roep: “Goed, julle kan vir julle God gaan offer, maar dit moet hier in dié land wees.” “Ons kan dit nie hier doen nie,” het Moses hom geantwoord. “Die offers wat ons vir die Here ons God bring, is grillerig vir die mense van Egipte. As ons hier offer waar die Egiptenaars ons kan sien, sal dit vir hulle so gruwelik wees dat hulle ons met klippe sal doodgooi. Gee eerder vir ons drie dae om in die woestyn in te gaan. Ons wil daar gaan offer vir die Here ons God, op die manier wat Hy vir ons voorgeskryf het.” “Goed,” sê die farao toe, “ek sal julle toelaat om in die woestyn vir die Here julle God te gaan offer. Julle mag net nie baie ver in die woestyn ingaan nie. Bid ook sommer dat hierdie plaag kan ophou.” Moses sê toe: “Wanneer ek van hier af weggaan, sal ek by die Here pleit dat die vlieë môre van u en u amptenare en u volk moet padgee. U moet net nie weer met ons speletjies probeer speel en daarna weier dat die volk kan gaan om vir die Here te offer nie.” Moses is toe weg van die farao af en het tot die Here gebid om die vlieë weg te vat. Die Here het dan ook gemaak soos Moses belowe het: Hy het die vlieë van die farao en sy amptenare en sy volk af laat padgee. Daar het nie eens een oorgebly nie. Die farao het egter weereens moedswillig geraak en sy woord verbreek. Hy het weer ’n keer geweier om die volk te laat gaan.

EKSODUS 8:20-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE het nog verder vir Moses gesê: “Staan môre vroeg op en gaan ontmoet die farao wanneer hy op pad is na die rivier toe. Sê vir hom: ‘Die HERE sê: Jy moet my volk laat gaan sodat hulle My kan gaan aanbid. As jy my volk nie toelaat om te gaan nie, gaan Ek swerms vlieë op jou, jou werkers, jou volk en jou huise laat toesak. Die huise in Egipte sal vol vlieë wees. Dit sal oral op die grond wemel van die vlieë. Ek sal op daardie dag ’n uitsondering maak van Gosen waar my volk bly. Daar sal nie vlieë wees nie. Daaraan sal jy weet dat Ek die HERE is en dat Ek mag het oor jou land. Ek sal baie duidelik onderskei tussen my mense en jou mense. Hierdie teken gaan môre gebeur.’” Die HERE het net so gemaak soos Hy gesê het. Daar het groot swerms vlieë in die farao se paleis, sy werkers se huise en oor die hele Egipte gekom. Die hele land was in chaos as gevolg van die vlieë. Die farao het Moses en Aäron haastig laat roep. “Goed,” het hy gesê. “Julle kan hier in die land vir julle God offer.” Moses het hom egter geantwoord: “Ons kan dit nie so doen nie. Die Egiptenaars sal gril vir die offers wat ons vir die HERE bring. As ons hier offer waar hulle dit kan sien, gaan hulle ons met klippe doodgooi. Ons moet drie dae ver die woestyn in trek om daar vir die HERE te offer. Dit is wat Hy gesê het ons moet doen.” “Maak dan so,” het die farao gesê. “Ek sal julle toelaat om vir julle God in die woestyn te gaan offer. Moenie te ver weg gaan nie. Bid sommer vir my ook!” “Sodra ek weg is,” het Moses gesê, “sal ek tot die HERE bid om die vlieë van u en u mense weg te vat. Moenie weer omvlieg en van plan verander dat die volk nie kan gaan offer nie.” Moses is weg van die farao af. Hy het die HERE gevra om die vlieë weg te vat. Die HERE het gemaak soos Moses gevra het. Hy het die vlieë van die farao, sy werkers en sy volk laat verdwyn. Daar het nie ’n enkele vlieg in Egipte oorgebly nie. Die farao het egter viervoet vasgesteek en geweier om die volk te laat gaan.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid