YouVersion Logo
Search Icon

EKSODUS 8:1-15

EKSODUS 8:1-15 AFR83

Daarna sê die Here vir Moses: “Gaan sê vir die farao: So sê die Here: Laat my volk gaan om My te dien. As jy weier om hulle te laat gaan, sal Ek jou hele gebied met 'n paddaplaag tref. Die Nyl sal wemel van die paddas. Hulle sal uitspring en in jou paleis kom, in jou slaapkamer, op jou bed, in jou amptenare se huise, tussen jou mense, in jou bakoonde en in jou skottels. Die paddas sal op jou en op jou mense en al jou amptenare spring.” Verder sê die Here vir Moses: “Sê vir Aäron: Swaai jou kierie oor die kanale, riviere en moerasse. Laat daar paddas kom oor Egipte.” Aäron swaai toe sy kierie oor al die water van Egipte en toe kom die paddas: Egipte was oortrek van hulle. Tog het die towenaars met hulle towerkunste dieselfde gedoen en ook paddas oor Egipte laat kom. Hierna roep die farao vir Moses en Aäron en sê: “Julle moet die Here bid dat Hy die paddas van my en my mense af wegvat. Dan sal ek die volk laat gaan dat hulle vir die Here kan gaan offer.” Moses antwoord toe: “Soos dit U Majesteit behaag. Wanneer sal ek vir u, u amptenare en u mense bid dat die paddas heeltemal van u en u huise af weggevat kan word, en daar net in die Nyl nog van hulle sal oorbly?” En die farao antwoord: “Doen dit môre.” Toe sê Moses: “Goed, dan sal u besef dat daar geen god is soos ons God, die Here, nie. Die paddas sal van u af weggevat word, van u huise, u amptenare en u mense af; net in die Nyl sal daar nog paddas oorbly.” Moses en Aäron het van die farao af weggegaan en Moses het die Here aangeroep oor die paddas wat Hy oor die farao gebring het. Die Here het gedoen wat Moses gevra het, en die paddas het gevrek, in die huise, in die binneplase en op die lande. Die mense het dit hope-hope bymekaargehark, en die land het daarvan gestink. Maar toe die farao sien dat daar verligting gekom het, het hy weer onversetlik geword. Hy het nie aan Moses-hulle se versoek gehoor gegee nie, soos die Here vooraf gesê het.

Free Reading Plans and Devotionals related to EKSODUS 8:1-15

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy