EKSODUS 8:1-15

EKSODUS 8:1-15 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het vir Moses gesê hy moet na die farao toe gaan en vir hom sê: “Die Here sê jy moet sy volk laat gaan sodat hulle Hom kan dien. As jy hulle nie laat gaan nie, dan sal Hy jou hele land straf en Hy sal die land vol paddas maak. Die paddas sal baie word in die Nyl-rivier en hulle sal uit die water spring. Hulle sal in jou huis ingaan, in jou slaapkamer en op jou bed. Hulle sal ook in jou amptenare se huise ingaan, tussen die mense, in julle oonde en in julle skottels. Die paddas sal opspring teen jou en teen die mense en teen al jou amptenare.” Die Here het vir Moses gesê hy moet vir Aäron sê: “Hou jou kierie oor al die plekke waar daar water is, sodat daar oral in Egipte paddas kan kom.” Aäron het sy hand oor die water van Egipte gehou. Baie paddas het toe uit die water gekom, so baie dat 'n mens nie die grond in Egipte kon sien nie. Maar die towenaars het dieselfde gedoen, hulle het ook baie paddas oor Egipte laat kom. Die farao roep toe vir Moses en Aäron en hy sê: “Julle moet bid en vir die Here vra Hy moet die paddas wegvat van my en my mense. Dan sal ek die Israeliete laat gaan, sodat hulle vir die Here offers kan bring.” Moses het vir die farao gesê: “Sê jy vir my wanneer ek vir die Here moet vra om die paddas weg te vat van jou en jou amptenare en jou mense, uit almal se huise uit. Dan sal net die paddas in die Nyl-rivier oorbly.” Die farao het gesê: “Môre.” Toe sê Moses: “Dit sal gebeur soos jy sê, sodat jy kan weet daar is nie nóg 'n god soos ons God, die Here, nie. Die paddas sal weggaan van jou en van jou huise en van jou amptenare en van jou mense. Net die paddas in die Nyl-rivier sal oorbly.” Moses en Aäron het van die farao af weggegaan. Moses het gebid en vir die Here gevra dat Hy die paddas moet wegvat wat Hy gestuur het om die farao te straf. Die Here het gedoen wat Moses gevra het. Al die paddas het gevrek, die paddas in die huise, die paddas buite die huise en die paddas in die veld. Die mense het die paddas bymekaargemaak en alles opmekaar gegooi. Die land het gestink. Maar toe die farao sien die paddas is weg, het hy weer hardkoppig geword. Hy het nie na Moses en Aäron geluister nie. Dit het gebeur soos die Here gesê het.

EKSODUS 8:1-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

VERDER het die HERE met Moses gespreek: Gaan na Farao en sê vir hom: So spreek die HERE: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien. En as jy weier om hulle te laat trek, kyk, dan sal Ek jou hele grondgebied met paddas teister, sodat die Nyl van paddas sal wemel. En hulle sal opklim en in jou huis kom en in jou slaapkamer en op jou bed; ook in die huis van jou dienaars en onder jou volk, en in jou bakoonde en in jou bakskottels. En die paddas sal teen jou en teen jou volk en teen al jou dienaars opspring. Verder het die HERE met Moses gespreek: Sê aan Aäron: Steek jou hand uit met jou staf oor die strome en oor die kanale en oor die waterkuile, en laat die paddas opkom oor Egipteland. En Aäron het sy hand oor die waters van Egipte uitgesteek, en daar het paddas opgekom en Egipteland oordek. Maar die towenaars het dieselfde gedoen met hulle towerkunste en paddas laat opkom oor Egipteland. Toe het Farao Moses en Aäron laat roep en gesê: Bid tot die HERE, dat Hy die paddas van my en van my volk wegneem. Dan sal ek die volk laat trek, dat hulle aan die HERE kan offer. Maar Moses sê aan Farao: Aan u die eer bo my! Teen watter tyd moet ek vir u en u dienaars en vir u volk bid, dat die paddas van u en uit u huise uitgeroei word om net in die Nyl oor te bly? En hy antwoord: Teen môre. Toe sê hy: Dit sal wees volgens u woord, dat u kan weet dat daar niemand is soos die HERE onse God nie. En die paddas sal u en u huise en u dienaars en u volk verlaat. Net in die Nyl sal hulle oorbly. Toe het Moses en Aäron van Farao af weggegaan; en Moses het tot die HERE geroep vanweë die paddas wat Hy oor Farao beskik het. En die HERE het gedoen volgens die woord van Moses: die paddas het weggesterwe uit die huise, van die plase af en uit die veld. En hulle het dit by hope bymekaargemaak, en die land het gestink. En toe Farao sien dat daar verligting kom, het hy sy hart verhard en na hulle nie geluister nie, soos die HERE gespreek het.

EKSODUS 8:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daarna sê die Here vir Moses: “Gaan sê vir die farao: So sê die Here: Laat my volk gaan om My te dien. As jy weier om hulle te laat gaan, sal Ek jou hele gebied met 'n paddaplaag tref. Die Nyl sal wemel van die paddas. Hulle sal uitspring en in jou paleis kom, in jou slaapkamer, op jou bed, in jou amptenare se huise, tussen jou mense, in jou bakoonde en in jou skottels. Die paddas sal op jou en op jou mense en al jou amptenare spring.” Verder sê die Here vir Moses: “Sê vir Aäron: Swaai jou kierie oor die kanale, riviere en moerasse. Laat daar paddas kom oor Egipte.” Aäron swaai toe sy kierie oor al die water van Egipte en toe kom die paddas: Egipte was oortrek van hulle. Tog het die towenaars met hulle towerkunste dieselfde gedoen en ook paddas oor Egipte laat kom. Hierna roep die farao vir Moses en Aäron en sê: “Julle moet die Here bid dat Hy die paddas van my en my mense af wegvat. Dan sal ek die volk laat gaan dat hulle vir die Here kan gaan offer.” Moses antwoord toe: “Soos dit U Majesteit behaag. Wanneer sal ek vir u, u amptenare en u mense bid dat die paddas heeltemal van u en u huise af weggevat kan word, en daar net in die Nyl nog van hulle sal oorbly?” En die farao antwoord: “Doen dit môre.” Toe sê Moses: “Goed, dan sal u besef dat daar geen god is soos ons God, die Here, nie. Die paddas sal van u af weggevat word, van u huise, u amptenare en u mense af; net in die Nyl sal daar nog paddas oorbly.” Moses en Aäron het van die farao af weggegaan en Moses het die Here aangeroep oor die paddas wat Hy oor die farao gebring het. Die Here het gedoen wat Moses gevra het, en die paddas het gevrek, in die huise, in die binneplase en op die lande. Die mense het dit hope-hope bymekaargehark, en die land het daarvan gestink. Maar toe die farao sien dat daar verligting gekom het, het hy weer onversetlik geword. Hy het nie aan Moses-hulle se versoek gehoor gegee nie, soos die Here vooraf gesê het.

EKSODUS 8:1-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die HERE het vir Moses gesê: “Gaan na die farao en sê vir hom, ‘So sê die HERE: “Laat my volk gaan, sodat hulle My kan dien. As jy bly weier om hulle te laat gaan – kyk, Ek gaan jou hele grondgebied met paddas tref. Die Nyl sal wemel van die paddas. Hulle sal opkom en in jou huis kom, in jou slaapkamer en op jou bed; in die huise van jou amptenare en by jou mense; in jou bakoonde en jou knieskottels. Op jou en jou mense en op al jou amptenare sal die paddas spring.” ’ ” Die HERE sê toe vir Moses: “Sê vir Aäron, ‘Strek jou hand, met jou staf, uit oor die riviere, die kanale en oor die vleilande, en laat die paddas opkom oor Egipteland.’ ” Aäron strek toe sy hand uit oor die waters van Egipte, en die paddas het opgekom en Egipteland oordek. Maar die waarsêerpriesters het dieselfde gedoen met hulle towerkuns, en paddas laat opkom oor Egipteland. Toe ontbied die farao vir Moses en Aäron en sê: “Pleit by die HERE dat Hy die paddas van my en my mense wegneem, dan sal Ek die volk laat gaan, sodat hulle aan die HERE kan offer.” Moses sê toe vir die farao: “Dit is u voorreg om te besluit. Wanneer moet ek vir u, u amptenare en u mense pleit, om die paddas uit te roei by u en uit u huise, dat hulle net in die Nyl oorbly?” Hy het geantwoord: “Môre.” Toe sê Moses: “Dit sal wees soos u sê, sodat u kan weet dat daar niemand is soos die HERE ons God nie. Die paddas sal weggaan van u af en uit u huise uit, weg van u amptenare en u mense. Net in die Nyl sal daar van hulle oorbly.” Moses en Aäron het van die farao af weggegaan, en Moses het na die HERE om hulp geroep oor die probleem van die paddas wat Hy vir die farao beskik het. Die HERE het toe volgens Moses se versoek opgetree: Die paddas het gevrek in die huise, in die dorpies en op die landerye. Hulle het dit op hope gegooi, en die land het gestink. Toe die farao sien dat daar uitkoms is, was hy onversetlik en het hy nie na hulle geluister nie, soos die HERE gesê het.

EKSODUS 8:1-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die HERE het met Moses gespreek: Gaan na Farao en sê vir hom: So spreek die HERE: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien. En as jy weier om hulle te laat gaan, kyk, Ek sal jou hele grondgebied met paddas slaan. En die rivier sal paddas in oorvloed voortbring, wat sal optrek en in jou huis en in jou slaapkamer en op jou bed en in die huis van jou dienaars en oor jou volk en in jou oonde en in jou kniebakke: En die paddas sal opkom teen jou sowel as oor jou volk en oor al jou dienaars. En die HERE het met Moses gespreek: Sê vir Aäron: Steek jou hand met jou staf uit oor die strome, oor die riviere en oor die damme, en laat paddas optrek oor Egipteland. En Aäron het sy hand uitgesteek oor die waters van Egipte; en die paddas het opgetrek en Egipteland oordek. En die towenaars het so met hulle towerye gedoen en paddas oor Egipteland laat opkom. Toe roep Farao vir Moses en Aäron en sê: Bid tot die HERE dat Hy die paddas van my en my volk kan wegneem; en Ek sal die volk laat trek, dat hulle aan die HERE kan offer. Toe sê Moses vir Farao: Roem jou oor my; wanneer sal ek vir jou en jou dienaars en jou volk smeek om die paddas uit jou en jou huise uit te roei, dat hulle net in die Nyl kan bly? En hy sê: Môre. En hy sê: Dit gaan volgens jou woord, sodat jy kan weet dat daar niemand is soos die HERE onse God nie. En die paddas sal van jou en van jou huise en van jou dienaars en van jou volk weggaan; hulle mag net in die rivier bly. En Moses en Aäron het van Farao af weggegaan, en Moses het die HERE aangeroep vanweë die paddas wat hy teen Farao gebring het. En die HERE het gedoen volgens die woord van Moses; en die paddas het gevrek uit die huise, uit die dorpe en uit die veld. En hulle het hulle op hope versamel, en die land het gestink. Maar toe Farao sien dat daar uitstel was, het hy sy hart verhard en nie na hulle geluister nie; soos die HERE gesê het.

EKSODUS 8:1-15 Die Boodskap (DB)

Die Here het vir Moses gesê: “Gaan weer terug na die farao toe en gaan sê vir hom: ‘Die Here dring daarop aan dat jy sy volk moet toelaat om tot Hom te gaan bid. As jy weier om hulle te laat gaan, sal Ek paddas oor jou hele land laat kom. Die Nyl sal wemel van die paddas. Hulle sal uit die rivier kom en tot in jou huis inkom. Hulle sal in jou slaapkamer inkom en bo-op jou bed spring. Hulle sal in die mense wat vir jou werk se huise inkom en in die huise van jou hele volk. Hulle sal selfs in jou bakoonde en jou broodpanne gaan sit. Die paddas sal net te veel wees vir jou en jou volk.’” Die Here het vir Moses gesê: “Laat Aäron sy kierie uitsteek na die spruite toe, die riviere en die moerasse sodat die paddas kan uitkom uit die water en oor die hele Egipte kan kom.” Toe Aäron sy kierie uitsteek na al die plekke waar daar water in Egipte is, het die paddas uitgekom en oor die hele land versprei. Die Egiptiese towenaars kon dieselfde ding regkry met hulle kunsies. Hulle kon ook paddas oor die hele land laat kom. Die farao het toe vir Moses en Aäron laat roep en by hulle gesoebat: “Smeek tog die Here dat Hy die paddas van my en my mense moet wegvat. Ek sal die volk laat gaan sodat hulle vir die Here kan gaan offer.” Moses het die farao sarkasties geantwoord: “En wanneer sal dit u nogal pas dat ek sal bid dat die paddas van u en u dienaars en u volk en uit u huise weggevat sal word en net by die rivier sal bly?” “Môre sal vir my reg wees,” het hy geantwoord. Moses sê toe: “Goed, ek sal maak soos u vra. U sal dan besef dat daar niemand anders is soos die Here ons God nie. Die paddas sal van u, u huis, u werkers en u volk af weggaan en weer in die rivier gaan bly.” Moses en Aäron is toe weg van die farao af. Moses het tot die Here gebid oor die paddas waarmee Hy die farao gestraf het. Die Here het gedoen wat Moses vir die farao belowe het. Die paddas in die huise en buite in die veld het gevrek. Die mense het hulle by die hope bymekaargemaak. ’n Doodsreuk het oor die hele land gehang. Toe die farao egter sien dat die krisis verby is, het hy weer moedswillig geraak. Hy het gerieflikheidshalwe vergeet dat hy belowe het hulle kon gaan. Dit was inderdaad mos soos die Here gesê het dit sou gebeur.

EKSODUS 8:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE het toe vir Moses gesê: “Gaan weer terug na die farao toe en sê vir hom: ‘Hoor wat die HERE sê: Laat my volk trek sodat hulle My kan gaan aanbid. As jy weier om dit te doen, moet jy nou mooi hoor: Ek sal hordes paddas oor jou hele land laat kom. Die hele Nylrivier sal vol van hulle wees. Hulle sal uit die rivier klim en in julle huise, selfs in julle slaapkamers en in julle beddens kom. Elke huis in Egipte sal vol paddas wees, ook in die huise van die mense wat vir jou werk. Hulle sal selfs in jou oonde en jou knieskottels klim. Die paddas sal opspring teen jou en jou volk en almal wat vir jou werk!’” Toe sê die HERE vir Moses: “Sê vir Aäron hy moet sy hand waarin hy die herderstok vashou na al die riviere, die kanale en die moerasse in Egipte uitsteek sodat daar paddas tot in elke uithoek van die land kan kom.” Aäron het sy hand na al die plekke waar daar water was, uitgesteek. Daar het paddas oor die hele Egipte gekom. Die towenaars kon egter met hulle kunsies presies dieselfde ding doen. Hulle kon ook paddas oor die hele land laat kom. Die farao het toe Moses en Aäron laat roep en by hulle gesoebat: “Vra tog vir die HERE om die paddas van my en my volk weg te vat. Ek sal die volk laat gaan om vir die HERE offers te bring.” “Sê net wanneer!” het Moses die farao geantwoord. “Wanneer u sê, sal ek vir u en u amptenare en u volk bid. Ek sal die HERE vra om die paddas van u en uit u huise weg te vat. Net die paddas wat in die Nylrivier is, sal bly lewe.” “Doen dit môre,” het die farao gesê. “Goed,” het Moses geantwoord, “ek sal so maak. U sal dan weet dat niemand met die HERE, ons God, vergelyk kan word nie. Al die paddas wat by u en in u huise en by u werkmense en u volk is, sal verdwyn. Net dié wat in die rivier is, sal oorbly.” Moses en Aäron is weg van die farao af. Moses het tot die HERE gebid oor die ramp van die paddas wat die HERE oor die farao gebring het. Die HERE het gemaak soos Moses gevra het. Die paddas in die huise en op die strate en in die veld het almal gevrek. Hulle is op hope bymekaargemaak en ’n doodsreuk het oor die land gehang. Toe die farao sien dat die krisis verby is, het hy weer eiesinnig geraak. Hy het geweier om na Moses en Aäron te luister. Dit was presies soos die HERE gesê het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid