YouVersion Logo
Search Icon

EKSODUS 23

23
Oor vals getuienis en naasteliefde
1“Jy mag nie skinderstories versprei nie. Jy mag nie met 'n misdadiger saamwerk en in sy guns vals getuienis lewer nie. 2Jy mag nie agter die meerderheid aan doen wat verkeerd is nie. Wat jy in 'n hofsaak getuig, mag jy nie verdraai nie, al doen die meerderheid dit ook. 3Wanneer jy regspreek, mag jy 'n arm man nie in sy hofsaak voortrek nie.
4“Wanneer jy 'n verdwaalde bees of donkie van jou vyand raakloop, moet jy dit beslis na hom toe terugbring.
5“Wanneer jy iemand wat jou haat, se donkie sien lê onder sy vrag, moet jy hom nie sonder hulp los nie; gaan help hom met sy vrag.
6“Wanneer jy regspreek, mag jy 'n arme nie in 'n hofsaak veronreg nie 7en moet jy wegbly van leuens sodat jy nie onskuldiges en regverdiges doodmaak nie. Ek, die Here, vind nie 'n skuldige onskuldig nie. 8Wanneer jy regspreek, mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie, want dit maak dié wat sien, blind en laat die saak van die onskuldige skeef loop.
9“Jy mag 'n vreemdeling nie laat verdruk nie. Julle ken die lewe van 'n vreemdeling, want julle was vreemdelinge in Egipte.”
Oor die sabbat
10“Ses jaar mag jy jou lande saai en die oes insamel, 11maar die sewende jaar moet jy dit laat braak lê. Die armes onder jou mense mag van die opslag eet, en wat hulle laat oorbly, kan die wilde diere vreet. So moet jy ook met jou wingerd en olyfbome maak.
12“In ses dae moet jy jou werk doen, maar op die sewende dag moet jy nie werk nie sodat jou beeste en donkies kan uitrus en jou werksmense en die vreemdelinge by jou 'n bietjie kan asem skep.
13“Sorg dat julle alles doen wat Ek julle beveel het. Julle mag die naam van ander gode nie in julle gebede noem nie. Jy mag nie eers van hulle praat nie.”
Oor die feeste en offers
(Vgl. Eks. 34:18-26; Deut. 16:1-17)
14“Drie maal per jaar moet jy tot my eer 'n fees hou.
15“Jy moet die fees van die ongesuurde brood vier. Soos Ek jou al vroeër beveel het, moet jy sewe dae ongesuurde brood eet, van dié dag in die maand Abib af waarop jy uit Egipte weggetrek het. Die volk mag nie sonder offers voor My verskyn nie.
16“Die fees van die oes moet gevier word met die eerste opbrengs van wat jy op die land saai.
“Die fees van die insameling moet gevier word aan die einde van die jaar wanneer jy die vrug van jou arbeid ingesamel het op die lande.
17“Drie keer per jaar moet alle mans voor My, die Here God, verskyn.
18“Jy mag nie die bloed van die offerdier offer saam met iets wat suurdeeg in het nie. Die vet van die feesoffer wat jy vir My bring, mag nie tot die volgende oggend oorstaan nie.
19“Die beste uit die eerste opbrengs van jou lande moet jy bring na die huis van die Here jou God toe.
“Jy mag nie 'n boklam in sy ma se melk kook nie.”
Die Here belowe om sy volk te help
20“Ek, die Here, stuur 'n engel voor jou uit om jou op die pad te beskerm en jou na die plek toe te bring wat Ek vir jou reg gemaak het. 21Gee ag op die engel en luister na hom; moet jou nie teen hom verset nie. Hy sal jou nie vergewe as jy teen hom in opstand kom nie, want Ek het aan hom my volmag gegee. 22As jy goed ag gee op hom en alles doen wat Ek sê, sal Ek die vyand van jou vyande wees en die teëstander van jou teëstanders.
23“My engel sal voor jou uitgaan en jou bring by die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Kanaäniete, Hewiete en Jebusiete, en dan sal Ek hulle uitwis. 24Jy mag nie hulle gode aanbid of dien nie. Jy mag nie daardie nasies se gewoontes oorneem nie. Jy moet hulle klippilare afbreek en stukkend slaan. 25Jy moet die Here jou God dien. Dan sal Hy jou met kos en water seën en siekte van jou af weghou. 26Daar sal geen miskraam en onvrugbaarheid in jou land wees nie. Ek sal jou met 'n lang lewe seën. 27Ek sal die skrik vir My voor jou uit stuur en Ek sal alle volke met wie jy in aanraking kom, in verwarring bring. Ek sal al jou vyande laat vlug. 28Ek sal die Hewiete, Kanaäniete en Hetiete die skrik op die lyf jaag en hulle voor jou uit verdryf.
29“Ek sal hulle egter nie dadelik voor jou uitdryf nie, sodat die land nie leeg lê en die wilde diere te veel word nie. 30Ek sal hulle bietjie vir bietjie voor jou uit verdryf totdat jou mense genoeg is om die land in besit te neem. 31Ek sal jou grens vasstel van die Rietsee af tot by die Filistynse See en van die woestyn af tot by die Eufraatrivier. Ek sal die inwoners van hierdie land in jou mag gee, en jy moet hulle uitdryf.
32“Jy mag nie met hulle of hulle gode 'n verdrag sluit nie. 33Hulle mag nie in jou land bly woon nie, want dan sal hulle jou verlei om teen My te sondig deur hulle gode te dien. Dan sal hulle jou tot 'n val bring.”

Currently Selected:

EKSODUS 23: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy