YouVersion Logo
Search Icon

EKSODUS 22

22
Oor diefstal
1“Wanneer 'n man 'n bees of 'n skaap steel en dit slag of verkoop, moet hy vyf beeste terugbetaal vir die bees en vier stuks kleinvee vir die skaap. 2-4As die gesteelde goed lewend in sy besit gevind word, moet hy dit dubbel vergoed, of dit nou beeste, donkies of skape is. 'n Dief moet ten volle vir sy diefstal vergoed. As hy niks besit nie, moet hy vir die waarde van die gesteelde goed verkoop word. As 'n dief inbreek en op heter daad betrap en doodgeslaan word, mag sy dood nie gewreek word nie. As dit egter na sonop gebeur, kan sy dood wel gewreek word.”
Oor veldbrand
5“Wanneer 'n man sy vee laat wei en hulle nie oppas waar hulle wei nie, en hulle loop wei in die land of wingerd van 'n ander, moet hy met die opbrengs van sy beste land of wingerd daarvoor vergoed.
6“Wanneer 'n man onkruid aan die brand steek, en die vuur vang die rye gerwe of die ongesnyde graan of die land van 'n ander, moet die man wat met die brand begin het, ten volle daarvoor vergoed.”
Oor goed in 'n ander se sorg
7“As 'n man aan iemand anders geld of goedere gee om te bewaar, en dit word uit sy huis gesteel, moet die dief dit dubbel betaal as hy gevang word. 8Maar as die dief nie gevang word nie, moet die huiseienaar in die teenwoordigheid van God 'n eed gaan aflê dat hy nie die ander man se goed gesteel het nie. 9In die geval van 'n geskil oor 'n bees of 'n donkie of 'n skaap of klere of enigiets wat weggeraak het, moet dié wat die goed eis, hulle saak voor God gaan stel. Die een wat deur God as die skuldige aangewys word, moet dubbel betaal aan die ander.
10“Wanneer 'n man 'n donkie of 'n bees of 'n skaap of enige ander dier aan iemand anders gee om op te pas, en dit vrek of word verskeur of buitgemaak sonder dat daar 'n ooggetuie by is, 11moet hy in wie se sorg dit gegee is, in die teenwoordigheid van die Here 'n eed teenoor die eienaar aflê dat hy wat dit moes oppas, dit nie gesteel het nie. Die eienaar moet sy woord aanvaar, en in so 'n geval hoef niks betaal te word nie. 12As die dier egter gesteel is terwyl dit in die ander man se sorg was, moet die eienaar daarvoor vergoed word. 13As dit deur wilde diere verskeur is, moet die eienaar by die verskeurde dier gebring word, en dan hoef niks betaal te word nie.
14“Wanneer 'n man 'n dier van 'n ander leen, en dit word verskeur of gaan dood terwyl die eienaar nie by is nie, moet die eienaar ten volle daarvoor vergoed word. 15As die eienaar by is, is daar nie 'n eis nie. As die dier gehuur was, moet die huur betaal word.”
Oor mense
16“Wanneer 'n man 'n jongmeisie wat nog nie verloof is nie, verlei om met hom geslagsgemeenskap te hê, moet hy aan haar pa die volle bruidsprys betaal en met haar trou. 17As haar pa volstrek weier om haar aan hom te gee, moet hy nogtans die volle bruidsprys vir jongmeisies betaal, en dit met silwer.
18“Jy mag nie 'n towenares laat lewe nie.
19“Elkeen wat met 'n dier geslagsgemeenskap het, moet doodgemaak word.
20“Iemand wat aan enige god behalwe aan die Here offer, moet om die lewe gebring word.
21“Jy mag nie 'n vreemdeling verdruk of laat swaarkry nie, want jy was self 'n vreemdeling in Egipte.
22“Jy mag geen weduwee of weeskind veronreg nie. 23As jy tog so iemand veronreg, en hy na My roep, sal Ek na sy hulpgeroep luister. 24Dan sal my toorn ontvlam, en Ek sal jou om die lewe bring, sodat jou vrou 'n weduwee word en jou kinders weeskinders.
25“As jy aan 'n arm man uit my volk geld leen, moet jy nooit teenoor hom soos 'n skuldeiser optree nie. Jy mag hom ook nie rente vra nie.
26“As iemand sy klere by jou verpand, moet jy dit voor sononder teruggee, 27want dit is al wat hy het om hom mee toe te maak. Onder wat anders kan hy slaap? As hy My hieroor aanroep, sal Ek na hom luister, want Ek is barmhartig.
28“Jy mag God nie vervloek nie en ook nie 'n leier van jou volk nie.
29“Moenie talm met jou offers uit jou graan- en wynoes nie.
“Die eersteling van jou seuns moet jy vir My gee. 30Dit geld ook van jou beeste en kleinvee. Sewe dae kan die eerstelinge by hulle ma's bly, maar op die agste dag moet jy hulle vir My gee.
31“Julle moet mense wees wat aan My gewy is. Julle mag nie vleis eet van diere wat in die veld verskeur is nie. Gooi dit vir die honde.”

Currently Selected:

EKSODUS 22: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy