YouVersion Logo
Search Icon

ESTER 9:20-32

ESTER 9:20-32 AFR83

Mordegai het hierdie gebeure laat neerskryf en briewe gestuur aan al die Jode in al die provinsies van koning Ahasveros, naby en ver, en die Jode gelas om voortaan elke jaar die veertiende en die vyftiende van die maand Adar te vier as dae waarop die Jode die bedreiging deur hulle vyande afgeweer het. Dit is die maand waarin hulle angs in blydskap verander het en hulle rou in feestelikheid. Hulle moes dit dae van feesviering en vreugde maak en aan mekaar eetgoed en aan die armes geskenke stuur. So het die Jode na aanleiding van Mordegai se brief aan hulle die gebruik waarmee hulle begin het, as 'n vaste gebruik aanvaar. Haman seun van Hammedata die Agagiet en vyand van al die Jode, het naamlik planne gemaak om die Jode uit te roei, en hy het met die Pur, dit is met die lot, beslis om 'n geskikte dag te kry waarop hy verskrikking oor hulle sou bring en hulle sou uitroei. Toe dit egter aan die koning bekend word, het hy skriftelik opdrag gegee dat Haman self die slagoffer moet word van die bose plan wat hy teen die Jode beraam het. Hy en sy seuns is aan die galg opgehang. Dit is waarom hierdie feesdae Purim genoem word, na die woord Pur. Na aanleiding van alles wat in daardie brief van Mordegai geskryf is en wat hulle self van die gebeure gesien en belewe het, het die Jode dit op hulle geneem en hulle en hulle nakomelinge en almal wat by hulle sou aansluit, onherroeplik verbind om voortaan elke jaar hierdie twee dae te vier. Dit moes telkens op die voorgeskrewe wyse en op die voorgeskrewe tyd plaasvind. Hierdie dae moes herdenk en gevier word in elke geslag en in elke familie, in elke provinsie en in elke stad. Hierdie dae van die Purim mag nie afgeskaf word onder die Jode nie en hulle nakomelinge mag nooit daarvan vergeet nie. Koningin Ester, dogter van Abigajil, en die Jood Mordegai het met hulle volle gesag in 'n tweede brief die reëlings oor die Purim bevestig. Mordegai het briewe gestuur aan al die Jode in die honderd sewe en twintig provinsies van koning Ahasveros, hulle voorspoed toegewens en hulle van sy goeie trou verseker. Hy het hulle gelas om hierdie dae van die Purim op die vasgestelde tyd te hou, soos hy, die Jood Mordegai, en koningin Ester dit vir hulle bepaal het, en soos hulle hulleself en hulle nakomelinge daartoe verbind het. Daar was ook voorskrifte oor hoe hulle moes vas en na God om hulp moes roep. Dit was op Ester se bevel dat die voorskrifte vir hierdie Purimdae vasgestel is. Dit is toe in 'n boek neergeskryf.

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy