ESTER 9:20-32

ESTER 9:20-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

Mordegai het hierdie gebeure laat neerskryf en briewe gestuur aan al die Jode in al die provinsies van koning Ahasveros, naby en ver, en die Jode gelas om voortaan elke jaar die veertiende en die vyftiende van die maand Adar te vier as dae waarop die Jode die bedreiging deur hulle vyande afgeweer het. Dit is die maand waarin hulle angs in blydskap verander het en hulle rou in feestelikheid. Hulle moes dit dae van feesviering en vreugde maak en aan mekaar eetgoed en aan die armes geskenke stuur. So het die Jode na aanleiding van Mordegai se brief aan hulle die gebruik waarmee hulle begin het, as 'n vaste gebruik aanvaar. Haman seun van Hammedata die Agagiet en vyand van al die Jode, het naamlik planne gemaak om die Jode uit te roei, en hy het met die Pur, dit is met die lot, beslis om 'n geskikte dag te kry waarop hy verskrikking oor hulle sou bring en hulle sou uitroei. Toe dit egter aan die koning bekend word, het hy skriftelik opdrag gegee dat Haman self die slagoffer moet word van die bose plan wat hy teen die Jode beraam het. Hy en sy seuns is aan die galg opgehang. Dit is waarom hierdie feesdae Purim genoem word, na die woord Pur. Na aanleiding van alles wat in daardie brief van Mordegai geskryf is en wat hulle self van die gebeure gesien en belewe het, het die Jode dit op hulle geneem en hulle en hulle nakomelinge en almal wat by hulle sou aansluit, onherroeplik verbind om voortaan elke jaar hierdie twee dae te vier. Dit moes telkens op die voorgeskrewe wyse en op die voorgeskrewe tyd plaasvind. Hierdie dae moes herdenk en gevier word in elke geslag en in elke familie, in elke provinsie en in elke stad. Hierdie dae van die Purim mag nie afgeskaf word onder die Jode nie en hulle nakomelinge mag nooit daarvan vergeet nie. Koningin Ester, dogter van Abigajil, en die Jood Mordegai het met hulle volle gesag in 'n tweede brief die reëlings oor die Purim bevestig. Mordegai het briewe gestuur aan al die Jode in die honderd sewe en twintig provinsies van koning Ahasveros, hulle voorspoed toegewens en hulle van sy goeie trou verseker. Hy het hulle gelas om hierdie dae van die Purim op die vasgestelde tyd te hou, soos hy, die Jood Mordegai, en koningin Ester dit vir hulle bepaal het, en soos hulle hulleself en hulle nakomelinge daartoe verbind het. Daar was ook voorskrifte oor hoe hulle moes vas en na God om hulp moes roep. Dit was op Ester se bevel dat die voorskrifte vir hierdie Purimdae vasgestel is. Dit is toe in 'n boek neergeskryf.

ESTER 9:20-32 Bybel vir almal (ABA)

Mordegai het al hierdie dinge opgeskryf, en hy het briewe geskryf vir die Jode in al die provinsies van koning Ahasveros. Hy het geskryf vir die Jode wat naby was en ook vir die Jode wat ver was. Mordegai het gesê hulle moet elke jaar op die 14de en die 15de dag van die maand Adar feesvier. Die Judeërs moet op daardie dae onthou dat hulle al hulle vyande oorwin het. Hulle moet ook onthou dat dit die maand is wanneer hulle hartseer sou gewees het en sou gerou het, maar dit het só verander dat hulle bly kon wees en kon feesvier. Dit was nou dae wanneer hulle vir mekaar kospakkies stuur en vir arm mense presente gee. Die Judeërs het aangehou om te doen wat hulle begin doen het, soos Mordegai vir hulle geskryf het. Haman seun van Hammedata, van die nageslag van Agag, was die vyand van die Judeërs. Hy wou die Judeërs almal doodmaak. Hy het die “pur” gegooi, dit beteken hy het lootjies getrek om te weet op watter dag hy hulle almal moet laat doodmaak. Maar toe het Ester by die koning gekom, en die koning het anders besluit. Hy het gesê hulle moet skryf dat die slegte plan wat Haman teen die Judeërs gemaak het, met homself moet gebeur. Hulle het toe vir Haman en sy seuns aan die paal opgehang. Daarom noem hulle hierdie feesdae Purim, want hulle het die “pur” gegooi, dit beteken hulle het lootjies getrek. Die Judeërs vier fees op hierdie dae omdat Mordegai dit so geskryf het in sy brief en omdat dit alles so met hulle gebeur het. Die Judeërs het besluit dat hulle en hulle nageslag en almal wat Judeërs word, hierdie twee dae altyd sal vier op die regte tyd. Elke geslag, elke familie, elke provinsie, elke stad, sal op hierdie dae altyd feesvier. Die Judeërs en hulle nageslag sal hierdie dae van Purim nie vergeet nie. Koningin Ester, dogter van Abigajil, en die Judeër Mordegai het geskryf en gesê dat die Judeërs alles moet doen wat in hierdie tweede brief oor die Purimfees geskryf is. Mordegai het die briewe gestuur na al die Judeërs in die 127 provinsies van koning Ahasveros. Hy het geskryf dat hy wil hê hulle moet veilig wees en vrede hê. Hy het ook gesê dat die Judeërs hierdie twee dae van die Purimfees op die regte tyd moet vier soos hy en koningin Ester besluit het en soos die Judeërs self besluit het. Hy het gesê dat hulle nageslag dit ook moet doen. Mordegai het ook geskryf hoe die Judeërs moet vas en rou. Ester het besluit hoe hulle die Purimfees moet vier, en hulle het dit geskryf in 'n boek.

ESTER 9:20-32 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Mórdegai het hierdie dinge opgeskrywe en briewe gestuur aan al die Jode wat in al die provinsies van koning Ahasvéros was, die wat naby en die wat ver was, om vir hulle vas te stel dat hulle elke jaar die veertiende dag van die maand Adar en die vyftiende daarvan moes vier — as die dae waarop die Jode rus gekry het van hulle vyande, en die maand wat vir hulle van kommer in vrolikheid en van rou in 'n feesdag verander is — dat hulle daar dae van maaltyd en vrolikheid van moes maak en om mekaar lekkernye en aan die armes gawes te stuur. En die Jode het as insetting aangeneem wat hulle begin het om te doen en wat Mórdegai aan hulle geskryf het. Want Haman, die seun van Hammedáta, die Agagiet, teëstander van al die Jode, het 'n plan beraam teen die Jode om hulle uit te roei, en die Pur, dit is die lot, gewerp om hulle te vernietig en hulle uit te roei. Maar toe dit voor die koning kom, het hy skriftelik bevel gegee dat sy goddelose plan wat hy teen die Jode uitgedink het, op sy eie hoof moes neerkom; en hulle het hom en sy seuns aan die galg opgehang. Daarom noem hulle dié dae Purim, na die naam Pur. Hierom, vanweë al die woorde van daardie brief en wat hulle self daarvan gesien het en wat hulle oorgekom het, het die Jode vasgestel en as insetting aangeneem vir hulle en hulle nageslag en vir almal wat hulle by hulle sou aansluit, sodat dit onherroeplik sou wees, dat hulle dié twee dae al jare sou hou volgens die voorskrif daaromtrent en op die bepaalde tyd; en dat dié dae herdenk en gehou moet word in al die geslagte, families, provinsies en stede, en dat dié Purim-dae onder die Jode nie afgeskaf mag word nie en die gedagtenis daaraan onder hulle nageslag nie mag ophou nie. En koningin Ester, die dogter van Abígail, en die Jood Mórdegai het met alle nadruk geskrywe om hierdie tweede brief oor die Purim krag te verleen. En hy het briewe gestuur aan al die Jode in die honderd-sewen-en-twintig provinsies, die koninkryk van Ahasvéros, woorde van vrede en trou, om dié Purim-dae op hulle bepaalde tye vas te stel soos die Jood Mórdegai en koningin Ester dit vir hulle verorden het, en soos hulle vir hulself en hul nageslag die voorskrifte aangaande die vastyd en die daarby behorende weeklag vasgestel het. En die bevel van Ester het die voorskrifte vir hierdie Purim vasgestel, en dit is in 'n boek geskrywe.

ESTER 9:20-32 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Mordegai het hierdie gebeure opgeskryf. Hy het toe briewe gestuur na al die Jode, naby en ver, in al die provinsies van koning Ahasveros, en hulle gelas om elke jaar die veertiende en die vyftiende dag van die maand van Adar te herdenk as die dae waarop die Jode bevry is van hulle vyande, as die maand waarin hulle droefheid verander is in blydskap en 'n tyd van rou in 'n tyd van feesviering. Hulle moes dit dae van feesviering en vreugde maak en aan mekaar eetgoed stuur en aan die armes geskenke uitdeel. Die Jode het onderneem om voort te gaan met wat hulle begin het om te doen soos wat Mordegai vir hulle voorgeskryf het. Want Haman, seun van Hammedata, die Agagiet, die vyand van al die Jode, het beplan om die Jode te vernietig. Hy het deur die Pur, dit is met die lot, beslis dat hulle ontwrig en vernietig moet word. Maar weens Ester se intrede by die koning het hy skriftelik beveel: “Haman se bose plan wat hy teen die Jode bedink het, moet op sy eie kop neerkom.” Toe het hulle hom en sy seuns aan die paal gehang. Daarom noem hulle hierdie dae Purim, na die naam Pur. Op grond van al die woorde in hierdie brief en alles wat hulle van die gebeure gesien en beleef het, het die Jode dit ingestel en hulle daaraan verbind, hulle en hulle nageslag, en almal wat by hulle aansluit, om nie hierdie twee dae na te laat nie, maar om dit altyd jaarliks, soos dit voorgeskryf is, op die vasgestelde tyd te eerbiedig. Hierdie dae moet onthou en gevier word deur elke volgende generasie, deur elke familie, in elke provinsie en in elke stad. Hierdie dae van die Purim mag onder die Jode nie nagelaat word nie en die herinnering daaraan mag onder hulle nageslagte nie vergete raak nie. Koningin Ester, die dogter van Abigajil, asook Mordegai, die Jood, het met volle gesag hierdie tweede brief geskryf om die Purim te bevestig. Die briewe is gestuur aan al die Jode in die 127 provinsies van Ahasveros se koninkryk – woorde van vrede en trou – om hierdie dae van Purim te bevestig op die tye soos wat Mordegai, die Jood, en koningin Ester dit vir hulle vasgestel het, en soos wat hulle hulleself en hulle nakomelinge daartoe verbind het volgens die voorskrifte van vas en weeklag. 'n Bevel van Ester het hierdie voorskrifte van die Purim bevestig en dit is in 'n •boekrol opgeskryf.

ESTER 9:20-32 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Mórdegai het hierdie dinge geskrywe en briewe gestuur aan al die Jode wat in al die provinsies van koning Ahasveros was, naby en ver, om dit onder hulle vas te stel, dat hulle die veertiende dag van die maand Adar en die vyftiende dag daarvan jaarliks moet hou, Soos die dae waarin die Jode gerus het van hulle vyande, en die maand wat vir hulle verander is van droefheid tot blydskap en van rou na 'n goeie dag, en geskenke aan die armes. En die Jode het onderneem om te doen soos hulle begin het, en soos Mórdegai aan hulle geskryf het; Omdat Haman, die seun van Hammedatha, die Agagiet, die vyand van al die Jode, teen die Jode uitgedink het om hulle te vernietig en Pur gewerp het, dit is die lot, om hulle te verteer en te vernietig; Maar toe Ester voor die koning kom, het hy met briewe bevel gegee dat sy bose plan wat hy teen die Jode uitgedink het, op sy eie hoof moes terugkeer, en dat hy en sy seuns aan die galg opgehang moes word. Daarom het hulle vandag Purim na die naam Pur genoem. Daarom vanweë al die woorde van hierdie brief en van wat hulle aangaande hierdie saak gesien en tot hulle gekom het, Die Jode het verordineer en op hulle geneem en hulle nageslag en almal wat hulle by hulle aangesluit het, sodat dit nie sou misluk nie, dat hulle hierdie twee dae sou hou volgens hulle geskrifte en volgens hulle vasgestelde tyd elke jaar; En dat hierdie dae in gedagte gehou en gehou moet word deur elke geslag, elke geslag, elke provinsie en elke stad; en dat hierdie dae van Purim nie sou vergaan onder die Jode nie, en dat die gedagtenis van hulle nie uit hulle nageslag vergaan nie. Toe het koningin Ester, die dogter van Abíhail, en Mordegai, die Jood, met alle gesag geskryf om hierdie tweede Purimbrief te bevestig. En hy het die briewe gestuur aan al die Jode, na die honderd sewe en twintig provinsies van die koninkryk van Ahasveros, met woorde van vrede en waarheid, Om hierdie dae van Purim te bevestig op hulle vasgestelde tye, soos Mórdegai, die Jood en Ester, die koningin hulle beveel het, en soos hulle vir hulleself en vir hulle nageslag bepaal het, die sake van die vas en hulle geroep. En die bevel van Ester het hierdie sake van Purim bevestig; en dit is in die boek geskryf.

ESTER 9:20-32 Die Boodskap (DB)

Mordegai het al hierdie dinge laat neerskryf en vir al die Jode oral in die provinsies van koning Ahasveros se ryk briewe gestuur. Daarin het hy hulle aangemoedig om jaarliks hierdie twee dae as feesdae te vier. Dit sou hulle daaraan herinner dat hulle op hierdie dae hulle vyande oorwin het. En dat hulle hartseer in vreugde en hulle rou in blydskap verander is. Daarom moes dit ’n vrolike fees wees waarop hulle vir mekaar lekkernye en vir die armes geskenke gee. Die Jode het van Mordegai se idee gehou en dit as ’n jaarlikse fees ingestel. Haman, die seun van Hammedata, ’n afstammeling van koning Agag van die Amalekiete en ’n vyand van die Jode, het die lot gewerp (ook genoem die Pur) om te bepaal watter dag hy sou gebruik om die Jode te vernietig. Hy was van plan om hulle totaal uit te roei. Maar toe die koning daarvan te hore kom, het hy ’n skriftelike opdrag gegee dat Haman en sy seuns self die slagoffers moes word van sy bose plan. So het hulle almal uiteindelik in die openbaar aan die galg gesterf. Daarom word hierdie fees die Purimfees genoem, want dit word afgelei van die woord “Pur”. Na aanleiding van alles wat Mordegai in sy brief geskryf het en alles wat hulle self ervaar het, het die Jode besluit dat hierdie twee dae deur hulle en hulle nageslagte, asook deur mense uit ander volke wat by hulle aangesluit het, as feesdae gevier moes word. Hulle het besluit om hulle streng te hou by die reëls en voorskrifte van die fees. Hulle het beveel dat elke Joodse familie van elke toekomstige geslag in elke provinsie en in elke stad hierdie twee dae moes herdenk en die Purimfees vir altyd moes vier. Toe het koningin Ester, die dogter van Abigajil en die Jood Mordegai, ook ’n brief geskryf waarin sy die brief wat Mordegai vroeër geskryf het, ondersteun. Op hierdie manier het sy die Purimfees bekragtig. Ander briewe met wense van vrede en voorspoed is ook aan die Jode in die 127 provinsies in die ryk van koning Ahasveros gestuur. Hierdie briewe het hulle en hulle nageslagte aangemoedig om die Purimfees te hou soos die Jood Mordegai en koningin Ester dit bepaal het. Hulle moes dit net so getrou en noukeurig nakom soos hulle met die vasdae en routye gemaak het. Ester se voorskrifte oor die Purimfees is toe in ’n boek neergeskryf.

ESTER 9:20-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Mordegai het laat opteken wat gebeur het. Hy het briewe gestuur aan al die Jode in al die provinsies van koning Ahasveros, aan dié wat naby bly en dié wat ver is. Hy het die Jode opdrag gegee om elke jaar op die veertiende en die vyftiende van die maand Adar fees te vier. Hulle moet op daardie dae feesvier en bly wees en vir mekaar eetgoed stuur en geskenke vir die arm mense gee. Hulle moet dit in herinnering roep as die dae waarop die Jode van hulle vyande bevry is. Hulle vrees is in blydskap verander en hulle droefheid in feesviering. Die Jode het die opdrag in Mordegai se brief aanvaar en dit as ’n vaste instelling begin vier. Haman, die seun van Hammedata die Agagiet en vyand van die Jode, het planne gemaak om die Jode uit te roei. Hy het met die Pur, dit is die lot, beslis watter dag hy verskrikking oor hulle sou bring en hulle sou uitroei. Toe Ester egter na die koning gegaan het, het hy ’n brief laat skryf om Haman se bose plan teen die Jode op sy eie kop te laat neerkom. Hy en sy seuns is aan hulle eie galg opgehang. Dit is hoekom hierdie feesdae Purim genoem word, in aansluiting by die woord Pur. Na aanleiding van alles wat Mordegai in daardie brief geskryf het en alles wat hulle gesien en belewe het, het die Jode hulleself en hulle nageslag onherroeplik daartoe verbind om nooit na te laat om elke jaar hierdie twee dae te vier nie. Dit moes elke jaar op die voorgeskrewe wyse en op die voorgeskrewe tyd gebeur. Hierdie dae moes deur elke geslag en in elke familie, in elke provinsie en in elke stad herdenk en onderhou word. Hierdie dae van die Purim mag nooit in die Joodse gemeenskap oorgeslaan word nie. Hulle nageslag mag nooit daarvan vergeet nie. Koningin Ester, die dogter van Abigajil, en die Jood Mordegai het saam en met hulle volle gesag ’n tweede brief geskryf om die reëlings oor die Purim te bevestig. Mordegai het afskrifte van die brief aan al die Jode in die 127 provinsies van koning Ahasveros gestuur om hulle heil en voorspoed toe te wens. Die briewe het hulle beveel om die dae van die Purim op die vasgestelde tyd te hou, soos hy, die Jood Mordegai, en koningin Ester dit vir hulle bepaal het, en soos hulle en hulle nakomelinge hulle daartoe verbind het. Daar was ook voorskrifte oor hoe hulle moes vas en na God om hulp moes roep. Dit was op Ester se bevel dat die voorskrifte vir hierdie Purimdae vasgestel is. Dit is toe in ’n boek opgeskryf.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid