YouVersion Logo
Search Icon

2 SAMUEL 6

6
Dawid bring die ark van die Here in Jerusalem in
(Vgl. 1 Kron. 13:1-14; 15:1 – 16:3)
1Dawid het al die uitgesoekte manne in Israel bymekaargemaak, dertig afdelings. 2Hy het klaargemaak en saam met die hele leër na Baäla in Juda toe gegaan om die ark van God te gaan haal. Dit is die ark waaroor die Naam: “die Here die Almagtige wat oor die gerubs troon”, uitgeroep is. 3Hulle het die ark van God op 'n nuwe wa gelaai en dit weggevat uit die huis van Abinadab op die heuwel. Ussa en Agjo, seuns van Abinadab, het die wa 4waarop die ark van God was, gedrywe. Agjo het voor die ark geloop. 5Dawid en die hele Israel het uitbundig voor die ark van die Here gedans, begelei deur liedere, liere, harpe, tamboeryne, ratels en simbale.
6Toe hulle by die dorsvloer van Nakon kom, gryp Ussa na die ark van God om dit teë te hou, want die osse het gestruikel. 7Die toorn van die Here het teen Ussa ontvlam en God het hom net daar, by die daad van heiligskennis, getref. Hy het op die plek gesterf, langs die ark van God. 8Dawid was diep ontsteld omdat die Here vir Ussa so weggeskeur het, en hy het daardie plek genoem Ussa-se-Skeur. Dit is nou nog die naam.
9Dawid het daardie dag bang geword vir die Here en gesê: “Hoe kan die ark van die Here nou na my toe kom?”
10Hy het nie kans gesien om die ark van die Here by die Dawidstad te laat inkom nie en het dit laat wegdraai na die huis van Obed-Edom toe wat uit Gat afkomstig was. 11Die ark van die Here het drie maande in Obed-Edom se huis gestaan, en die Here het hom en sy hele gesin voorspoedig gemaak.
12Daar is toe aan Dawid vertel: “Die Here het die gesin van Obed-Edom voorspoedig gemaak en al sy besittings vermeerder ter wille van die ark van God.”
Dawid het toe gegaan en die ark van God met feesvreugde uit die huis van Obed-Edom na die Dawidstad toe laat bring. 13Elke keer wanneer die draers van die ark van die Here ses tree gestap het, het hy 'n bul en 'n vetgemaakte kalf geoffer. 14Met volle oorgawe het Dawid voor die Here gedans met net 'n linneskouerkleed aan. 15Hy en die hele Israel het die ark van die Here met gejuig en onder die geklank van die ramshoring ingebring.
16Terwyl die ark die Dawidstad ingekom het, het Saul se dogter Mikal deur die venster afgekyk. Sy het koning Dawid gesien terwyl hy spring en dans voor die Here en sy het hom in stilte verag.
17Hulle het die ark van die Here ingebring en dit op sy bestemde plek neergesit in die tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het. Dawid het brandoffers en maaltydoffers vir die Here geoffer. 18Toe hy klaar geoffer het, het hy die volk geseën in die Naam van die Here die Almagtige. 19Hy het aan die hele volk, die ganse menigte van Israel, man en vrou, elkeen 'n ringbrood, 'n bietjie dadels en 'n handvol rosyntjies laat uitdeel.
Hierna is almal huis toe, 20en Dawid het teruggegaan om sy gesin te seën.
Saul se dogter Mikal het hom tegemoet gegaan en smalend gesê: “Hoe waardig het die koning van Israel hom vandag gedra! Hy het hom die heeldag voor die slavinne van sy onderdane ontbloot soos 'n onbeskaamde mens wat hom sommer ontbloot.”
21Hy het vir Mikal geantwoord: “Voor die Here wat my verkies het bo jou pa en sy familie deur my aan te stel as heerser oor Israel, die volk van die Here, ja, voor die Here sal ek dans. 22Ek sal myself nog geringer ag as dit en nederig wees in my eie oë deur my by die slavinne van wie jy praat, waardig te gaan gedra.”
23En tot die dag van haar dood het Saul se dogter Mikal nie 'n kind gehad nie.

Currently Selected:

2 SAMUEL 6: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy