2 SAMUEL 12
AFR83

2 SAMUEL 12

12
Natan kondig Dawid se straf aan
1Daarna het die Here vir Natan na Dawid toe gestuur. Natan het by hom gekom en gesê: “Daar was twee mans in dieselfde plek. Die een was ryk en die ander arm. 2Die ryke het groot troppe kleinvee en beeste gehad. 3Behalwe een ou ooilammetjie het die arm man niks besit nie. Hy het haar aan die lewe gehou, en sy het saam met sy kinders grootgeword. Sy het van sy krummeltjies geëet, uit sy beker gedrink en op sy skoot geslaap. Ja, sy was vir hom soos 'n eie dogter. 4Daar het 'n besoeker by die ryk man gekom en hy kon dit nie oor sy hart kry om van sy eie kleinvee of beeste te vat en vir die reisiger te slag nie. Toe vat hy die ooilam van die arm man en slag haar vir sy gas.”
5-6Dawid het hom bloedig vererg oor die man en vir Natan gesê: “So seker as die Here leef, 'n man wat dit oor sy hart kon kry om so iets te doen, moet doodgemaak word, en hy moet viervoudig vir die ooilam vergoed.”
7“Jy is die man!” sê Natan toe vir Dawid. “So sê die Here die God van Israel: Ek het jou tot koning van Israel gesalf. Ek het jou teen Saul beskerm. 8Ek het aan jou die koningskap van Saul gegee en boonop nog sy vrouens ook. Ek het die koningskap oor Israel en Juda aan jou gegee. En as dit nog te min was, sou Ek enigiets daar wou bygee. 9Waarom het jy nou die woord van die Here geminag deur so 'n verkeerde ding te doen? Jy het Urija die Hetiet met die swaard doodgemaak en toe sy vrou vir jou gevat. Ja, jy het hom vermoor met die swaard van die Ammoniete.
10“Daarom sal die swaard nou nooit meer uit jou huis weggaan nie, want jy het My geminag toe jy Urija die Hetiet se vrou vir jou gevat het.
11“So sê die Here: Van nou af gaan Ek uit jou eie huis ellende oor jou bring. Ek sal jou vrouens voor jou oë vat en aan iemand anders gee. Hy sal by jou vrouens slaap oop en bloot, 12want jy het 'n ding in die geheim gedoen, maar Ek sal alles oop en bloot voor die hele Israel doen.”
13Toe sê Dawid vir Natan: “Ek het gesondig teen die Here.”
En Natan sê vir hom: “Die Here het jou sonde vergewe: jy sal nie nou sterwe nie. 14Maar omdat jy deur hierdie daad die vyande van die Here aanleiding gegee het om Hom te laster, sal hierdie selfde kind wat vir jou gebore is, sterwe.”
15Natan het huis toe gegaan, en die Here het die kind wat Urija se vrou vir Dawid in die wêreld gebring het, getref. Die kind het ernstig siek geword. 16Dawid het tot God gebid vir die kind. Hy het hom verootmoedig deur aanhoudend te vas, hom terug te trek en op die grond te lê. 17Die hoofde van sy huishouding het hom probeer oorreed om van die grond af op te staan, maar hy wou nie. Hy het nie saam met hulle aan tafel verskyn nie. 18Op die sewende dag het die kind gesterwe, en Dawid se amptenare was bang om hom te vertel dat die kind dood is.
Hulle het gesê: “En nou? Toe die kind nog gelewe het, het ons met die koning gepraat, en hy het nie na ons geluister nie. Hoe kan ons nou vir hom sê die kind is dood? Hy sal 'n onbesonne ding aanvang.”
19Dawid het agtergekom dat sy amptenare onder mekaar fluister en hy het afgelei dat die kind dood is. “Is die kind dood?” het hy gevra. “Hy is dood,” was hulle antwoord.
20Toe het Dawid van die grond af opgestaan. Hy het gaan was, reukolie aangesmeer, aangetrek en na die heiligdom toe gegaan om te aanbid. Hierna is hy huis toe en het hy kos gevra. Hulle het hom 'n ete voorgesit en hy het geëet.
21Sy amptenare vra hom toe: “Wat doen u nou? Toe die kind nog gelewe het, het u gevas en gehuil. Nou dat die kind dood is, staan u op en u eet?”
22Sy antwoord was: “Terwyl die kind nog gelewe het, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink: wie weet, dalk is die Here my genadig, en dan sal die kind lewe. 23Maar nou is hy dood. Waarom moet ek nog vas? Kan ek hom na my toe laat terugkom? Ek gaan na hom toe; hy kan nie na my toe terugkom nie.”
24Daarna het Dawid sy vrou Batseba getroos. Hy het by haar slaapkamer ingegaan en by haar geslaap. Sy het 'n seun in die wêreld gebring, en Dawid het hom Salomo genoem. Die Here het hom liefgehad 25en het hom deur die profeet Natan Jedidja laat noem, wat beteken: “die Here het hom lief”.
Dawid onderwerp die Ammoniete
(Vgl. 1 Kron. 20:1-3)
26Joab het Rabba, die hoofstad van die Ammoniete, aangeval. Nadat hy die koninklike woonbuurt beset het, 27het hy 'n boodskap na Dawid toe gestuur: “Ek het Rabba aangeval en ek het reeds die ommuurde waterbron verower. 28Roep tog nou die res van die burgers op en kom beleër die stad. Neem ú dit in sodat ek nie self die stad verower en dit dus my eiendom word nie.”
29Dawid het al die burgers opgeroep en teen Rabba gaan veg en dit ingeneem. 30Hy het die kroon van hulle koning se kop afgehaal. Die kroon was van goud, sowat vier en dertig kilogram, en het 'n kosbare steen bevat. Dit het nou op Dawid se kop gekom, en hy het ook 'n groot buit uit Rabba saamgevat.
31Hy het die burgers van Rabba weggevoer en hulle aan die werk gesit met saag, ysterbeitel en byl; party het hy by die steenoonde laat werk. So het hy teenoor al die Ammonitiese stede opgetree. Daarna het hy en al die burgers na Jerusalem toe teruggegaan.

Verskaf met die komplimente van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. © Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Ondersteun ons en word ‘n saaier van hoop.


Learn More About Afrikaans 1983