YouVersion Logo
Search Icon

2 KONINGS 16

16
Agas koning van Juda
(Vgl. 2 Kron. 28:1-27)
1In die sewentiende regeringsjaar van Peka seun van Remalja het Agas seun van koning Jotam van Juda op die troon gekom. 2Agas was twintig toe hy koning geword het en hy het sestien jaar in Jerusalem geregeer. Hy het nie gedoen wat reg is in die oë van die Here sy God soos sy voorvader Dawid nie. 3Hy het die pad geloop van die konings van Israel. Hy het selfs sy seun verbrand volgens die afskuwelike gebruike van die heidennasies wat deur die Here voor die Israeliete uit verdryf is. 4Hy het diereoffers en wierookoffers gebring op die hoogtes en op die rante en onder elke groen boom. 5Destyds het koning Resin van Aram en koning Peka van Israel, seun van Remalja, opgetrek om teen Jerusalem te veg. Hoewel hulle vir Agas beleër het, kon hulle nie 'n geveg afdwing nie. 6In daardie tyd het koning Resin van Aram die stad Elat vir Aram herower en die Judeërs daaruit verdryf. Arameërs het in Elat ingetrek en woon tot vandag toe daar. 7Toe stuur Agas 'n boodskap na koning Tiglat-Pileser van Assirië: “Ek is u onderdaan en seun. Ruk op en bevry my uit die mag van die koning van Aram en van die koning van Israel, hulle val my aan.”
8Agas het die silwer en die goud wat in die huis van die Here en in die skatkamers van die paleis was, gevat en as geskenk aan die koning van Assirië gestuur.
9Die koning van Assirië het aan sy versoek voldoen en teen Damaskus opgetrek. Hy het die stad verower en die bevolking na Kir toe weggevoer; vir Resin het hy doodgemaak. 10Koning Agas het hierna Damaskus toe gegaan om vir koning Tiglat-Pileser van Assirië te ontmoet. Nadat Agas 'n altaar gesien het wat daar in Damaskus gestaan het, het hy aan die priester Urija 'n afbeelding en 'n model daarvan gestuur om dit getrou na te maak. 11Die priester Urija het die altaar gebou in ooreenstemming met koning Agas se aanwysings uit Damaskus. Die priester Urija het dit presies so gemaak nog voordat die koning uit Damaskus aangekom het. 12Toe die koning van Damaskus af kom en die altaar sien, het hy nader gegaan en op die altaar geklim. 13Hy het sy brandoffer en sy graanoffer gebring, sy drankoffer uitgegiet en die bloed van die maaltydoffers ten behoewe van homself teen die altaar uitgegooi.
14Die bronsaltaar ter ere van die Here het hy van die voorkant van die tempel af, tussen die altaar en die huis van die Here uit, verskuif na die noordekant van die altaar toe. 15Koning Agas het die priester Urija beveel: “Steek die oggendbrandoffer en die aandgraanoffer aan die brand op die groot altaar en ook die koning se brandoffer en graanoffer, die brandoffer van die landsburgers, hulle graanoffers en hulle drankoffers. Die bloed van elke brandoffer en van elke ander diereoffer moet julle teen die groot altaar uitgiet. Die bronsaltaar sal myne bly om die wil van God te wete te kom.”
16Die priester Urija het alles gedoen wat koning Agas hom beveel het. 17Koning Agas het die sluitplate van die waentjies verwyder en die waskomme van hulle af geneem en die waterbak het hy opgelig van die beeste af wat van brons gemaak is, en op 'n klipvloer gesit. 18Die oordekte gang vir die sabbat wat hulle by die tempel gebou het, en die buitenste ingang vir die koning het hy ter wille van die koning van Assirië van die huis van die Here af verwyder. 19Die ander verhale oor Agas en wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda. 20Agas is oorlede, en hy is begrawe by sy voorvaders in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Hiskia het hom as koning opgevolg.

Currently Selected:

2 KONINGS 16: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy