YouVersion Logo
Search Icon

1 KORINTIËRS 7:1-12

1 KORINTIËRS 7:1-12 AFR83

Ek kom nou by die dinge waaroor julle aan my geskryf het. Dit is goed vir 'n man om sonder 'n vrou te lewe, maar weens die gevare van onsedelikheid behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man. Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so ook die vrou teenoor haar man. Die vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar die man; net so beskik die man ook nie oor sy eie liggaam nie, maar die vrou. Moenie vir mekaar omgang weier nie, behalwe met wedersydse toestemming en net vir 'n bepaalde tyd om julle aan die gebed te wy. Daarna moet julle weer saamkom, sodat die Satan julle nie miskien weens julle gebrek aan selfbeheersing verlei nie. Dit sê ek as 'n tegemoetkoming, nie as 'n bevel nie. Eintlik wens ek dat alle mense kon wees soos ek is. Maar elkeen het van God sy besondere gawe ontvang, die een dít en die ander iets anders. Vir die ongetroudes en die weduwees sê ek: Dit is vir hulle goed om ongetroud te bly soos ek. Maar as hulle nie in onthouding kan leef nie, moet hulle trou, want dit is beter om te trou as om deur hartstog verteer te word. Die getroudes beveel ek – nee, nie ek nie, maar die Here – dat 'n vrou nie van haar man mag skei nie. As sy tog skei, moet sy daarna ongetroud bly of haar met haar man versoen. Net so mag 'n man ook nie van sy vrou skei nie. Vir die ander sê ek – ek, nie die Here nie: As 'n gelowige man met 'n ongelowige vrou getroud is en sy gewillig is om by hom te bly, moet hy nie van haar skei nie.

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy