YouVersion Logo
Search Icon

1 KONINGS 9

9
Die belofte en dreigement van die Here
(Vgl. 2 Kron. 7:11-22)
1Nadat Salomo die tempel van die Here en die koninklike paleis klaar gebou en alles wat hy wou doen, voorspoedig afgehandel het, 2het die Here 'n tweede keer aan hom verskyn soos Hy by Gibeon aan hom verskyn het, 3en vir hom gesê: “Ek het jou gebed en jou smeking wat jy tot My gerig het, verhoor. Ek heilig hierdie tempel wat jy gebou het, sodat my Naam altyd daar sal wees. Ek sal altyd daarvoor sorg en daaraan dink.
4“En jy, as jy soos jou vader Dawid opreg en met oorgawe voor My leef en alles doen wat Ek jou beveel en my voorskrifte en bepalings nakom, 5sal Ek jou heerskappy oor Israel bestendig. So het Ek jou vader Dawid belowe: Daar sal altyd iemand uit jou nageslag wees om oor Israel te regeer.
6“Maar as julle en julle nageslag van My af wegdraai en my gebooie en my voorskrifte wat Ek julle gegee het, nie nakom nie en julle gaan dien ander gode en buig voor hulle, 7sal Ek Israel wegdryf uit die land wat Ek hulle gegee het, en sal Ek hierdie tempel wat Ek vir my Naam geheilig het, voor My wegvee. Ek sal Israel 'n spot en 'n skimp maak onder al die volke. 8Ja, hoe uitsonderlik hierdie tempel ook al was, elke verbyganger sal dan van verbasing sy asem intrek en fluit en vra: ‘Waarom het die Here dit gedoen aan dié land en dié tempel?’ 9En dan sal die mense antwoord: Omdat daardie volk die Here hulle God verlaat het, Hy wat hulle voorvaders uit Egipte gebring het. Hulle het hulle aan ander gode verbind en voor hulle gebuig en hulle gedien. Daarom het die Here al hierdie groot rampe oor sy volk gebring.”
Ander mededelings oor Salomo
(Vgl. 2 Kron. 8:1-18)
10Na afloop van die twintig jaar waarin Salomo die twee geboue opgerig het, die huis van die Here en die koninklike paleis, 11waarvoor koning Hiram van Tirus aan Salomo soveel sederhout, sipreshout en ook goud gelewer het as wat hy wou hê, het koning Salomo twintig stede in Galilea aan Hiram oorgedra.
12Toe Hiram hierdie stede wat Salomo aan hom oorgedra het, uit Tirus gaan besigtig, was hy teleurgestel 13en het hy gesê: “Wat se stede is dit wat jy vir my gee, my broer!”
Daarom dra dit tot vandag nog die naam “Kabulstreek” .
14Hiram het aan Salomo meer as vier ton goud gelewer.
15Vir die bou van die huis van die Here en die paleis, die terras en die muur van Jerusalem, en vir die herbou van die stede Hasor, Megiddo en Geser het koning Salomo van dwangarbeid gebruik gemaak.
16Die farao, die koning van Egipte, het Geser met sy leër ingeneem, dit aan die brand gesteek en die Kanaäniete wat die stad bewoon het, om die lewe gebring. Daarna het hy dit as bruidskat gegee vir sy dogter wat met Salomo getrou het.
17Salomo het Geser weer opgebou, en ook Bet-Goron-Onder, 18Baälat en Tamar in die woestyn, in die gebied van Juda; 19verder ook al die voorraadstede wat hy besit het, die stede vir die strydwamagte en die berede magte. Hy het ook al die bouwerk wat hy hom voorgeneem het, voltooi: dié in Jerusalem en ook dié op die Libanon en dwarsdeur die hele land waaroor hy geregeer het.
20Salomo het al die nie-Israeliete, die mense wat nog oor was van die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, 21afstammelinge van dié wat nie deur die Israeliete uitgeroei is nie en nog oor was in die land, opgeroep om dwangarbeid te doen. Dit is vandag nog so.
22Salomo het nie die Israeliete as arbeiders gebruik nie; hulle was sy soldate, sy lyfwag, sy amptenare, die aanvoerders van sy strydwabemannings, sy strydwamag en sy berede mag. 23Daar was ook nog die volgende getal uitvoerende beamptes oor wie koning Salomo beskik het: vyf honderd en vyftig wat gesag uitgeoefen het oor die werksmense.
24Nadat die dogter van die farao oorgetrek het van die Dawidstad af na die huis wat Salomo vir haar gebou het, het hy die terras gebou. 25Salomo het drie maal per jaar brandoffers en maaltydoffers gebring op die altaar wat hy vir die Here gebou het, en daarmee saam wierookoffers vir die Here gebrand. So het hy sy verantwoordelikheid in die tempel nagekom.
26Koning Salomo het ook skepe gebou in Esjon-Geber by Elat aan die kus van die Rietsee in Edom. 27Hiram het vir hom skepe gestuur en ervare seemanne. Hulle het saam met Salomo se manne 28na Ofir toe gevaar en daar vir koning Salomo meer as veertien ton goud gaan haal.

Currently Selected:

1 KONINGS 9: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy