YouVersion Logo
Search Icon

1 KORINTIËRS 6

6
Hofsake tussen gelowiges
1Gaan iemand van julle wat 'n saak teen 'n ander gelowige het, werklik so ver dat hy sy reg by heidense regters soek en nie by gelowiges nie? 2Of weet julle nie dat die gelowiges oor die wêreld sal oordeel nie? En as julle oor die wêreld sal oordeel, is julle dan onbevoeg vir sulke geringe hofsake? 3Weet julle nie dat ons oor die engele sal oordeel nie? Dan tog seker ook oor alledaagse dinge. 4As julle oor alledaagse dinge geskille het, laat julle dan dié mense as regters optree op wie die gemeente neersien? 5Ek sê dit om julle skaam te maak. Is daar dan nie 'n enkele verstandige mens onder julle wat 'n saak tussen gelowiges kan besleg nie? 6Maar gaan een gelowige nou met die ander hof toe, en dit voor ongelowige regters?
7Eintlik is julle saak al klaar verlore, omdat julle hofsake met mekaar het. Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle julle nie liewer te kort doen nie? 8In plaas daarvan pleeg julle onreg en doen ander te kort, en dit doen julle aan medegelowiges.
9Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen 10of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie. 11En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.
Verheerlik God in julle liggame
12Daar is mense wat sê:
“Alles is my geoorloof.”
Ja, maar nie alles is heilsaam nie.
“Alles is my geoorloof,” sê hulle.
Ja, maar ek gaan my nie deur enigiets
laat verslaaf nie.
13Hulle sê ook:
“Kos is vir die maag,
en die maag vir kos.”
Goed, maar God sal die een sowel as die ander tot niet maak. 'n Mens se liggaam is nie bedoel vir seksuele losbandigheid nie, maar is daar vir die Here, wat ook oor ons liggaam Here is. 14God het deur sy krag die Here uit die dood opgewek en so sal Hy ons ook opwek.
15Weet julle nie dat julle liggaam deel is van Christus nie? Sal ek nou 'n deel van Christus neem en dit 'n deel van 'n ontugtige vrou maak? Beslis nie! 16Of weet julle nie dat iemand wat met 'n ontugtige vrou omgang het, liggaamlik een met haar is nie? God sê immers: “Die twee sal een word.” 17Maar wie hom met die Here verenig, is geestelik een met Hom.
18Julle moet niks met seksuele losbandigheid te doen hê nie. Elke ander sonde wat 'n mens doen, vind buite sy liggaam plaas, maar iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam. 19Of besef julle nie dat julle liggaam 'n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: 20julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.

Currently Selected:

1 KORINTIËRS 6: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy