YouVersion Logo
Search Icon

1 KRONIEKE 26

26
Die poortwagte
1Wat betref die afdelings poortwagte was daar van die Koragiete Meselemja seun van Kore, uit die geslag van Asaf. 2Die oudste seun van Meselemja was Sagaria, die tweede Jediael, die derde Sebadja, die vierde Jatniël, 3die vyfde Elam, die sesde Joganan, die sewende Eljehoënai. 4Die oudste seun van Obed-Edom was Semaja, die tweede Josabad, die derde Joag, die vierde Sakar, die vyfde Netanel, 5die sesde Ammiël, die sewende Issaskar, die agste Peülletai. God het vir Obed-Edom besonderlik geseën. 6Sy seun Semaja het vader geword van seuns wat gesagsposisies in hulle familie beklee het, want hulle was bekwame mense. 7Die seuns van Semaja was Otni, Refael, Obed, Elsabad, en sy broers was Elihu en Semakja, knap mense. 8Hulle was almal uit die nageslag van Obed-Edom. Hulle sowel as hulle seuns en broers was bekwame manne, flink in die diens. Obed-Edom se groep was twee en sestig. 9Van Meselemja was daar agtien bekwame seuns en broers. 10Die seuns van Gosa, van die Merarigroep, het Simri as hoof gehad. Hy was nie die oudste nie, maar sy vader het hom as hoof aangestel. 11Die tweede was Gilkija, die derde Tebalja, die vierde Sagaria. Gosa het dertien seuns en broers gehad.
12Hierdie afdelings poortwagte, ingedeel volgens die manlike familiehoofde, het diens gedoen saam met hulle ampsgenote wat vir die huis van die Here moes sorg. 13Oud en jonk het op gelyke voet aan die loting vir elke poort deelgeneem volgens hulle families. 14Die lot vir die oospoort het op Meselemja geval. Toe hulle vir sy seun Sagaria, die verstandige raadgewer, die lot werp, is hy vir die noordpoort geloot. 15Die suidpoort is toegewys aan Obed-Edom, en die voorraadgebou aan sy seuns. 16Suppim en Gosa het die wespoort gekry, asook die Salleketpoort by die pad na die noorde toe. Die een wagbeurt het op die ander gevolg. 17By die oospoort was ses Leviete, by die noordpoort elke dag vier, by die suidpoort elke dag vier en by die voorrade elke keer twee. 18Wat die plein by die wespoort betref, was daar langs die pad vier en by die plein twee. 19Dit was dan die afdelings poortwagte, van die Korag- en die Merarigroep.
Die toesig oor die tempelskatte
20Sommige van hulle Levitiese ampsgenote het toesig gehou oor die tempelskatte en oor die wydingsgeskenke. 21-22Uit die Jegiëlgroep was daar Setam en sy broer Joël. Hulle was uit die nageslag van Ladan, dit is afstammelinge van die Gersonitiese lyn deur Ladan, en familiehoofde van Ladan die Gersoniet. Hulle was in beheer van die skatte van die huis van die Here.
23Uit die groepe van Amram, Jishar, Hebron en Ussiël 24was Subael, seun van Moses se seun Gersom, die hoofamptenaar belas met toesig oor die skatte. 25Sy ampsgenote het hulle afstamming teruggevoer op Eliëser deur Regabja, Jesaja, Joram, Sikri en Selomit. 26Hierdie Selomit en sy ampsgenote het toesig gehad oor al die wydingsgeskenke wat koning Dawid, die familiehoofde, die aanvoerders van duisend en honderd, en die leërhoofde aan die Here gewy het. 27Hulle het van die buit uit die oorloë gewy om die huis van die Here te onderhou. 28Alles wat die siener Samuel, Saul seun van Kis, Abner seun van Ner, en Joab seun van Seruja, gewy het, alles wat gewy is, was onder beheer van Selomit en sy ampsgenote.
Die handhawers van orde en regspraak
29Kenanja en sy seuns uit die Jishargroep was belas met werksaamhede buite die tempel. Hulle moes in Israel die orde handhaaf en vir die regspraak sorg.
30Van die Hebrongroep was Gasabja en sy ampsgenote, sewentien honderd bekwame manne, van die Jordaan af weswaarts belas met die opsig oor Israel vir alle werk van die Here en vir die koninklike diens. 31Van die Hebrongroep was Jerija die hoof volgens stamboom en familie. In die veertigste jaar van Dawid se regering is 'n opname van die Hebrongroep gemaak, en daar is in Jaser in Gilead bekwame manne onder hulle gevind. 32Jerija het twee duisend sewe honderd bekwame ampsgenote gehad, almal familiehoofde. Koning Dawid het hulle aangestel oor die stamme Ruben en Gad en oor die halwe Manassestam, vir alle sake wat in verband staan met die diens van God en met die diens aan die koning.

Currently Selected:

1 KRONIEKE 26: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy