YouVersion Logo
Search Icon

1 KRONIEKE 23

23
Dawid reël die diens van die priesters en die Leviete
1Toe Dawid oud word en sy einde begin nader, het hy sy seun Salomo koning oor Israel gemaak. 2Hy het ook al die ampsdraers van Israel, die priesters en die Leviete laat bymekaarkom. 3Toe hulle getel is, was die Leviete, die mans van dertig jaar en ouer, altesaam ag en dertig duisend. 4Van hulle moes vier en twintig duisend sorg dra vir die werksaamhede in die huis van die Here, en ses duisend die orde en regspraak behartig; 5vier duisend was poortwagte, en vier duisend moes sorg vir die lof van die Here op die instrumente wat daarvoor vervaardig is.
6Dawid het hulle ingedeel in groepe volgens die seuns van Levi: Gerson, Kehat en Merari.
7Onder die Gersoniete is Ladan en Simi gereken. 8Die seuns van Ladan was Jegiël, die hoof, Setam en Joël, hulle drie. 9Die seuns van Simi was Selomit, Gasiël en Haran, ook drie. Hulle was die familiehoofde van Ladan. 10Die seuns van Simi was Jagat, Sisa, Jeüs en Beria. Dit was die vier seuns van Simi. 11Jagat was hoof en Sisa tweede in rang. Jeüs en Beria het nie baie seuns gehad nie en vorm saam een diensgroep van die familie.
12Die seuns van Kehat was Amram, Jishar, Hebron en Ussiël, hulle vier. 13Die seuns van Amram was Aäron en Moses. Aäron is vir altyd afgesonder, hy en sy nageslag, om blywend die heilige diens in die Allerheiligste te verrig, om vir die Here wierookoffers te bring, Hom te dien en in sy Naam die seën uit te spreek. 14Wat Moses betref, die man van God, sy nageslag is by die stam Levi gereken. 15Die seuns van Moses was Gersom en Eliëser. 16Van die nageslag van Gersom was Subael die hoof. 17Van die nageslag van Eliëser was sy seun Regabja die hoof. Eliëser self het nie ander seuns gehad nie, maar Regabja het besonder baie gehad.
18Van die nageslag van Jishar was Selomit die hoof. 19Van die nageslag van Hebron was Jerija die hoof, Amarja die tweede, Jagasiël die derde en Jekamam die vierde. 20Van die nageslag van Ussiël was Miga die hoof en Jissija die tweede.
21Die seuns van Merari was Magli en Musi. Die seuns van Magli was Eleasar en Kis. 22Toe Eleasar gesterf het, het hy geen seuns gehad nie, net dogters. Hulle verwante, die seuns van Kis, het met hulle getrou. 23Die seuns van Musi was Magli, Eder en Jeremot, hulle drie.
24Dit is dan die Leviete volgens hulle families, die familiehoofde volgens hulle diensgroepe, soos hulle een vir een by name opgeneem is. Die Leviete van twintig jaar en ouer het die werksaamhede verrig in die diens van die huis van die Here.
25Dit het so gekom omdat Dawid gesê het: “Die Here die God van Israel het sy volk rus geskenk en Hy wil vir altyd in Jerusalem woon. 26Die Leviete hoef nie meer die tabernakel met al die toebehore vir sy diens te vervoer nie.”
27Dit is dus die getal Leviete van twintig jaar en ouer wat diens gedoen het soos Dawid dit kort voor sy dood gereël het. 28Hulle het die Aäroniete bygestaan in die diens van die huis van die Here. Hulle was verantwoordelik vir die voorhowe, die kamers, die reiniging van al die gewyde dinge en vir die werksaamhede van die tempeldiens. 29Hulle moes sorg vir die offerbrood, die meel vir die graanoffer, die ongesuurde brood, die bakplaat, die deegmengsel en vir elke inhouds- en lengtemaat. 30Hulle moes ook elke môre hulle plek inneem vir die dank en lof aan die Here, en so ook saans. 31Verder moes hulle help by die bring van al die offers vir die Here op sabbatte, nuwemaansfeeste en ander feestye. Dit moes voortdurend voor die Here geskied, volgens die reëlmaat wat daarvoor vasgestel is. 32So moes hulle al die nodige doen by die tent van ontmoeting, by die heiligdom, en saam met hulle ampsbroers die priesters in die diens van die huis van die Here.

Currently Selected:

1 KRONIEKE 23: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy