YouVersion Logo
Search Icon

1 KRONIEKE 11

11
Dawid word tot koning gekroon en neem Jerusalem in
(Vgl. 2 Sam. 5:1-3,6-10)
1Die hele Israel het gesamentlik na Dawid toe gekom in Hebron en gesê: “Ons is tog almal u eie mense! 2Selfs in die tyd toe Saul koning was, was u tog maar die een wat vir Israel in die oorlog aangevoer het. Die Here u God het vir u gesê:
“Jy moet vir my volk Israel 'n herder wees,
ja, jy moet heerser oor my volk Israel wees.”
3So het al die leiers van Israel by die koning in Hebron gekom. Toe het Dawid in Hebron in teenwoordigheid van die Here 'n verdrag met hulle gesluit. Daarna het hulle vir Dawid daar tot koning oor Israel gesalf. Dit was in ooreenstemming met die belofte van die Here deur Samuel.
4Dawid en die hele Israel het toe opgetrek teen Jerusalem, dit is Jebus. Die Jebusiete, oorspronklike inwoners van die land, het toe daar gewoon. 5Die inwoners van Jebus het vir Dawid gesê: “Hier sal jy nie inkom nie.”
Tog het Dawid die Sionsvesting ingeneem: dié is nou die Dawidstad. 6Dawid het destyds gesê: “Enigeen wat die eerste 'n Jebusiet neervel, word leier en aanvoerder!”
Joab seun van Seruja het toe eerste die stad ingegaan en hy het leier geword.
7Omdat Dawid toe in die vesting gaan woon het, noem hulle dit die Dawidstad. 8Hy het die stad rondom uitgebou, van die terras af verder, en Joab het die res van die stad herstel. 9Dawid het al hoe sterker geword, en die Here die Almagtige was by hom.
Dawid se dapper manne
(Vgl. 2 Sam. 23:8-39)
10Nou volg iets oor die leiers van Dawid se dapper manne. Hulle was sterk ondersteuners van sy koningskap en saam met die hele Israel het hulle hom op die troon geplaas, soos die Here aan Israel beloof het.
11Hier is 'n lys van die dapper manne: Jasobam seun van Gakmoni was hoof van die dertigtal. Hy het met sy spies drie honderd man in een veldslag laat sneuwel.
12Eleasar seun van Dodo uit Agoag was onder hom. Hy was een van die drie helde. 13Hy was by Dawid in Efes-Dammim toe die Filistyne daar vir die geveg bymekaargekom het. Daar was 'n stuk land vol gars, en toe die manskappe op die vlug slaan vir die Filistyne, 14het die drie dapper manne binne in die land stelling ingeneem en dit behou. Hulle het die Filistyne verslaan, en so het die Here vir hulle 'n groot oorwinning gegee.
15Op 'n keer het drie ander van die dertig leiers na Dawid toe gekom by die rots by die Adullamgrot. Die Filistynse kamp was in die Spooklaagte opgeslaan. 16Dawid was toe in 'n bergskuiling en die Filistyne het Betlehem beset. 17Dawid het baie dors geword en gesug: “Ag, as iemand my tog net water uit die put in Betlehem se poort kon laat drink!”
18Die drie het toe deur die Filistynse kamp geglip en water gaan skep uit die put in Betlehem se poort. Hulle het dit vir Dawid gebring, maar hy wou dit nie drink nie. Hy het dit as 'n offer vir die Here uitgegiet 19en gesê: “Mag God my daarvan bewaar dat ek dit sou drink. Sou ek die bloed van hierdie manne ten koste van hulle lewens wou drink? Hulle het dit met lewensgevaar gebring, en ek durf dit nie drink nie.”
Dit is wat die drie helde gedoen het.
20Joab se broer Abisai was die leier van hierdie drie. Hy het met sy spies drie honderd man laat sneuwel. So het hy vir hom onder die drie naam gemaak. 21Hy het 'n ereplek gehad in die tweede drietal en was hulle aanvoerder, maar een van die driemanskap het hy nie geword nie.
22Benaja seun van Jojada was die seun van 'n krygsman. Hy was 'n man van baie dade, afkomstig uit Kabseël. Dit is hy wat die twee sterk manne van Moab doodgemaak het, en hy wat op 'n sneeudag in 'n put afgeklim en die leeu wat daarin was, doodgemaak het. 23Hy het ook 'n Egiptenaar wat twee en 'n kwart meter lank was, doodgemaak. Die Egiptenaar het nogal 'n spies in sy hand gehad, so dik soos die dwarsbalk van 'n weefstoel, terwyl Benaja hom net met 'n stok gepak het. Hy het die spies uit die Egiptenaar se hand geruk en hom met sy eie spies van kant gemaak. 24Dit het Benaja seun van Jojada gedoen. So het hy vir hom onder die drie helde naam gemaak. 25Hy het 'n hoër rang gehad as die res van die dertig, maar een van die driemanskap het hy nie geword nie. Dawid het hom oor sy lyfwag aangestel.
26Die dapper manne was: Asael broer van Joab; Elganan seun van Dodo uit Betlehem; 27Samma uit Garod; Geles uit Pelet; 28Ira seun van Ikkes uit Tekoa; Abiëser uit Anatot; 29Sibbekai uit Gusa; Ilai uit Agoag; 30Marai uit Netofa; Geled seun van Baäna uit Netofa; 31Ittai seun van Ribai uit Gibea in Benjamin; Benaja uit Piraton; 32Hiddai uit Nagale-Gaäs; Abi-Albon uit Bet-Araba; 33Asmawet uit Bagurim; Eljagba uit Saälbon, 34die seuns van Jasen uit Gison; Jonatan seun van Sage uit Harar; 35Agiam seun van Sarar uit Harar; Elifal seun van Ur; 36Gefer uit Mekera; Agija uit Pelon; 37Gesro uit Karmel; Naärai seun van Esbai; 38Joël broer van Natan; Mibgar seun van Hagri; 39Selek die Ammoniet; Nagrai uit Beërot, wapendraer van Joab seun van Seruja; 40Ira uit Jeter; Gareb uit Jeter; 41Urija die Hetiet; Sabad seun van Aglai; 42Adina seun van Sisa uit Ruben, 'n Rubenitiese hoofman, in bevel van dertig; 43Ganan seun van Maäka; Josafat die Mitneër; 44Ussia uit Astarot; Sama en Jeïel, seuns van Gotam uit Aroër; 45Jediael seun van Simri; sy broer Joga uit Tis; 46Eliël uit Magawi; Jeribai en Josauja, seuns van Elnaäm; Jitma die Moabiet; 47Eliël, Obed en Jaäsiël uit Soba.

Currently Selected:

1 KRONIEKE 11: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy