YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 24

24
Die Here gaan die aarde verwoes
1Kyk, die Here gaan die aarde verwoes. Hy gaan die hele voorkoms van die aarde verander en sy inwoners verstrooi. 2Dieselfde lot gaan almal tref: die priesters en die volk, huisbediendes en hulle eienaars, lyfbediendes en hulle eienaresse, kopers en verkopers, mense wat geld uitleen en dié wat by hulle geld leen, bankiers en hulle debiteure. 3Die aarde sal geheel en al verwoes en leeggestroop word. Dit is wat die Here sê.
4Die aarde lê dor en droog as gevolg van die droogte. Die hemel en die aarde ly saam, 5want die aarde is deur sy inwoners verwoes. Hulle het God se woord verwerp, sy opdragte geïgnoreer en sy ooreenkoms verbreek wat vir altyd moes geld. 6Daarom tref ’n vloek nou die aarde en sy inwoners. Die mense dra die gevolge van hulle dade. Net ’n paar bly oor nadat ’n vuur alles verbrand het. 7Wyn sal skaars word omdat die wingerde verdroog het. Almal wat voorheen opgeruimd en vrolik was, treur nou. 8Die opgewekte musiek van harpe en tamboeryne het opgehou en die vrolike stemme van mense wat feesvier oor die oes, is doodstil. 9Niemand drink meer wyn en sing lekker saam nie. Vir dié wat nog drank drink, smaak dit galbitter. 10Die stad lê in puin en die huise het toegeval sodat niemand by hulle kan inkom nie. 11Mense loop in die strate en kerm vir wyn om te drink. Niemand is meer vrolik of opgeruimd nie, alle blydskap is weg. 12Die stad lê verlate en sy hekke lê in stukke gebreek. 13Dit is wat met elke nasie op die aarde sal gebeur. Dit sal lyk soos na die oes as al die olyfbome en wingerde kaal gestroop is van hulle vrugte en net die kaal takke oorbly.
14Maar dié wat gespaar gebly het, sal jubel en juig van blydskap. In die weste sal hulle die Here se grootheid besing. 15In die ooste vereer hulle Hom. Selfs die mense wat langs die kus bly, loof die Naam van die Here, die God van Israel. 16Van die uithoeke van die aarde af hoor ons liedere om die regverdige God se mag te besing. Maar my gemoed is swaar. Ek is ontnugter, want oral is bedrog aan die orde van die dag en oneerlikheid kraai koning. 17Luister na my, daar wag angs en slaggate en strikke vir die mense van die aarde. 18Dié wat van die gevaar af probeer weghardloop, beland in ’n slaggat en dié wat uit die slaggate wegkom, word in ’n strik gevang. As die wolkbreuke en die aardbewings losbars, 19sal die aarde uitmekaarbars en oopskeur. 20Die aarde sal steier en struikel soos ’n dronk mens en heen en weer geslinger word in die wind soos ’n tent in ’n storm. Die wêreld se skuld is so swaar dat dit hom platdruk. As hy val, sal hy nie weer kan opstaan nie.
21Op dié dag sal die Here die magte bo in die hemel straf en op die aarde sal Hy die regeerders straf. 22Hulle sal bymekaargemaak word soos gevangenes wat tronk toe gaan. Daar sal hulle vir lank opgesluit word voordat hulle verhoor en gestraf word. 23Dan sal die Here die Almagtige sy troon op die berg Sion in Jerusalem bestyg en in mag en heerlikheid regeer. Al die leiers van die wêreld sal dit sien. Sy mag en heerlikheid sal so geweldig wees dat dit die son en die maan dof sal laat lyk.

Currently Selected:

Jesaja 24: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy