YouVersion Logo
Search Icon

Sefanja 3

3
Jerusalem se opstand en herstel
1Slegte tye wag vir Jerusalem. Die mense van die stad is opstandig. Hulle is sleg en misbruik hulle eie mense. Hulle is nie vry mense nie. 2Hulle luister nie na die Here nie en wil nie reggehelp word as hulle verkeerd doen nie. Hulle vertrou nie die Here nie en dien Hom ook nie. 3Die amptenare in die stad behandel gewone mense sleg en buit hulle uit. Die regters tree onregverdig op en is gulsig. Hulle kyk net heeltyd wat hulle uit ander mense kan kry en dink net aan hulleself. 4Die profete tree onverantwoordelik op, ’n mens kan nie glo wat hulle sê nie. Die priesters het nie respek vir die tempel waarheen mense kom om die Here te aanbid nie. Hulle verdraai ook die opdragte van die Here na hulle smaak. 5Maar ten spyte van al hierdie verkeerde dinge, bly die Here nog in die stad. Hy doen nooit enige verkeerde dinge nie. Elke dag, sonder uitsondering, sorg die Here dat mense weet wat reg is, selfs al steur mense hulle nie daaraan nie. Feit van die saak is, hierdie slegte mense kry mos op geen manier skaam vir al die verkeerde dinge wat hulle doen nie.
6Die Here sê dat Hy al die verskillende volke heeltemal uitgewis het. Hy het hulle stede wat hulle sterker gemaak het en waarin hulle wegkruip as gevaar dreig, vernietig. Hierdie stede is nou verlate, daar is nie meer enige mense in die strate te sien nie. Niemand het in hierdie stede oorgebly nie, daar is nie ’n enkele inwoner oor nie. 7Die Here het gedink dat die mense van Jerusalem Hom nou sou respekteer na hulle alles gesien en gehoor het wat Hy kan doen, en dat hulle Hom voortaan sou gehoorsaam. Dan sou dit nie vir Hom nodig gewees het om die stad weer te straf nie. Maar nee, hulle het met meer energie as ooit tevore aangehou om verkeerde dinge te doen. Dit het die Here nie gelukkig gemaak nie. 8Die Here het toe vir Jerusalem gesê dat hulle reg moet wees vir wat voorlê. Die tyd van afrekening is om die draai. Hy sê Hy het besluit dat Hy volke en koninkryke iets van sy vreeslike woede gaan laat beleef. Hy kan hierdie volke nie verdra nie. Daarom sal Hy die hele wêreld iets laat ervaar van sy woede wat soos die hitte van ’n vuur alles verskroei.
9Die Here sê dat wanneer die tyd reg is, Hy die volke se gesindhede sal verander sodat hulle nie langer tot ander gode bid nie, maar Hom almal saam sal aanbid. 10Met die verloop van tyd het mense verspreid geraak en anderkant die riviere van Etiopië geland. In die tye wat kom, sal hierdie mense wat die Here nog dien, offers aan Hom bring.
11Die Here sê verder dat sy volk in die tyd wat kom, nie langer skaam sal hoef te kry oor alles wat hulle gedoen het toe hulle opstandig teen Hom was nie. Hy gaan ontslae raak van almal wat hoogmoedig en arrogant is. Daar sal nie langer plek wees vir mense wat te veel van hulleself dink as hulle Hom in die tempel kom aanbid nie.
12In Israel sal die Here net gewone mense wat nederig is en Hom vertrou, laat oorbly. 13Hulle sal mense wees wat nie ander kul en kwaad aandoen nie. Hulle sal ook mense wees wat nie leuens vertel en ander bedrieg nie. Hulle sal veilig en rustig lewe en sal vir niemand bang wees nie.
Sing uit blydskap
14Die mense van Israel moet hulle blydskap wys deur te sing en te juig. Elkeen se hart moet oorloop van blydskap en vreugde. 15Die Here sal hulle nie langer straf nie. Hy jaag ook al hulle vyande weg. Die Here is die koning van Israel en Hy bly by hulle. Hulle hoef daarom vir niks meer bang te wees nie. 16Die tyd het gekom dat Jerusalem se mense nie langer bang of moedeloos hoef te wees nie, 17want die Here is by hulle. Die Here is soos ’n held wat hulle kom red en hulle wenners maak. As Hy aan hulle dink, raak Hy baie opgewonde en bly. Sy liefde vir hulle maak Hom rustig en laat Hom tevrede voel. Hy sal sommer soos wat hulle by ’n fees maak, hardop sing om te wys dat hulle Hom bly maak. 18Die Here sê dat Hy al die rampe sal wegvat wat vir hulle swaarkry en hartseer gebring het. 19Binnekort sal Hy al die mense straf wat Israel se vryheid gesteel het. Die Here sal die hulpelose mense en dié wat uitgestoot is uit die samelewing help. Verder sal Hy ook hulle naam in ere herstel sodat hulle nie meer skaam hoef te wees nie. Die wêreld sal met nuwe oë na hulle kyk en hulle respekteer. 20Wanneer die tyd kom waarvoor hulle wag, sal die Here sy mense van oral af bymekaarmaak en hulle huis toe bring na hulle land toe. Hy sal sorg dat al die volke van die wêreld hulle ag en met respek behandel. Israel sal self beleef hoe hulle omstandighede vir hulle positief verander en hoe dit weer met hulle goed gaan. Die Here het gesê Hy sal sorg dat dit gebeur!

Currently Selected:

Sefanja 3: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy