YouVersion Logo
Search Icon

Rut 1

1
1-2Baie lank terug, in die tyd van die rigters voor Israel nog ’n koning gehad het, was daar hongersnood in die land. In dié tyd was daar ’n man met die naam Elimeleg. Hy het uit die gebied Efrata in die omgewing van Betlehem in Juda gekom. Hy het sy vrou, Naomi, en hulle twee seuns, Maglon en Kiljon, gevat en ’n tyd lank in die land Moab gaan bly. Terwyl hulle daar gebly het, 3is Elimeleg dood. Naomi en haar twee seuns het toe alleen in die vreemde land agtergebly. 4Die twee seuns het met twee Moabitiese meisies, Orpa en Rut, getrou. Omtrent tien jaar later 5is Maglon en Kiljon ook dood. Naomi was toe sonder enige familie van haar eie in die land Moab.
Naomi en Rut gaan terug Betlehem toe
6’n Rukkie later het Naomi, wat nog steeds in Moab gebly het, gehoor dat die Here dit weer beter laat gaan het in Juda en dat daar weer genoeg kos was. Sy en haar skoondogters besluit toe om terug te gaan na haar eie land.
7Op pad terug Juda toe 8sê Naomi vir haar skoondogters: “Gaan liewer terug na julle eie ouerhuise toe. Mag die Here julle met sy liefde versorg omdat julle so goed was vir my en julle mans. 9Ek bid dat die Here vir julle elkeen weer ’n goeie huweliksmaat sal gee.”
Toe sy hulle groet, het hulle begin huil 10en vir haar gesê: “Nee, ons gaan saam met Ma terug na Ma se mense toe.”
11Toe vra Naomi vir hulle: “Hoekom wil julle saam met my gaan? Ek het tog nie nog seuns met wie julle kan trou nie! 12Gaan eerder huis toe, ek is te oud om weer te trou. In elk geval, wat sou dit julle help? Al trou ek vandag en bring weer seuns in die wêreld, wat dan? 13Gaan julle wag tot hulle oud genoeg is om mee te trou? Gaan julle die kans om weer ’n goeie man te kry by julle laat verbygaan? Nee, my dogters, dis nie nodig nie. Dis erg genoeg dat ek voel die Here het die rug vir my gedraai. Moenie dit vir my en vir julleself nog swaarder maak nie.”
14Die twee skoondogters was baie hartseer hieroor. Orpa het toe haar skoonma gegroet en teruggegaan huis toe. Rut het egter haar skoonma styf vasgedruk en geweier om om te draai. 15Naomi het haar weer probeer oorreed om terug te gaan en vir haar gesê: “Jou skoonsuster is terug na haar eie mense toe waar sy weer haar eie geloof kan uitleef. Doen jy dit ook nou.”
16Dit is toe dat Rut vir haar sê: “Moenie my vra om om te draai en Ma alleen te los nie, ek sal dit nie doen nie. Ek gaan saam met Ma, waar Ma ook al heen gaan. Daar waar Ma besluit om te bly, sal ek saam met Ma bly. Ma se mense aanvaar ek as my eie mense, en die God wat Ma dien, is ook die God wat ek wil dien. 17Daar waar Ma eendag doodgaan, wil ek ook doodgaan en daar begrawe word. Mag die Here iets slegs aan my doen as iets anders as die dood ons twee sal skei.”
18Toe Naomi sien dat Rut vasbeslote is om saam met haar te gaan, het sy opgehou om haar te probeer ompraat om terug te draai. 19Hulle twee is toe saam Betlehem toe. Toe hulle daar kom, was die dorp in rep en roer en die vroue het verbaas gesê: “Maar dis mos Naomi!”
20“Moenie my Naomi noem nie,” sê sy toe, “noem my eerder Mara (wat bitter beteken), want vandat ons hier weg is tot nou toe het dit bitter swaar met my gegaan. Dit voel vir my of die Almagtige met al sy gewig op my kom druk het en ek nie meer een tree vorentoe kan gee nie. 21Toe ek hier weg is, was my lewe nog vol. Ek het toe ’n man en kinders gehad, maar die Here het my dolleeg laat terugkom huis toe, sonder my gesin. Hoekom sou julle my dan nog Naomi wil noem? Dit voel vir my of selfs die Here die rug vir my gedraai het; asof die Here vir wie niks onmoontlik is nie, besluit het ek moet maar self verder regkom.”
22Dit is dan hoe Naomi en haar skoondogter Rut, ’n jong Moabitiese vrou, uit Moab na Betlehem teruggekom het. Hulle het aan die begin van die garsoes daar aangekom.

Currently Selected:

Rut 1: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy