YouVersion Logo
Search Icon

Psalms 69

69
1Opgedra aan die musiekleier. Op die wysie van “Lelies”. ’n Dawidspsalm
2God, red my! Ek is in groot moeilikheid.
My probleme word net al hoe groter.
3Dit lyk nie of die gevaar gaan ophou nie. Ek voel of ek in modder wegsak.
My probleme kry my onder. Dit voel of ’n rivier oor my geloop het.
4Ek is moeg om hulp geroep. My keel is al seer van die smeek.
My oë het ook al ingegee soos ek kyk of God my nie sal kom help nie.
Ek wag heeltyd dat my God my moet kom help.
5Daar is so baie mense wat my haat, ek kan hulle nie eens tel nie. Hulle is meer as die hare op my kop.
Hulle staan reg om my tot ’n val te bring.
Hulle is te sterk vir my.
Al het ek niks van iemand anders gevat nie, moet ek nou al my goed vir hulle gee.
6God, U weet watter slegte dinge ek gedoen het.
Dis nie vir U ’n geheim dat ek verkeerd geleef het nie.
7Groot en magtige Here, groot Bevelvoerder, ek wil nie daardie mense wat op U vertrou, teleurstel nie.
Ek wil hulle wat by U kom hulp vra, nie in die skande bring nie, God van Israel.
8Omdat ek in U glo, kry ek baie swaar.
Ek word sleggesê. Hulle verkleineer my.
9My familie maak of hulle my nie ken nie.
My broers en susters keer my die rug toe.
10En dit omdat daar niks is wat ek meer geniet nie as om kerk toe te gaan. Maar die mense wat niks van U hou nie, skel my daaroor uit.
11Ek het baie gehuil en gevas. Ook daaroor het die mense my gespot en beledig.
12Ek het rouklere aangetrek om te wys dat ek hartseer is.
Maar daardie slegte spul het ’n grap van my gemaak.
13Mense in die dorp skinder van my. Dronklappe sing spotliedjies oor my.
14Maar ek bid tot U. By U vra ek hulp, Here! Antwoord my tog.
Wanneer die tyd vir U reg is, sal U my help, God.
U liefde vir u kinders is baie groot.
Omdat U getrou is, maak U ons lewe weer heel.
15Help my uit die gemors, Here! Moenie dat ek ondergaan nie. Laat my wegkom van die mense wat my haat.
16Moenie dat die water oor my gaan nie.
Gee dat probleme my nie onderkry nie.
Ek wil nie doodgaan nie.
17Help my, Here, want U is baie lief en goed vir my.
Vou my toe in u groot liefde. Ontferm U oor my.
18Ek dien U. Moenie u rug vir my draai nie, want ek is in baie groot nood.
Antwoord my tog.
19Help my tog gou! Kom red my!
Bevry my van hulle wat niks vir my omgee nie.
20Dis nie vir U ’n geheim dat hulle my beledig het en tot skande gemaak het nie.
U weet wat my vyande met my gedoen het.
21Al die spot en vernedering breek my moed.
Daar is geen krag meer in my oor nie.
Ek het gewag dat iemand my hand moet kom vat. Maar niks het gebeur nie.
Ek het gehoop dat mense my sal troos. Maar nie een het iets gedoen nie.
22Hulle het die lewe net nog moeiliker vir my gemaak.
In plaas van kos en water wou hulle my gif en slegte asyn injaag.
23Here, gee dat daardie spul tot ’n val sal kom.
Hulle dink dat niks met hulle sal gebeur nie. Hulle vier fees. Maar laat hulle val.
24Maak hulle blind.
Laat hulle bene ingee sodat hulle altyd kruppel sal wees.
25Tref hulle met u woede! Straf hulle. 26Verander hulle blyplek in chaos. Sorg dat niemand meer daar bly nie.
27Doen dit, Here, want hulle geniet dit dat mense onder u hand ly.
Hulle kry lekker oor die lyding wat U oor u kinders bring.
28Tel ook dit by hulle rekening wat hulle aan U verskuldig is. Moenie dat hulle ooit van hulle skuld vrykom nie.
29Vergeet vir altyd van hulle.
Hulle name mag nooit weer genoem word tussen mense wat U dien nie.
30Ek is ’n ellendige mens wat vol pyn is.
Beskerm my met u groot krag, God!
31Dan sal ek God loof! Sy Naam sal ek grootmaak in my liedere!
Ek sal vir Hom dankie sê.
32Dit is vir Hom belangriker as ’n baie groot offer.
33Almal wat swaarkry, sal my lofliedere hoor.
Hulle sal daaroor bly wees.
Julle wat by God gaan hulp soek, sal weer nuwe moed skep!
34Die Here help mense wat sy hulp vra.
Hy keer nooit die rug vir sy mense wat in die moeilikheid is nie.
35Alles in die skepping wat die Here gemaak het, moet Hom loof!
Alles dwarsoor die aarde moet Hom prys.
36Loof God, want Hy red sy kinders.
Hy maak hulle stukkende lewens weer heel.
Hy maak hulle lewens vol geluk.
Hy sal vir sy kinders ’n plek gee om in te bly.
37Hulle eie kinders sal dit eendag erf.
Daar sal almal wat die Here liefhet, vol blydskap woon.

Currently Selected:

Psalms 69: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy