YouVersion Logo
Search Icon

Psalms 55

55
1Vir die musiekleier, met snaarbegeleiding. ’n Gedig wat mense wil help om gelukkig te lewe. Opgedra aan Dawid
2God, hoor my tog as ek bid!
Moenie u rug vir my keer as ek by U om hulp kom vra nie!
3Steek u hand uit en help my!
Alles is deurmekaar in my kop.
Ek weet nie wat om te doen nie.
Binne-in my woel dit heeltyd.
4Mense wat niks van my hou nie, los my nie uit nie. Slegte mense maak die wêreld vir my bitter moeilik. Hulle praat aanmekaar kwaad van my.
Hulle behandel my soos ’n vloerlap.
5Ek kan dit nie meer uithou nie.
Alles word net te veel vir my.
6Ek is bang om dood te gaan.
Ek bewe soos ’n riet van vrees.
7Ek het by myself gedink: As ek maar net kan wegvlug van hierdie probleem af. Ek sou op ’n ander plek gaan bly het.
8As ek vlerke soos ’n voël gehad het, het ek ver weggevlieg.
Ek sal so ver wegvlug dat niemand my kan kry nie.
9Op ’n eensame plek sal ek haastig gaan wegkruip.
Daar sal ek veilig wees teen al die mense wat niks van my hou nie.
10Slaan daardie mense wat my wil seermaak heeltemal uitmekaar, Here! Gee dat hulle mekaar nie sal verstaan nie.
Al wat hulle kan doen, is baklei.
11Hulle is ’n spul moeilikheidmakers. Wat hulle doen, is nie reg in u oë nie.
12Hulle lieg en bedrieg sonder ophou. Hulle steel dinge wat aan ander behoort.
13Die slegste van alles is dat dit nie my vyand is wat my so verneder het nie.
Anders kon ek dit nog verdra.
Dit was ook nie iemand wat niks van my hou nie. Anders kon ek uit sy pad probeer bly.
14Nee, dit is jy, my beste vriend! Ons ken mekaar baie goed.
Ek het jou met my lewe vertrou. 15Saam het ons groot geheime met mekaar gedeel.
Ons het saam kerk toe gegaan om saam met ander gelowiges die Here te dien.
16Maak hierdie slegte mense dood, Here!
Ek wens dat hulle sommer in ’n oogwink sal verdwyn. Hulle leef net om kwaad te doen.
Hulle is deur en deur sleg.
17Ek leef net uit God se hand. Tot Hom bid ek.
Die Here sal my uit hierdie probleem red.
18Enige tyd van die dag of nag kan ek met Hom praat. Ek kla en sug.
Ek sal vir die Here sê wat my pla. Ja, ek sal heeldag my hart vir Hom oopmaak.
Hy weet wat my ongelukkig maak.
Hy help my as ek sy hulp vra.
19Hy sal my red. Ek sal weer in vrede met alle mense kan lewe.
Daar is so baie mense wat die wêreld vir my moeilik maak.
20God sal help as ek Hom vra.
Hy sal daardie skurke straf vir alles wat hulle aan my gedoen het.
Hy regeer nog altyd.
Hy sal hulle straf omdat hulle nie omdraai en agter Hom aanloop en Hom dien nie.
21Daardie oneerlike mense is baie glad met die mond. Hulle praat mooi woordjies, maar hou nie by hulle beloftes nie.
22Hulle woorde klink so goed, maar maak baie seer. Hulle is op die oorlog uit. Hulle maak mense dood.
23Los jou bekommernisse in die Here se hand! Hy sal vir jou sorg!
Hy sal niemand wat Hom dien, ooit in die steek laat nie.
24Maar, God, U sal daardie skelms straf. U sal hulle vernietig.
Hulle is oneerlik. Hulle wil ander mense se lewe vernietig.
U sal hulle laat sterf terwyl hulle nog baie jonk is.
Ek sal net op U vertrou, Here!

Currently Selected:

Psalms 55: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy