YouVersion Logo
Search Icon

Spreuke 30

30
Die wyse woorde van Agur
1Die woorde van Agur, die seun van Jake, van Massa. Dit is belangrike woorde aan Itiël en Ukal.
2Ek is dom. Ek weet net mooi niks nie. 3Ek het nooit gaan leer nie. Van die Allerheiligste weet ek te min.
4Wie kan die Here deurgrond? Wie het al hemel toe gegaan en teruggekom? Dit is onmoontlik om Hom volledig te ken. Wie het al die wind met sy hande teruggehou? Wie kan al die waters van die see met sy klere opskep? Wie ken die afmetings van die aarde? As jy so ’n persoon ken, sê my wat sy naam is. Vertel my ook wat sy seun se naam is.
5Elke woord van die Here is waar. Jy kan daarop reken. Wie by Hom wegkruip, is veilig. Hy beskerm elkeen. 6Moenie die Here se woorde verdraai of verkeerd uitlê nie. Hy sal jou straf en die mense sal nie meer na jou luister nie.
7Here, daar is twee dinge wat ek van U vra. Twee dinge wat ek graag in hierdie lewe wil hê: 8laat my nie ’n vals mens wees nie, laat ek nie ander belieg en bedrieg nie. Laat my nie ryk of arm wees nie. Gee U my net wat ek elke dag nodig het 9sodat ek nie ryk word en ophou om U lief te hê, of arm word en begin steel en so u wet oortree nie.
10Moenie iemand by sy baas loop en beskinder nie. Hy sal dit uitvind en dan is jy in die moeilikheid.
11Daar is vier soorte mense uit wie se pad jy moet bly: kinders wat hulle ouers vloek en mishandel; 12mense wat dink hulle is goed, maar wat nie hulle eie tekortkomings besef nie; 13arrogante mense wat te veel van hulleself dink, en 14wrede mense wat ander doodmaak en niks vir die armes en die swakkes omgee nie.
15Iemand wat altyd meer en meer wil hê, ken net twee woorde: gee, gee.
16Daar is drie “dinge” wat nooit tevrede gestel kan word nie, vier wat nooit genoeg kry nie: dit is die dood, die moederskoot van ’n kinderlose vrou, ’n dorre landskap tydens droogte en ’n vuur wat aanhou brand.
17Iemand wat sy ouers verag en hulle sleg behandel, sal tragies sterf. Hy sal in die veld dood lê en die roofvoëls sal sy oë uitpik.
18Daar is drie dinge wat net te wonderlik is om te verstaan, vier wat ek hoegenaamd nie kan begryp nie: 19die gemak waarmee ’n arend in die lug rondvlieg; die manier waarop ’n slang geruisloos oor ’n rots seil; die manier waarop ’n skip op die oop see ronddryf, en die liefde van ’n man vir ’n vrou.
20’n Los vrou verontskuldig haarself altyd. Sy is soos iemand wat skelm eet, haar mond afvee en dan sê sy het niks verkeerds gedoen nie.
21Daar is drie dinge wat ’n land op die randjie van ’n afgrond bring, vier wat hom heeltemal kan verwoes: 22die skoonmaker wat president word; ’n dom mens wat hom net vol eet, maar niks wil doen nie; 23’n vrou wat nie liefde ken nie en dan tog ’n man kry; ’n werkster in ’n lae rang wat sommer die baas word.
24Daar is vier diertjies wat baie klein is, maar buitengewoon slim is: 25miere is nie juis baie sterk nie, maar hulle weet baie goed dat hulle in die somer kos vir die winter moet wegbêre; 26klipdassies is ook nie sterk nie, maar hulle het dit tog reggekry om in rotsskeure te bly; 27sprinkane het nie ’n koning nie, maar hulle tree gedurig soos een man op, en 28akkedisse is so klein, jy kan hulle sommer met jou hand optel, maar hulle weet presies hoe om in die duurste huise van die rykste mense te kom.
29Daar is drie dinge wat indruk maak, vier wat ’n mens altyd sal onthou: 30die leeu wat oor die diereryk heers en vir niemand terugstaan nie; 31die haan wat triomfantlik oor die henne heers; die ram aan die voorpunt van sy trop; die koning wat sy troepe uitlei.
32As jy so dom was om groot te praat of verkeerde dinge te beplan, hou dan dadelik daarmee op. 33So seker as wat ’n mens melk skud en dit botter word, iemand op die neus slaan en dit begin bloei, iemand kwaad maak en daar rusie ontstaan, net so seker kom jy in die moeilikheid as jy nie jou domheid los nie.

Currently Selected:

Spreuke 30: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy