YouVersion Logo
Search Icon

Spreuke 29

29
Wysheid help jonk en oud
1’n Hardkoppige mens wat nooit na ander luister nie, sal hom nog lelik vasloop.
2As ’n gelowige die mag oorneem, juig die mense. As slegte mense aan bewind kom, kla die volk.
3’n Jongmens wat graag reg wil leef, maak sy ouers baie bly. Wie prostitute besoek, mors swaarverdiende geld.
4Slegs wanneer politieke leiers reg regeer, gaan dit in ’n land voorspoedig. Hoë belasting kan ’n volk knak.
5Loop katvoet vir die man wat jou altyd loop en vlei. Hy bedoel dit nie regtig nie. Dit is soos ’n net wat hy oor jou gooi en waaruit jy nie kan loskom nie.
6’n Slegte mens se verkeerde dade is soos ’n gat waarin hy self val. ’n Gelowige is ’n gelukkige mens. Hy sing van vreugde.
7’n Gelowige weet dat hy ’n arm mens moet help. ’n Slegte mens steur hom nie aan die armes nie. Hy sal hulle nooit help nie.
8Dom mense sweep maklik ’n groep op. Wyse mense weet hoe om die woede te laat bedaar.
9Dis nie die moeite werd om met ’n dom mens te argumenteer nie. Hy lag jou net uit. Daar kom nie rus nie.
10Mense wat ander graag seermaak, hou niks van gelowiges nie. Vir hulle wat die Here ken, is die lewe wonderlik.
11’n Dom mens verloor oral en altyd sy humeur. ’n Wyse beheer homself.
12As die land se president oneerlik is, is die staatsdiens kort voor lank korrup.
13’n Arm mens en die een wat hom onderdruk, is albei die handewerk van God. Hy weet wat hulle doen en sê.
14As ’n regering vir die armes omgee, sal hulle altyd onthou word.
15Tug en dissipline help ’n kind om reg te leef. Die kind wat aan homself oorgelaat word, is ’n skandemaker.
16Wanneer slegte mense regeer, heers wanorde en korrupsie. Gelowiges weet dat so ’n regering tot ’n val sal kom.
17Tug jou kind en hy is jou trots. Dissiplineer hom en hy maak jou gelukkig.
18Waar die woord nie gehoor word nie, doen mense net wat hulle wil. Wie die wil van die Here ernstig opneem, is ’n gelukkige mens.
19Iemand wat vir jou werk, luister nie altyd na wat jy sê nie. Hy verstaan wat jy sê, maar hy steur hom eenvoudig nie aan jou nie.
20Ken jy iemand wat praat voordat hy dink? Wel, daar is vir ’n dom mens meer hoop om te verander as vir hom.
21Jou werker moet presies weet waar hy met jou staan. As dit nie gebeur nie, kan jy groot skade ly.
22Iemand met ’n vinnige humeur veroorsaak moeilikheid. Iemand se woedeuitbarstings doen grote skade.
23Iemand wat baie van homself dink, word hard grond toe gebring. Iemand wat nederig is, dwing respek af.
24Wie gesteelde goed koop, is net so skuldig. Hy weet dit is verkeerd, maar steur hom nie daaraan nie.
25Angs is soos ’n strik waarin jy vasgevang word. Jy kom nie los nie. Wie die Here vertrou, voel veilig.
26Mense kruip by invloedrykes om gunste te kry. Vertrou eerder op die Here. Hy sal jou saak hanteer.
27’n Gelowige wil niks met ’n slegte mens en sy verkeerde dade te make hê nie. ’n Ongelowige kan iemand wat reg leef nie verdra nie.

Currently Selected:

Spreuke 29: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy