Spreuke 17
DB
17
Wees tevrede
1Eerder met min klaarkom en gelukkig wees, as om oorvloed te hê en heeltyd te baklei.
2Iemand wat niks het nie, kan deur harde werk baie bereik. Hy kan selfs ’n hoë pos beklee en belangrike besluite neem.
3Soos ’n onderwyser jou kennis toets, so toets die Here ons ook. Hy wil vasstel hoe eg ons liefde vir Hom is.
4’n Mens wat die Here verag, luister graag na smerige praatjies oor seks, geweld en moord. Hy kan nooit genoeg daarvan kry nie. ’n Leuenaar kan ook nie met sy gelieg ophou nie. Hy hou net aan en aan.
5Wie vir armes se eenvoud lag, spot met die Here. Wie hom in hulle ellende verlustig, sal gestraf word.
6Kleinkinders verskaf hulle oupas en oumas hope geluk en vreugde. Kinders wat trots is op hulle ouers, staan sterk.
7Keurige taal hoor jy nie sommer by ’n domme nie. Leuens en vuiltaal verwag jy tog nie van iemand wat jy respekteer nie. 8Omkoopgeld help mense. Dit kan baie deure vir hulle oopsluit.
9As jy mense vergewe wat jou te kort doen of sleg van jou praat, verstaan jy God se liefde baie goed. Wie iemand altyd verwyt of hom aan sy skuld herinner, verloor gou al sy vriende.
10’n Persoon wat die Here ken, luister as iemand hom op sy foute wys. Hy neem dit ernstig op en dink daaroor na. ’n Dom mens kan jy slaan en slaan, maar hy hou aan om verkeerd te doen.
11Moeilike mense maak met almal rusie. Op ’n dag sal hulle nog hulle moses teëkom.
12’n Woedende leeuwyfie wie se kleintjies van haar af weggeneem is, is nie naastenby so gevaarlik soos al die onsin wat ’n dom mens praat nie.
13As jy mense wat vir jou lief is, sleg behandel, vernietig jy eintlik jouself. Jy sal ’n baie ongelukkige mens word.
14’n Rusie begin altyd klein en word dan erger en erger. Dit is soos ’n damwal. Eers is die lek klein, en dan breek die wal. Keer die rusie voordat dit te ver gaan.
15Die Here hou niks van mense wat verkeerde dinge goedpraat en gelowiges afkraak nie.
16Wysheid kan ’n mens nêrens koop nie. Net mense wat nie die lewe ken nie, dink hulle kan groot somme geld daarvoor betaal.
Oppas! Leef versigtig
17Kies jou vriende versigtig. ’n Ware vriend sal jou deur dik en dun bystaan. Soos ’n goeie broer is hy altyd by jou. ’n Mooiweersvriend sal jou net ondersteun terwyl dit goed gaan.
18Pas op vir finansiële risiko’s, vir lenings waaraan jy swaar afbetaal. Moet tog nie vir iemand borg teken nie. Dit is ’n dom ding. Jy gaan aan die kortste ent trek.
19Wie mense beledig, lok rusie uit. Wie baie van homself dink, word verneder.
20’n Mens wat met niks tevrede is nie, sê nooit iets goeds van ander nie. Hy kraak net heeltyd af. Niks is ooit reg nie. Later wil niemand met hom bevriend wees nie.
21Dit is nie lekker vir ouers as ’n kind die Here verwerp en nie weet hoe om reg te leef nie. Dit maak hulle diep ongelukkig.
22Vreugde en geluk is goed vir jou gesondheid. Depressie kan jou knak.
23’n Slinkse mens kan maklik omgekoop word. Hy sal selfs die waarheid vir ’n paar rand verdraai.
24Die gelowige wil graag reg leef. Hy soek heeltyd na wysheid. ’n Dwaas stel net in oppervlakkighede belang.
25’n Ongelowige kind is vir sy ouers ’n groot hartseer. Partykeer is hy ook ’n groot verleentheid vir hulle.
26Dit is sleg as onskuldige mense ly, as gerespekteerde mense onbillik behandel word.
27Wie let op wat hy sê, verstaan wat wysheid is. Wie sy humeur in toom hou, ken die regte lewenstyl.
28Selfs ’n dwaas tree reg op wanneer hy sy praatlus bedwing. As hy geheime kan hou, is hy slim.

2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.

Learn More About Die Boodskap