YouVersion Logo
Search Icon

Spreuke 1

1
1Die boek Spreuke is in die tyd van Dawid se seun Salomo geskryf. 2Al die spreuke wil ons wys hoe om te leef. Dit is bedoel om mense wys en gelukkig te maak. Hierdie spreuke moet jy jou eie maak, want dit wil die volgende doen: 3dit wil jou die kuns van die lewe aanleer, jou met ’n gedissiplineerde lewenstyl help. Dit wil jou leer wat reg en billik is.
4Dit wil jou insig gee. Dan sal jy ’n goeie aanvoeling hê vir wat reg en gepas is in elke omstandigheid waarin jy beland.
Dit wil onervare gelowiges leer hoe om reg te leef. Vir jongmense ook.
5Dit wil die gelowiges wat klaar weet hoe om reg te leef, nog meer kennis gee en vir dié wat reeds insig het, nog meer lewensvaardighede. 6So sal hulle al die spreuke nog beter verstaan. Hulle sal snap wat wyse mense sê.
7Lewensgeluk begin by liefde vir die Here. Sonder liefde is daar geen lewensvreugde nie. Iemand wat die Here nie liefhet nie en ook nie weet hoe om reg te leef nie, is dom. Hy verag ook al die spreuke.
Ouerlike tug maak jou ’n mooi mens
8’n Jongmens moet die waarhede wat sy pa hom leer, ernstig opneem. Sy ma se lewenswaardes moet hy nie in die wind slaan nie. 9Ouers se liefdevolle dissipline maak ons mooi mense. Dit is soos klere wat ons lewe versier.
Pas op vir slegte geselskap
10As glibberige mense jou deel wil laat hê aan hulle gekonkel, moet jy weier. Pas op as hulle vir jou sê: 11-14“Kom ons kul onskuldige mense. Ons laat goeie mense niksvermoedend in ons strikke inloop. Dan gaan hulle onder. Dan vat ons hulle goed en verryk onsself. Kom, wees deel daarvan.”
15Jongmens, moet tog nooit met sulke mense meng of met hulle saamwerk nie. Hulle doen altyd wat sleg is. 16Hulle is altyd haastig om ander seer te maak. Hulle gee nie om om iemand dood te maak nie. 17’n Voëlnet word tog nie voor voëls gegooi nie. Hulle sien dit en vlieg weg. 18Slegte mense is egter anders. Hulle sien nie die net nie en word daarin verstrengel. 19Hulle draai hulle vaster in hulle eie sonde. En op ’n dag is dit klaarpraat met hulle. Sonde kos hulle hulle lewe.
Daarom: verander jou lewe
20Lewenswysheid is soos ’n predikant wat in die strate en die groot bymekaarkomplekke preek. 21Sy loop die stad plat en verkondig haar boodskap oral: 22“Hoe lank sal julle, geestelik onvolwassenes, met julle onvolwassenheid aanhou; sal julle, ligsinniges, met ’n gelukkige lewenswandel spot; sal julle, dommes, ware kennis vertrap?
23“Bekeer julle! Luister na my woorde! Dan sal ek julle met al die spreuke wys hoe om reg te leef. Ek sal julle vertel hoe om geluk te vind.
24“Waarom luister julle nie as ek praat nie? Waarom steek ek die hand van vriendskap na julle uit en julle verwerp dit? 25Al my goeie raad oor die lewe het julle in die wind geslaan. Aan my woorde het julle julle nie gesteur nie.
26“Omdat julle, dommes, julle eie ondergang bewerk, sal ek julle nog eendag uitlag en met julle spot. 27As vrees julle beetpak, as paniek julle soos ’n magtige stormwind oorweldig, as ellende julle soos ’n onverwagse warrelwind tref, as angs julle deel word, sal ek met julle spot.
28“Dan sal julle skielik by my wil weet hoe om te leef, maar ek sal julle nie sê nie. Vinnig sal julle by my insig soek, maar niks kry nie.
29-31“Omdat julle egte lewenskennis verag het, die Here nie liefgehad het nie, alle raad vir ’n gelukkige lewe in die wind geslaan het; daarom sal julle die vrot vrugte van julle verskriklike dade proe. Julle slim ou plannetjies sal julle nog walg. 32Dom mense loop hulle in die dood vas. Hulle is so selfversekerd, maar hulle word vernietig.
33“Wie die wysheid ernstig opneem, is ’n gelukkige mens. Hy sal veilig voel en geen angs vir die lewe hê nie.”

Currently Selected:

Spreuke 1: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy