YouVersion Logo
Search Icon

Matteus 7:13-23

Matteus 7:13-23 DB

“Natuurlik is dit nie maklik om te doen wat die Bybel vra nie. Die pad wat na God se nuwe wêreld toe lei, is baie moeilik en ook bitter smal. Min mense loop daarop omdat dit groot opofferings vra. Aan die ander kant is die pad wat na die hel toe lei, maklik om op te loop en baie breed. Baie mense loop daarop. Span julle daarom in om op God se smal pad te bly stap.” “Julle moet lig loop vir mense wat die goeie nuus verdraai. Hulle kom na julle toe met allerhande mooi godsdienstige praatjies, maar eintlik is hulle so gevaarlik soos ’n spul wolwe. Dit is maklik om hierdie mense uit te ken. Kyk maar net hoe hulle leef. As hulle heeltyd verkeerde dinge doen, wys dit dat hulle ’n spul leuenaars is. “’n Mens se lewe is soos ’n vrugteboom: goeie vrugtebome dra goeie vrugte en slegte bome dra slegte vrugte. ’n Goeie boom kan tog nie slegte vrugte dra nie en ’n slegte boom kan ook nie goeie vrugte oplewer nie. Daar wag groot probleme op alle bome wat slegte vrugte dra. Hulle word eenvoudig afgekap en in die vuur gegooi. Dus, as julle wil weet watter mense die goeie nuus verdraai, moet julle maar net gaan kyk hoe hulle leef. Hulle lewens wys watter soort vrugte hulle dra. “Daar is baie mense wat maak asof hulle My dien. Hulle noem My om elke hoek en draai ‘Here en Meester’. Daar wag egter ’n groot verrassing op hulle. My Vader gaan glad nie vir hulle plek hê in sy nuwe wêreld nie. Net daardie mense wat doen wat Hy vra, sal by Hom welkom wees. “Wanneer die laaste dag op die aarde aanbreek, sal Ek self kom om oor almal te oordeel. Dan sal al hierdie skynheilige mense voor My kom staan en vir My sê: ‘Here en Meester, onthou U dan nie watter groot dinge ons alles in u Naam gedoen het nie? Ons het gepreek, duiwels uit mense verdryf en allerhande magtige dade gedoen.’ “Weet julle wat Ek dan sal antwoord? Ek sal dan vir hulle sê: ‘Ek ken julle van g’n kant af nie. Julle spul slegte mense verdien die hel. Gee dadelik pad voor My!’”

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy